Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Ernestine wil die Suidooster opjazz
Ernestine DeanFoto: Andy Lund

Sanger, liedjieskrywer, menseregteaktivis, aktrise, bewaringskunstenaar, heler.

Ernestine Deane dra verskillende hoede, maar by vanjaar se Suidoosterfees sal sy as sanger op die verhoog wees.

“Dis die eerste keer dat ek by die Suidoosterfees optree en ek is baie opgewonde,” sê sy.

“Dié fees is vir my spesiaal omdat ek al deur die jare gesien het hier is plek vir al die stemme in ons land.”

Deane is geen vreemdeling vir internasionale gehore nie. Sy was al op feeste soos die Haarlem-jazzfees, Pukkelpop, Waterpop en die North Sea Jazz Festival om maar net ’n paar te noem. Plaaslik het sy ook al by die Kaapstadse Internasionale Jazzfees, Rocking the Daisies en Infecting the City opgetree.

Die lys van bekendes met wie sy al die verhoog gedeel het, is indrukwekkend en uiteenlopend en sluit Breyten Breytenbach, Arno Carstens, Miriam Makeba, Freshlyground, Jitsvinger en Cesaria Evora in.

“Afrikaans is vir my spesiaal,” sê sy.

“Dis ’n taal met soveel bestanddele uit verskillende kulture. My program by die Suidoosterfees is in Afrikaans en Engels.”

Haar weergawe van ’n toonsetting van Ingrid Jonker se gedig “Die kind” is op die huldigingsalbum Die kind is nog jonger (2014) opgeneem en kan saam met haar ander musiek op iTunes gevind word.

Dean het ’n tyd lank in Duitsland gewoon en het in 2015 na Suid-Afrika teruggekeer. Sy het in Grassy Park grootgeword en het as tiener al saam met die hip-hop-legende Black Noise begin sing. Sy was ook deel van Moodphase5ive wat tussen 1998 en 2005 baie gewild was. Sy het albums uitgereik saam met die hip-hop-groep Steady On en haar soloalbum Dub for Mama in 2008. Laasgenoemde noem sy ’n ode aan vroulikheid, Moeder Kaapstad, Moeder Afrika, Moeder Aarde en Moeder Natuur.

Sy werk die afgelope twee jaar nou saam met Gabi le Roux wat die vervaardiger van verskeie bekende kunstenaars is. Hy is komponis van Mandoza se groot treffer “Nkalakatha”. Sy het vir haar jongste enkelspeler “Flow” saam met hom gewerk. Sy werk tans aan ’n kortspeler.

Verlede jaar het sy saam met ander kunstenaars gewerk aan die waterprojek Our Call for Rain. Sy en Zolani Mahola van Freshlyground en Su Lubner het “Camissa” (wat beteken soet waters van die Kaap) vir die produksie geskryf. Sy hoop om die lied nog tot ’n produksie uit te brei.

Sy tree op 26 April om 21:00 by die Suidoosterfees op saam met haar orkes Dub for Mama met die musikante, Tiana Amari (baskitaar), Nobuhle Ashanti (klawerbord), Carlo Fabe (tromme), Arianna Carini (kitaar) en die visuele kunstenaar Inka Kendzia.

Daar tree ook ander kunstenaars op in die afdeling vir ligte musiek en jazz van die Suidoosterfees:

* Onder regie van Camillo Lombard word Die klanke van Lagunya met verskeie musikante uitgevoer.

* Daar is ook die program The Music of Legend: Celebrating SA’s Music Makers onder regie van Kyle Seconna en musiekregie van Lucas Heinen.

* Anna Davel en Sima Mashazi is saam met Jaconell Mouton in die produksie Ella Fitzgerald: A Century in Song.

* Sima tree ook op in die huldiging van Miriam Makeba se musiek My Miriam Makeba Story.

* Vir volledige inligting besoek suidoosterfees.co.za.

Meer oor:  Suidoosterfees  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.