Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
Vinette, Anna-Mart onder KKNK se vereerdes
Grant van Ster en Shaun Oelf, stigters van die Figure of 8 Dance Collective; Vinette Ebrahim, Schalk Joubert en dr. David Piedt met hul Kunste Onbeperk-pryse. Foto: Nardus Engelbrecht

Die aktrises Vinette Ebrahim en Anna-Mart van der Merwe, die baskitaarspeler Schalk Joubert, die voormalige KKNK-direksievoorsitter dr. David Piedt en die dansgroep Figure of 8 Dance Collective is elk met ’n Kunste Onbeperk-prys vereer.

Kunste Onbeperk, wat jaarliks die KKNK aanbied, het die pryse Donderdagaand in die spoggerige Zeitz-museum vir kontemporêre Afrika-kuns in Kaapstad uitgedeel “aan groepe of individue wat ’n enorme impak in die kunste gemaak het”.

Die KKNK se feesprogram is ook tydens die geleentheid bekend gestel. Die fees word vanjaar van 23 tot 29 Maart in Oudtshoorn aangebied.

Ebrahim het volgens ’n mediaverklaring die Kunste Onbeperk-inspirasieprys ontvang “vir haar werk op die verhoog, TV en film, maar ook vir haar rol as aktivis en rolmodel”.

Sy het aan Netwerk24 gesê dit was “nogal vir my ’n skok” toe sy ’n oproep van Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, kry om haar oor die eerbewys in te lig.

“ ’n Mens wonder altyd hoe gebeur sulke goed, veral as jy die inspirasieprys kry. Ek het gewonder wat ek gedoen het om dit te verdien,” sê Ebrahim.

“Toe ek hoor wat die mense (Henry Mylne en prof. Jacques du Toit) in hul commendatio’s oor my sê, het ek gedink: ‘Sjoe! Ja, ek het dit gedoen!’ Ek was werklik aangenaam verras.”

Ek dink om met haar (Nicola Hanekom) as regisseur te werk, is vir my ’n droom. Dit was iets op my bucket list; nou kan ek dit af merk
Vinette Ebrahim

Ebrahim, wat tans saam met onder andere Joey Rasdien, June van Merch en Quanita Adams die rolprent Barakat verfilm, is by vanjaar se KKNK in Nicola Hanekom se plekspesifieke stuk Mirre en aalwyn te sien.

“Dit is vir my so opwindend – ek kan nie wag nie!” sê sy. “Ek dink om met haar (Hanekom) as regisseur te werk, is vir my ’n droom. Dit was iets op my bucket list; nou kan ek dit af merk.”

Van der Merwe, wat met die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking vereer is, kon nie die glansgeleentheid bywoon nie omdat sy die première van die rolprent Poppie Nongena in Johannesburg moes bywoon.

Sy het volgens ’n mediaverklaring ’n emosionele toespraak per video gelewer, waarin sy die teater as haar “akteurshart se tuiste” beskryf het.

“Julle sal nie weet wat dit (die prys) vir my beteken nie,” het sy gesê. “Vir ons as akteurs – seker enige kunstenaar – draf die ou swart hond van vertwyfeling en bevraagtekening maar altyd saam met jou en hap-hap die heeltyd so aan jou hakskeen, so hierdie is regtig soos ’n tipe kombers wat ’n mens om jou kan vou, wat krag en inspirasie gee.”

Joubert is met die Kunste Onbeperk-kruispuntprys vereer, terwyl Piedt die Kunste Onbeperk-prys vir bydrae tot die KKNK ontvang het. Figure of 8 Dance Collective is met die Kunste Onbeperk-prys vir jong stem bekroon.

Volgens die mediaverklaring sal al vanjaar se vereerdes in verskillende produksies by die KKNK te sien wees.

Meer oor:  Anna-Mart Van Der Merwe  |  Kknk  |  Vinette Ebrahim
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.