Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Suidoosterfees laat jou moed skep

Moed skep. Dit is wat ’n mens eerder die Konsert van hoop sou wou noem. Lanklaas was daar soveel vreugde en aandoenlike oomblikke in een konsert soos in dié een wat Vrydagmiddag as deel van die Suidoosterfees gehou is.

’n Mens kan dit skaars glo dat Laurika Rauch se “Kinders van die wind” jou ná dekades nog bewoë kon maak. Maar toe die Libertaskoor onder leiding van Johan de Villiers by haar inval, was dit tyd vir sneesdoekies uithaal.

Dieselfde koor het later die gehoor na jubelende apostels laat klink.

Die konsert het begin met ’n pryssanger en die eenvoudige klanke wat Dizu Plaatjies op sy mondboog gemaak het. Die tjello met die naam Hoop het met die intrap al voorspel dat hier iets gaan gebeur wat jy nie sal vergeet nie.

Al die kunstenaars wat deel was van Suidoosterfees se Konsert van Hoop. Foto: Sharnelle Cader

Daar was ballet, hiphop, duette, solo’s en ’n onvergeetlike dansstuk met een danser in ’n rolstoel met twee ander wat gewys het baie dinge wat onmoontlik lyk, kan gedoen word.

’n Ander geleentheid wat jou met verwondering vervul het, is die huldigingsprogram wat saamgestel is vir Johaar Mosaval – The Johaar Mosaval Journey form District Six to the Royal Ballet.

Die meeste mense weet nou al van die man van Distrik Ses wat in die 90 jaar van sy bestaan vele struikelblokke moes oorkom.

As jong Moslemman moes hy vooroordeel in sy eie gemeenskap oorwin, as “danser van kleur” moes hy die plek agter in dansklasse inneem en met sy lengte sou mens ook nie kon dink dat hy soveel sukses op die balletverhoog sou behaal nie.

Die huldigingsprogram is die groot rolle wat hy in sy loopbaan vertolk het, uitgevoer. Dit sluit in The Blue Boy (uit Les Patineurs), Puck (A Midsummer Night’s Dream), The Pot Boy (Pinapple Poll), Dr Coppelius (Coppéla), Petrushka, Blue Bird (Sleeping Beauty) en die onvergeetlike The Boy. Laasgenoemde oorspronklik uit die opera Gloriana deur Benjamin Britten wat uitgevoer is ter viering van Koningin Elizabeth II se kroning.

Tussendeur was daar ook ander aanskoulike dansstukke gechoreografeer deur Grant van der Ster en uitgevoer deur Kaapstad Ballet.

By die huldigingskonsert vir Johaar Mosaval was van links Sharon Paulsen, Connie September, Eduard Greyling, Mosaval, Hellen Zille, premier van die Wes-Kaap, en Marlene le Roux, oofbestuurder van die Kunstekaap.Foto: Jaco Marais

Daniel Richards was die verteller en geprojekteerde foto’s saam met bekendes van oor die wêreld, het die res van die Mosaval-verhaal vertel.

Dit was egter aan die einde toe die gehoor sy waardering vir die kort, statige man getoon het, dat die oomblikke vir vele te groot was.

Die nederigheid, menslikheid en statigheid wat hy in sy 90ste jaar op die verhoog van die Kunstekaap-operahuis uitgestraal het, het elkeen wat dit beleef het, trots laat voel, maar jou ook laat moed skep dat wonderlike dinge beslis nog in Suid-Afrika gebeur.

* Die Suidoosterfees is nog tot 1 Mei in die Kunstekaap-teatersentrum aan die gang. Besoek www.suidoosterfees.co.za vir meer inligting

Meer oor:  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.