Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Opera soos dié is skaars
Nombulelo Yende, Bongani Kubheka en Devon Florence in Pergolesi se La serva padrona, wat as deel van die Suidoosterfees opgevoer is.

Op die Suidoosterfees kon operaliefhebbers vanjaar twee operas sien. Wayne Muller het gaan luister.

Dat ’n mens in Kaapstad twee operas op een dag te siene kry, het seker nog nooit gebeur nie. Of dalk het dit, maar dan was dit dekades gelede.

Saterdag kon operaliefhebbers twee komiese maar uiteenlopende operas op die Suidoosterfees beleef.

Die middag is die Barokkomponis Pergolesi se La serva padrona in die Kunstekaap-teater opgevoer, en vier ure later, in die aand, was Lehár se operette Die vrolike weduwee in die Kunstekaap-operahuis te sien.

Albei operaproduksies het goeie gehore getrek, wat dalk bewys dat Kaapse gehore tog honger vir opera is.

Die Suidoosterfees bied al ’n paar jaar lank ’n operaproduksie op sy program aan – iets wat nie meer op die ander groot kunstefees in die land gebeur nie. En vanjaar het die fees sommer twee operas na die verhoog gebring.

Pergolesi is vandag hoofsaaklik bekend om sy Stabat Mater (’n himne aan die Moeder Maria) en dan sy komiese opera La serva padrona (Die bediende as meesteres). Dié opera, wat ook in 2008 op die Suidoosterfees opgevoer is, is ’n intieme werk met slegs twee singende karakters en een stom karakter.

Serpina (Nombulelo Yende) is die ryk vrygesel Umberto (Bongani Kubheka) se huishulp, en sy beraam, met die hulp van die stom Vespone (Devon Florence), ’n slinkse plan om met haar werkgewer te trou – ’n plan wat uiteindelik slaag.

Die regisseur Xolane Marman het ’n energieke produksie aanmekaargesit en twee ideale sangers, wat die Barokstyl goed begryp en kon uitvoer, is hier ingespan. Dit help ook dat sowel Yende (die stersopraan Pretty Yende se jonger suster) as Kubheka goeie akteurs is en die komedie haarfyn vertolk.

Die inkleding was eenvoudig en die vertolkings gefokus sodat jy as gehoor heeltyd ingetrek en betrokke gebly het.

Musikaal was die opera in die spesialishande van die klavesimbelspeler Erik Dippenaar (musikale leiding) en die Baroktjellis Cheryl de Havilland. Saam met die twee sangers kon die gehoor Barokmusiek van hoogstaande gehalte beleef.

Die vrolike weduwee is ’n perd van ’n ander kleur – dis immers omtrent 170 jaar ná La serva padrona gekomponeer, maar hier is ’n slinks beplande huwelik ook die spil waarom alles draai.

Christine Crouse, ’n gesoute operaregisseur, het die verhaal verplaas na “die Kaapse ambassade van die prinsdom van Pontévédro”.

Baron Zeta (Raimondo van Staden-Slabbert) wil seker maak dat die weduwee Hanna Glawari (Leah Gunter) se miljoene, wat sy van haar oorlede man geërf het, nie die land verlaat nie. Hy probeer dus ’n hubare vrygesel vind wat met haar kan trou voordat sy met ’n uitlander in die huwelik tree.

Dis waar die graaf Danilo (Johannes van Staden-Slabbert) inkom, wat heel teensinnig besef hy was nog altyd op Hanna verlief.

Hierdie inkleding is groots, kleurvol en oordadig, soos wat ’n mens van ’n produksie van hierdie bekende operette sou verwag. Die sangers se toneelspel was weliswaar soms ook oordadig – selfs vir ’n oordadige komedie – en hulle het maar gesukkel met die danspassies, waarvan die choreografie ook nie juis goed was nie.

Raimondo van Staden-Slabbert moes as baron Zeta as’t ware die aksie aan die gang hou, en het goed daarin geslaag. Die helde-paartjie van Johannes van Staden-Slabbert en Gunter se sang was in die algemeen goed. Gunter se vertolking van die bekende “Vilja”-lied het groot applous van die gehoor gekry.

Die sangers is begelei deur twee klaviere en perkussie, en daarvoor verdien die pianiste Albie van Schalkwyk (musikale leiding) en Vanessa Phillips, asook die perkussiespelers Dylan Tabisher en Schalk Wasserman groot lof, want hulle het ’n grootse taak gehad.

Dat hierdie operaproduksie sy oomblikke van kitsch gehad het, is gewis, maar dit het inderdaad die gehoor groot genot verskaf, te meet aan die applous.

En as twee operas dalk eendag weer in die Kaap op een dag gehou word, maak seker jy is daar vir albei, want hier is sulke belewenisse maar skaars.

Meer oor:  Klassieke Musiek  |  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.