Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Divas se musikale kragtoer inspireer

Legendary Divas Suidoosterfees 2017

1 Mei in die Kunstekaap

Met Amanda Strydom, Vicky Sampson en Gloria Bosman

Musikale regisseur: Janine Neethling

Janine Neethling (klavier), Amanda Strydom, Vicky Sampson, Gloria Bosman, Shaun Johannes (baskitaar), Kevin Gibson (tromme) en Henry Steel (kitaar). Agter is die agtergrondsangeresse, Lauren Hartsenberg en Zeldene Schuller. Foto: Marchelle van Zyl
Janine Neethling (klavier), Amanda Strydom, Vicky Sampson, Gloria Bosman, Shaun Johannes (baskitaar), Kevin Gibson (tromme) en Henry Steel (kitaar). Agter is die agtergrondsangeresse, Lauren Hartsenberg en Zeldene Schuller. Foto: Marchelle van Zyl
Janine Neethling (klavier), Vicky Sampson, Amanda Strydom, Gloria Bosman, Shaun Johannes (baskitaar) en Henry Steel (kitaar). Agter is die agtergrondsangeresse, Lauren Hartsenberg en Zeldene Schuller.Foto: Marchelle van Zyl

Wat het jy op Werkersdag 2017 gedoen? Jy het heel moontlik gebraai of wasgoed gewas. Dalk het jy soos ’n betrokke landsburger aan ’n optog deelgeneem. Of dalk was jy een van die gelukkiges wat die afsluitingskonsert van die Suidoosterfees, Legendary Divas, Maandag in Kaapstad bygewoon het.

Ek was aanvanklik ’n bietjie huiwerig om ’n kaartjie aan te skaf omdat die woord “divas” in die titel soms vir my problematies is. Hoewel die woord onder meer “gevierde sangeres” beteken, het dit in moderne tye ’n bietjie van ’n katterige ondertoon gekry. Gelukkig het ek gou gesien wie hierdie divas is – Vicky Sampson, Amanda Strydom en Gloria Bosman – en almal op één verhoog. Dis die ware Jacobinas, die klassieke divas.

Maar ek wil my verstout om nog ’n diva tot die drie groot name te voeg – dié van Janine Neethling. Sy was die musikale regisseur van die produksie en die musikale baasbrein. Soos wat ’n mens van Neethling kan verwag, het sy musiek gekies wat by dié vroue se stemme pas – groot, uniek en kragtig.

Sampson, Strydom en Bosman het self gewonder wat “diva” nou eintlik beteken. “It’s a woman of distinction,” het die drie bespiegel. “Iemand met uitstekende smaak.” “An alfa female.” “Dis ’n vrou wat mense na haar aantrek. Almal wil soos sy wees. Jy weet? Iemand soos Nataniël,” het Strydom goedig gespot.

Maar in plaas daarvan om verder te wonder, het hulle losgetrek en die gehoor het gou uitgevind wat ’n diva is en hoe sy moet klink.

Die produksie het begin met ’n allegaartjie – van “Jabulani” tot “Ek kan rock in my taal”. In ’n ander vertoning sou dit die “showstopper” aan die einde van die vertoning gewees het, maar dit was bloot die begin. ’n Mens het sommer met die opening besef hier kom ’n ding of vier.

Die drie vroue se stemme was in perfekte balans. Elkeen het ’n kans gekry om hul musikale bollemakiesies te doen en die vere te sprei. En hulle mág maar pronk. Strydom was sterk en vol woema. Te oordeel na haar parmantige passies was haar knie- en heupvervangings duidelik ’n sukses. Sampson was stylvol en sterk. Dis ’n jammerte dat ons so min van haar hoor. Bosman se klimtolweergawe van “House of Rhythm” het die gehoor laat jil van lekkerte. Ek wou net saam met haar opstaan en dans.

Neethling se verwerkings was ’n musikale oorparadys. Die drie divas se weergawe van “Where Have All the Flowers Gone” was sensitief, harmonieus en meer kragtig as ’n biduur vir vrede. Dit was nie nodig om te preek nie. Die musiek en hul vertolking daarvan was nie net ’n musikale tour de force nie, dit was inspirerend. Sampson se “African Dream” was meer opruiend as ’n EFF-Kerspartytjie, Strydom se “Non, je ne regrette rien” was meer besielend as ’n optog na die parlement, Bosman se “I Sing Because I’m Happy” was meer hoopvol as ’n biddag vir reën op die droë Tankwa-vlakte.

So, wat het jy op Werkersdag gedoen? Gebid, gemarsjeer of gedans? Is daar ’n verskil, mag ’n mens wonder. Of soos Strydom dit stel: “Mag ons die lig uit die hemel uit op ons neerdans.” Met vervangde heupe en al.

Meer oor:  Amanda Strydom  |  Kaapstad  |  Vermaak  |  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.