Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Beleef gewilde ‘Karoo Suite’ as inryteater op Suidoosterfees

Die skrywer Deon Meyer en sanger Coenie de Villiers se gewilde suites ter viering van die Karoo word vanjaar op 30 April en 1 Mei as inryproduksies aangebied by Atlantic Studios in Montague Gardens naby Kaapstad. Dit vorm deel van die Suidoosterfees en is reeds met groot aanhang op kunstefeeste en in teaters landwyd opgevoer.

Die produksies Karoo Suite en Karoo Suite 2 word as liefdesbriewe aan die unieke landstreek beskryf.

De Villiers en Meyer het die eerste produksie, Karoo Suite, in 2017 geskep vir die KKNK. De Villiers het die musiek gekomponeer terwyl Meyer die teks geskryf het.

Meyer lees self sy Karoostories voor en De Villiers is agter die klawers in die inryteater-weergawe. Die eerste produksie bestaan uit vier bewegings, “Genade Karoo”, “Storie Karoo”, “Omgee Karoo”, en die laaste beweging is die “Karoo Simfonie”.

In ’n onderhoud met Mariana Malan het Meyer gesê die teks gaan oor die aard, waardes en mense van die Karoo. Foto’s geneem deur Meyer asook fotograwe van National Geographic en Nasa word op ’n doek geprojekteer en in die laaste beweging vloei dit ineen.

Suite 2 is ’n voortsetting op die eerste. Teatergangers kan dus uitsien na vertonings waarin musiek, beeld en woordkuns fyn saamgesnoer word. Animasiekuns deur Diek Grobler vorm deel van die aanbod.

Beide vertonings moes uitgestel word weens die tweede vlaag van die pandemie in Desember verlede jaar. Die opbrengs van die vertonings gaan aan die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel-stigting se liedjieskryfprogram.

Meyer en De Villiers word bygestaan deur Mauritz Lotz (kitaar), Jaconell Mouton (klawerboard) en David Klassen (perkussie).

Kaartjies is beskikbaar by Computicket en kos R400 per motor. Die kaartjieprys geld vir tot vier insittendes, dus kan feesgangers die produksie geniet teen R50 per persoon. Elke aand is veertig spesiale kaartjies beskikbaar teen R300 per persoon. Gedurende die pouse tussen die vertonings kan feesgangers burgers en melkskommels geniet soos gebruiklik by die inryteaters van ouds.

• Met Meyer en De Villiers se eerste produksie van Karoo suite in samewerking met die Atterbury Trust, kon hulle nagenoeg ’n miljoen rand insamel vir skoolkinders van die Karoo. Die opbrengs van die vertonings op die Suidoosterfees gaan help om meer slypskole vir kinders afkomstig van die Karoo en Kaapstad aan te bied as deel van die Jakes Gerwel-stigting se liedjieskryfprogram. Deelnemers aan die inisiatief gaan genooi word om op te tree by die Suidoosterfees en KKNK.

• Op 28 April om 15:30 is De Villiers en Meyer met Zahn Hulme as gespreksleier in gesprek in die ATKV Innovasiespasie by die Kunstekaap. Die titel van die gesprek is Hoe teater ’n boek met ’n gewete word.

Hulle praat oor die tweede koffietafelboek wat hul gewilde Karoo Suite-produksies vergesel. Die nuwe boek, Ons Karoo, verskyn saam met Karoo Suite 2: Karoonagte, waarvan die opbrengs ten bate van die kinders van die Karoo is. Met hul eerste koffietafelboek het Meyer en De Villiers ’n miljoen rand ingesamel. Die Atterbury Trust ondersteun die publikasies. Die boek bevat onder meer Meyer se stories, foto’s, artikels en Karooresepte van Jan Hendrik van der Westhuizen.

Toegang tot die Suidoosterfees se gespreksreeks is gratis. Besoek karoosuite.co.za om meer inligting oor die boeke te bekom. - Saamgestel deur Laetitia Pople

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.