Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
Vroue vreesloos in stukke op KKNK vanjaar

Dit was ’n baie sterk jaar vir vroue op die 24ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn.

Die kollig was op skittervertolkings deur aktrises in gewigtige rolle. Twee aktrises was die eerste keer in die regiestoel, dramas is deur vroue geskryf en toneelstukke wat vraagstukke oor vroue uitlig was aan die orde.

Ingrid Winterbach se We Are All Freaks Here belig nie net die lot van die Khoi-vrou Sarah Baartman wat oorsee as frats uitgestal is in die 19de eeu nie, maar ook die posisie van die vrou vandag. Die aktrise Nicole Holm debuteer daarmee as regisseur en Lee-Ann van Rooi is kragtig in die hoofrol.

Babbelagtig was een van die vlagskipproduksies by die KKNK. Foto: Nardus Engelbrecht

Die drama Melk & vleis deur die dramaturg Marina Albertyn toon ’n onafhanklike vrou, treffend gespeel deur Illse Roos, wat haar beroep prysgee vir ’n huwelik wat haar later vasknel.

En twee vroue vertolk deur Holm en Anna-Mart van der Merwe het ook die oorhand in die futuristiese Swerfgoed deur Bauke Snyman.

  • Die leefwêrelde van vroue in verskillende tydperke in hul lewe kom ook treffend onder die loep in heelparty solovertonings: Antoinette Kellermann as ’n sterwende vrou wat terugkyk op haar lewe in Hierdie lewe, Cintaine Schutte as ’n eensame enkellopende vrou in haar dertigs in Half-leeg, Milan Murray as ’n enkellopende werkesel wat in haar vyftigs afgelê word by die werk in Weerkaats, terwyl You Suck ’n tienermeisie uitbeeld wat haar bes probeer om aan te pas by haar nuwe skool. Klara van Wyk speel daarin en het ook die teks geskryf. En in Mike & Mavis vind ’n weduwee weer liefde in haar grysjare. Elk van die stukke vat ’n stukkie waarheid vas en kaats dit terug aan sy gehore.

Die KKNK, trouens enige kunstefees, bly ’n plek waar ’n veelheid van stemme duidelik gehoor kan word. Dit is vreeslose stemme wat van intieme sake tot landsake takel. Sommiges met erns, ander spottend. Soos dié van drie broers in Nêrens, Noord-Kaap, wat onder meer toon hoe verlies ’n gesin uitmekaartrek.

Die kabaret van die Universiteit Stellenbosch, Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika, steek die draak met transformasie deur ’n kompetisie voor te stel waar mense moet bewys hoe getransformeer hulle nou eintlik is.

Dan besin die komediant Hannes Brümmer in Wie is jou pappa? oor wat vaderskap aan ’n man doen, en Neels van Jaarsveld in Op my eish! oor verlore anonimiteit en die eise wat ’n bekende gesig stel.

Die derde aanbieding van die Uitkampteater, kort toneelstukke wat al om die halfuur in klein tentjies voor die burgersentrum opgevoer word, bly een van die KKNK se blinkste en opbouende onder­nemings. Vanjaar het vele nuwe stemme opgeklink – stemme wat net al hoe sterker gaan word in ons bedryf. Eie verhale is na die planke gebring met ’n rou eerlikheid wat verstom. Beide Brandmerk en Lolly fokus op kindermolestering en die uitwerking daarvan op ’n kind, terwyl Die Meermin-kompleks toon hoe ’n gay skoolseun getreiter word oor sy seksualiteit.

Die verskeidenheid in die tentjies wissel van ligte romantiese vermaak soos Van ganser harte, sjarmant vertolk deur Des-Lee McKenzie en Ian van der Westhuizen, tot verskeie eie verhale uit die Oudtshoorn-gemeenskap in Lappieskonsert. Van verlede jaar se Uitkampers het ook hul eie vertonings in Die Parlement-venue aangebied: Des Lee McKenzie Nog meer Irrasioneel en Valencia, ’n kabaret deur Faith Kinniar.

Een van vanjaar se vlagskip­produksies, Babbelagtig, het begogel met narrespel, bewegingskuns en vertolkings van die ensemble.

Bewegingsteater is ook aangewend in Moord in Ixiastraat: ’n Bal-oog-en-Brommel-avontuur, geïnspireer deur die strokieboek van Sjaka Septembir. En Fotostaatmasjien, gegrond op die digkuns van Bibi Slippers, snoer ook bewegingskuns en voordrag saam.

Hoogtepunte van die 24ste KKNK:

1. Hierdie lewe

2. Babbelagtig

3. Nêrens, Noord-Kaap

4. Die laaste ding op die Uitkampteater

5. Gif/Poison/Ityhefu

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.