Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Komedie bring lig in al die swarigheid
Die dramaturg en skrywer Fabian Rainers.

In ’n motorherstelplek verwag jy dalk nie praatjies oor globalisering, kunsmatige intelligensie en identiteitspolitiek nie. In Fabian Rainers se toneelstuk, Die workshop, wat te sien is op die Suidoosterfees, gebeur juis dit en veel meer. Mariana Malan het met hom gesels.

Fabian Rainers se pa was ’n paneelklopper en hy het in dié wêreld grootgeword. Hier het hy gesien hoe werktuigkundiges en kliënte skouers skuur, oor interessante onderwerpe gesels en hoe mense maar almal eenders is, al is daar kunsmatige grense.

Die storie van Die workshop draai al jare lank in sy kop.

“Ons het in 1993 van Port Elizabeth na Pretoria-Noord getrek. Dit was ’n kultuurskok. Ons was die enigste kleurlinge in die omgewing. Gou het my pa se onderneming die plek geword waar al die randfigure begin saamtrek het. Mense het daar gemeng, gesels, gelag en vir my medemenslikheid laat sien.”

Dis wat hy in Die workshop wou wys. Humor was ’n sleutelwoord en hiervoor het hy die ideale akteurs gevind – Gary Naidoo, Ivan Abrahams en Keeno-Lee Hector.

Een van die situasies is byvoorbeeld ’n telefoonoproep na Korea om ’n onderdeel te bestel, dan is daar probleme oor die taalgrens heen, die spanning oor moderne tegnologie versus outydse tegnologie en deurgaans is daar die werktuigkundiges se skerpsinnige gesprekke.

“Alles is deesdae so ernstig. Van sepies tot dokkies, van die nuus tot gesprekke in die algemeen is alles net swarigheid. Ek wou net ’n slag iets ligter na gehore bring. Nie laf en kru nie, net iets wat die gemoedere ’n bietjie kan lig. Ek dink Tony en Ras se debatte sal mense laat lag, maar ook laat nadink.”

Sy daaglikse werk is ver van dié van werktuigkundige. Hy is ’n skrywer en inhoudsvervaardiger by die SABC met onder meer die verantwoordelikheid om dramareekse die lig te laat sien, en hy is betrokke by die skakeling tussen vervaardigers en die bedryf.

Iemand wat ware trauma beleef het, kan dit suksesvol oorvertel. Dit geld vir alle situasies in die lewe. Ek het gesien hoe mense brûe na mekaar oorsteek. Soms is dit net ’n nou bruggie, maar hulle doen dit. Ek is ook ’n oopwaterswemmer en daar het ek geleer dat jy ’n span moet hê wat saam met jou swem. Dan hou jy moed en maak vinniger klaar.”

Hy beskryf homself egter kort en kragtig as ’n storieverteller.

Om ’n suksesvolle storie te skryf, meen hy, moet die kern die waarheid wees en gewone mense se stories is wonderlik.

“Iemand wat ware trauma beleef het, kan dit suksesvol oorvertel. Dit geld vir alle situasies in die lewe. Ek het gesien hoe mense brûe na mekaar oorsteek. Soms is dit net ’n nou bruggie, maar hulle doen dit. Ek is ook ’n oopwaterswemmer en daar het ek geleer dat jy ’n span moet hê wat saam met jou swem. Dan hou jy moed en maak vinniger klaar.”

Al lees hy daagliks ander mense se werk, was dit nie maklik om sy eie stuk te skryf nie.

“ ’n Mens moet skaaf. Ek moes leer om dialoog vir die verhoog te skryf en het baie geleer by die Jong Sterre-projek van die Jakes Gerwel-stigting en die Suidoosterfees onder leiding van Abduragman Adams. Daar is seker mense wat sommer net kan gaan sit en ’n toneelstuk skryf. Ek moes maar aanhou oorskryf totdat alles in plek geval het.”

Hy hoop dat dit die eerste van vele hoofstukke van Die workshop sal wees. Dit kan volgens hom ook ’n lekker televisiereeks wees.

“Ek hoop gehore vind dit verfrissend, oorspronklik en ’n positiewe ervaring.”

• Die workshop word op 1 Mei om 17:30 in die NATi-arena in die Kunstekaap as deel van die Suidoosterfees opgevoer. Kaartjies is by Computicket.

Meer oor:  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.