Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Skokstuk beste aanbieding in projek vir Jong Sterre
‘Mannetjie’ met Stephren Saayman toe dit by die KKNK se teksmark opgevoer is. Foto: Nardus Engelbrecht

Sewe dramaturge het die naweek hul stoffasie gewys op die 18de Suidoosterfees as deel van die Nati Jong Sterre-projek. Laetitia Pople het gaan kyk.

Die naweek het sewe tekste van jong of nuwe dramaturge, wat eietydse tematiek dapper stormloop, die planke gehaal in die Kunstekaap in Kaapstad.

Die Nati Jong Sterre-projek van Nati, die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel-stigting help om skrywers by te staan om ongehinderd te werskaf aan hul skryfwerk tydens ’n verblyftyd onder mentorskap van gevestigde skrywers in Paulethuis, Somerset-Oos.

Reeds voordat die Covid-19-virussiekte die toneelbedryf geplettervat het en menige kunstenaar van ’n inkomste beroof het, was só tyd waarin ’n mens ongehinderd kan skryf, reeds goud werd, maar nou is dit noodsaak.

Die skokstuk Mannetjie – geskryf deur Gerhard Visagie, ’n onderwyser van Fraserburg in die Noord-Kaap – is Sondagaand as beste aanbieding vereer en Stephren Saayman as beste akteur. Dit handel oor ’n jong kind wat deur ouer kinders gemolesteer word. ’n Onderwyser raak bewus van die kind se nood deur ’n opstel wat die kind geskryf het. Daarin vra hy die enigste volwassene wat hy vertrou, om hom te help om ’n beter lewe te lei.

Die regisseur Andre Samuels bied dit aan met die minimum rekwisiete en visuele effekte. Net Saayman en Stian Bam is op die verhoog – ’n tafel, stoel, teddiebeer, ’n Coke-bottel, ’n bad en sambreel wat die see suggereer. Die storie en spel is voorop. In ’n uur speel alles voor die gehoor se oë af en jy beleef hoe volwassenes maak of hulle nie sien of hoor nie.

Mbulelo Grootboom in ‘But Baby I Love You’.

Die stuk is belangrik vir skole om die sweer oop te steek en gesprek uit te lok. Daar is ’n ouderdomsperk van 13.

• Op ’n heel ander en veel ligter noot, is Margo Kotze se klug Al dra ’n aap ’n goue ring. Kotze gebruik onlangse rassistiese uitlatings op sosiale media, onder meer die verwysing na mense as ape, om haar punt oor rassisme, politieke korrektheid en “ware” transformasie te maak.

Sy is dapper, want sy betree ’n gevaarsone. Haar Debbie is iemand wat teen haarself beskerm moet word en voortdurend “reggehelp” moet word deur haar “woke” kleindogter. Daar is heerlike karakters, hiperbolies en vol eksentrieke geite soos ’n klug betaam en die uitkoms is onverwags en oordrewe, maar die punt is daar.

Op die oppervlak kan jy dalk die regte goed sê, maar jou dade verklap jou hart en oortuigings. ’n Mens lag dalk vir dié Debbie, maar eintlik wil jy huil omdat sy skuil in jou en mense wat jy ken.

Die stuk is eietyds en toon belofte, al het dit nog skaafwerk en ritme nodig, en soms was die verhoog soos ’n vuurwerkontploffing op Oujaarsaand. Die laaste opmerking geld baie van die naweek se produksies, wat op effekte eerder as woorde staatmaak.

• ’n Motorwerktuigkundige se werkswinkel is die speelveld van Fabian Rainers se Die workshop. Rainers trek vele vraagstukke saam om ’n kleindrama te maak met sterk komiese ondertone oor die toekoms van sulke agterplaas-werkswinkels, wat so gou soos nou deur tegnologiese vooruitgang agtergelaat gaan word.

Raakvat-hande wat ’n motor kon herstel in ’n dag of drie, word nou vervang deur rekenaars wat dit tjoeftjaf kan doen. Kunsmatige intelligensie (hier ’n snaakse robotman wat als kan regmaak as hy net die regte inligting gevoer word) en duur onderdele wat net uit Suid-Korea bestel kan word weens ’n monopolie in die mark, skets die invloed van die groter wêreld op twee werkers wie se weerloosheid ’n mens bo alles tref.

• Twee mans betree ’n bokskryt in But Baby I Love You van Andrico Goosen. Seconds Khumalo word deur sy afrigter se seun Jerry van Tonder gedril, want Seconds wil sy comeback maak. Hy het geld nodig om sy gesin te versorg.

Die tematiek is bedoel as kritiek teen geweld jeens vroue en ook toksiese manlikheid, maar die teks bly skaduboks met die swaar gegewe, wat so relevant in die Suid-Afrikaanse gemeenskap is. Dit handel meer oor boks as enigiets anders en raak verstrengel in “kroegstories” en aaklige Brakpan-grappe, juis dit waaruit dit wil styg.

Dit was ook moeilik om al die karakters na wie die spelers verwys in die legkaart te pas en by te hou met die kinkels.

Die invloed van die geslagte varkkarkasse wat die verhoog vol hang se ekwivalent in woorde, moet ’n mens eintlik op die verhoog beleef.

• Bewegingsteater kan gewigtige kwessies op ’n oortuigende en dikwels “woordlose” wyse kommunikeer. ’n Liggaam kan boekdele spreek.

Boeliegedrag en onverdraagsaamheid teenoor iemand met ’n ander seksuele identiteit kom ontstellend na vore in Carlo Daniels se Kokon. Tog word dit oordrewe aangebied, met bykomende rooi beligting en ’n reuse-rekwisiet wat bepaald uitdruklik aan die einde verskyn. Die gehoor se verbeelding word onderskat. Die teks rek ook die kwessie in die boelietoneel so uit dat dit meegevoel verjaag. So ook word ’n masturbasietoneel so eindeloos aangebied dat dit simboliese trefkrag verloor.

Soos Mannetjie kan die stuk ook dien in skole met die nodige aanpassings.

• Die gevolge van ’n plaasmoord word ondersoek in It's my baby van Xolisa Ngubelanga. Dit toon deels die vasgekeerdheid van die wit plaasvrou wat alleen op die plaas oorbly met net haar werker op die werf en ’n huishulp, wat uit die township inry.

Die getroue werker se seun, wat van die moord aangekla is, dien tronkstraf uit. Daar is wendings in die verhaal, wat moeilik oortuig en fokus inboet – daar is net ’n uur om ’n storie te vertel.

Wat wel treffend is, is die spanning tussen die plaaswerkerpa en sy seun. Die seun het as kind tyd met sy pa verloor omdat hy op die plaas werk, terwyl die pa daar ’n noue band met die boer se seun kon smee.

• In The Infinite Woman van Misha Krynauw verskyn drie matriarge in dieselfde kombuis. Van hulle is al dood, tog eggo hul invloed steeds in die lewende vroue se lewe. Depressie en hartprobleme is in die genetika.

Ongelukkig kan gene nie help om ’n nou emosionele band tussen ma en dogter te smee nie. Dit moet wag tot ná die dood, soos die titel verklap. Die drie op die verhoog spook dit uit met mekaar. Ma, dogter en kleindogter. Dit was moeilik om by te bly en later het dit net ’n geskel geword, wat meelewing laat sneuwel het.

Meer oor:  Mannetjie  |  Suidoosterfees  |  Nati Jong Sterre
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.