Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Suidoosterfees bring plesier en verwondering na Kaap
Janel Speelman (sanger) en Niël Rademan (seremoniemeester) is van die kunstenaars in die galavertoning waarmee die Suidoosterfees vanjaar afsluit.

Topmusikante, -akteurs, -dansers en -gesprekvoerders is oorgehaal om gehore op die Suidooster-kunstefees te vermaak, in te lig en verwondering af te dwing. Dié vol program sluit af met die hoogtepunt der hoogtepunte, ’n galavertoning in ’n nuwe skitterblink baadjie.

Ses wenkore, genooide kore, ’n orkes, die Muziq- en Muziqanto-wenners en daarby die oorhandiging van die SuidoosterTROfees beloof opwinding soos min.

Dié 16de fees word vanjaar van 24 April tot 1 Mei in die Kunstekaap aangebied en eindig in die Kaapstadse stadsaal.

Musiek beslaan ’n groot deel van die week lange program. Daar is onder meer die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes met ’n jolige Brimstone Pops, MI(SA) met Amanda Strydom en die Kaapstadse Operakoor vir ’n ernstiger inslag en selfs twee operas – Die vrolike weduwee van Franz Lehár en La Serva Padrona van Pergolesi.

Christel van den Bergh en Markus Haywood in die bekroonde toneelstuk Harry & Jackie: Tussen die bokse.

Van die sangers in Die vrolike weduwee is Lauren Dasappa, Leah Gunter, Raimondo van Staden-Slabbert, Johannes van Staden-Slabbert en Ntando Ngcume. Christine Crouse is die regisseur.

In La Serva Padrona sal Bongani Kubheka en Pretty Yende se jonger suster, Nombulelo Yende, gehoor word. Xolane Marman hou die regieleisels.

Musiekvertonings wat beloftes van prettige vermaak inhou, is Nataniël se nuwe produksie, Anthem, die Soweto String Quartet, asook Anton Goosen en vriende soos

Sonja Herholdt, Lynelle Kenned en Early B.

Produksies wat die hartsnare gaan roer, is Ella Fitzgerald: A Century in Song, waarin Anna Davel en Sima Mashazi hulde aan dié fenomenale jazzsanger bring. Dink aan “I Got Rhythm”, “Cheek to Cheek” en “Summertime” met boonop die Amerikaanse pianis John Fresk as begeleier, en jy sal besef dié vertoning is ’n moet.

Sima Mashazi is in twee musiekproduksies, Ella Fitzgerald: A Century in Song saam met Anna Davel, en My Miriam Makeba Story te sien.

Fresk het al Bobby McFerrin en Ronan Keating begelei.

Ook op die musiekprogram is Mashazi se My Miriam Makeba Story, wat super-gewild was op ander feeste, Trio de Musique: It takes three 2 Tango, waarin ’n fluit, tjello en klavier die musiek gaan laat dans, jong sterre in Klassieke Jeug en die kabaret Shadows of Brel met Godfrey Johnson.

Op die toneelverhoë behoort Die Gangsters met Marthinus Basson as regisseur en Christo Davids se Harry en Jackie: Tussen die bokse die aandag te trek.

Jong akteurstalent kan beleef word in produksies soos Honestly, ek verstaan jou nie!, Kantel, Frida Kahlo op ’n veiling, Dieselle, Bossiekop en Sondag. Dit val onder die opskrif NATi-Jong Sterre.

Vir lekker lag hoef jy nie verder te soek as Vol klagtes en gedagtes met Laetitia Solomons, Heindrich Wyngaard in Jokes en Jezz en die komedie Face for Radio met Dalin Oliver nie.

Elke feesdag begin met die Jakes Gerwel-diskoersreeks waarin ernstige sake deur kundiges bespreek word. En soos vorige jare kan drome dalk in die Talentsoektog (27 April op die Artscape-piazza) verwesenlik word.

Tussen die genoemde produksies is daar nog juwele voordat die afsluitingskonsert die verhoog oorneem met die ATKV/Rapport-Harmonie-wenkore, Cameron Williams (saksofoon), Bongani Kubheka (bariton), Megan-Geoffrey Prins (pianis), Janel Speelman (sopraan), Chester Meyer (orrel) en Niël Rademan as seremoniemeester.

* Die kaartjies is beskikbaar by Computicket, die Kunstekaap, en Checkers en Shoprite landwyd. ’n Stewige afslag van 20% word vir blokbesprekings van tien of meer gegee.

Besoek www.suidoosterfees.co.za vir die volledige program.

Meer oor:  2019  |  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.