Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Om te skryf oor die Flats

Hoe skryf ’n mens oor die Kaapse Vlakte?

Eerlik, in die taal wat daar gepraat word en uit ’n perspektief wat onthul, na raakpunte soek en baie versigtig.

Drie skrywers wie se boeke dié as agtergrond het, het hul onderskeie menings gegee by ’n gesprek op die Suidoosterfees.

Chase Rhys

Chase Rhys se roman Kinnes gaan oor vier jong mense in ’n onbepaalde deel van die Vlakte. Dit gaan oor hul drome en uitdagings waarmee hulle te doen kry.

“As jy wil sien hoe lyk Kaaps op papier moet jy my boek lees,” het hy gesê. Daar word nie net Kaaps gepraat wanneer die karakters aan die woord is nie. Die hele inhoud is in Kaaps geskryf.”

Rhys se roman was eers ’n toneelstuk wat toe ’n roman geword het. Hy was die eerste wenner van die Adam en Rosalie Small-toneelprys in 2018.

“Ek skryf vir die mense van nou uit ’n oogpunt van wat destyds gebeur het. Elke woord wat ek gebruik is ’n avontuur. Dit voel of ek ’n boks vol kleurkryte het en elke woord kan ’n ander kleur wees.”

Charles Abrahams se Class Action kyk daarin na onder meer die uitwerking wat destyds se gedwonge verskuiwings gehad het.

“Ek het eerlik geskryf en dis vanuit my perspektief. Ek het in een van die gevaarlikste strate in Nooitgedacht grootgeword. Ek vind dat mense deesdae vervreemd geraak het van waar hulle vandaan kom. Ek moes ook oor my eie lewe skryf.”

Abrahams is ’n regsgeleerde wat “dit gemaak” het, soos baie mense dit sien.

“Ek het as kind gesien hoe die samelewing buite en huislike omstandighede mense geknak het. Wat ek deel is so persoonlik en ek gee nie om dit so te deel nie. Ek skryf vir die duisende mense wat nog vasgevang is in die omstandighede waarin hulle grootgeword het. Ja, ek het ‘dit gemaak’, maar ek dra steeds die letsels en die wonde. Dit gaan nie weg nie.”

Sylvia Walker kom uit ’n “boomryke voorstad” in Kaapstad. Sy het nie op die Vlakte grootgeword of ooit daar gewoon nie. Tog het die verhaal van Ellen Pakkies haar só aangegryp dat sy die boek Dealing in Death met dit as agtergrond geskryf het.

Ja, ek het ‘dit gemaak’, maar ek dra steeds die letsels en die wonde. Dit gaan nie weg nie. - Charles Abrahams

“My storie het nie ’n feëverhaal-einde nie. Dit gaan oor die donker onderpens van die Vlakte. Ek het ’n groot belangstelling oor verslawing en dwelmhandel. Ek het veral vanuit ’n ma se oogpunt na Ellen se omstandighede en wat gebeur het geskryf. My grootste simpatie lê by die gesinne van verslaafdes. Daar is veel meer aan die maniere waarop hulle moet oorleef as wat algemeen bekend is.”

Rhys het gesê hy skryf vir die mense van die Vlakte omdat hy hulle ken en hul taal praat.

“Ons kry swaar ja, daar is donker dinge wat gebeur,” sê hy. “Swaarkry is egter vir my inspirerend. As dinge te lekker gaan, raak ek aan die slaap.”

Vir Abrahams is sy Afrikaans deel van sy kindwees en sy grootwordjare. Hy onthou ook nie net swaarkry nie, maar ook wonderlike tye toe kinders nog in die straat kon speel en elke ander tannie in die straat ook sommer jou ma was.

Walker neem met haar saam die samehorigheid en ondersteuning van mense in die dele waar sy navorsing gedoen het.

“Elkeen wat ’n ma is, behoort een te voel met ma’s op die Kaapse Vlakte,” meen sy.

Heindrich Wyngaard was die gesprekleier.

Die Suidoosterfees duur tot 1 Mei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.