Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
‘Mannetjie’ gee kinders moed om te praat

Die onderwyser Gerhard Visagie se toneelstuk, ‘Mannetjie’, kom na die Suidoosterfees.

Volwassenes is dikwels sku om oor kwessies soos seksuele misbruik te praat. So kom skuldiges weg. Gerhard Visagie wil met die stuk Mannetjie die dik sluier wat oor hierdie wandade hang, ooptrek en blootlê. Mariana Malan het met hom gesels.

In die 25 jaar wat Gerhard Visagie op Fraserburg in die Noord-Kaap skoolhou, is baie kinders al deur sy hande. Tog erken hy dat hy kinders nog nie werklik ken nie. Wat hy wel weet, is dat daar na kinders geluister moet word. Hul lewe is kompleks en hulle kan geheime goed bewaar.

Sy stuk Mannetjie kyk na ’n baie donker deel van kindwees.

“Die teks se wortels is te vinde in gebeure op Fraserburg. Dit het aan die lig gekom dat van die seuns baie wreed met ander seuns kan wees en dat daar ’n groot, maar onsigbare dekmantel oor die gebeure getrek word. Dit bly enige skool se grootste geheim.

“Ek wou ’n teks skryf wat die eufemistiese gebruik van terme soos boeliegedrag en kwansuise afknouery uitdaag en die werklike invloed daarvan op kinders se identiteitsvorming uitlig. Volwassenes is dikwels so onbewus daarvan.

Mannetjie is ’n plaaskind wat in ’n kinderhuis beland. Hy beleef die angswekkendste voorvalle van seksuele misbruik, en net toe hy met sy onderwyser (Hans) daaroor wou praat, word sy mond finaal gesnoer.”

Visagie glo dat “die alarm duidelik moet afgaan wanneer daar ’n rokie trek”.

Hy is die afgelope 13 jaar die voorsitter van die Logan-toneelfees se feeskomitee. Jeugtoneelproduksies van oor die land heen trek al jare lank in die eerste week van Augustus op Fraserburg bymekaar. Dit kon verlede jaar nie plaasvind nie, maar hy het in die tyd van Covid-19 die geleentheid gekry om sy eerste “volwasse stuk” die lig te laat sien toe hy die Jakes Gerwel-stigting se skrywersresidensie in Somerset-Oos in die Oos-Kaap bygewoon het.

Hy het dit as eenpersoonstuk beplan, maar daar is nou twee akteurs (Stephren Saayman en Stian Bam) in die rolverdeling met die regie deur André Samuels.

“Ek het onder meer geleer dat jy iewers die streep onder jou storie moet trek. Dit help nie om te lank aan te karring nie. Dan moet jy jou werk poets. Dit moenie net blink nie, maar skitter.”

Hy weet die waarheid is nie vir almal aanvaarbaar nie, maar kinders moet weet dat hulle mag en moet praat.

“Dalk gee Mannetjie se storie vir hulle die moed om dit te doen. Ek weet daar is nie ’n enkele kind sonder probleme nie.”

Hy weet hy is op die regte plek en hy glo elke dag in wat hy doen.

“Die stadslewe, verkeersknope, winkelsentrums en ’n lang ry voor die bank, is vir my angswekkende ervarings. Ek sit eerder op die stoep en kyk oor die vlaktes. Dis beter vir die gemoed. Klein dorpies kleef later aan jou siel soos turksvystroop. Elke dag van my lewe voel soms soos ’n episode uit Die Boekklub…”

* Mannetjie word op 1 Mei op die Suidoosterfees om 20:30 in die NATi-arena in die Kunstekaap opgevoer. Dit het ’n ouderdomsperk van 13 weens taal en seksuele inhoud.

Meer oor:  Toneel  |  Mannetjie  |  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.