Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Suidoosterfees: Musikale makietie lê voor
Luna Paige. Foto: Robert Hamblin

Musiekgenres van A tot Z gaan in 2020 kliphard in Kaapstad opklink wanneer die Suidoosterfees van 27 April tot 3 Mei aangebied word.

Benewens popmusiek, rap, soul, musiekspele, tangomusiek, opera, rolprentmusiek, funk, jazz en koorsang, gaan heelwat musiekproduksies woord en klank met ’n eg Kaapse geur op die planke bring.

Een van die beloofde hoogtepunte is die produksie Smeltkroes, wat ’n opdragwerk vir die RSG Skatkis-kunstefees was en nou met die ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en RSG vir die verhoog verwerk is.

Luna Paige het die teks geskryf en saamgestel uit gedigte en kortverhale deur Dana Snyman, Nathan Trantraal, Diana Ferrus, ID du Plessis en Pieter Odendaal, om te illustreer hoe wyd en diep Kaapse Afrikaanssprekendes se wortels lê en hoe ons, volgens die feesprogram, “almal aan mekaar verbind is”.

Paige sal die verhoog met Ramon Alexander, Devonecia Swartz, Jolyn Phillips en Shirmoney Rhode deel. Nicole Holm behartig die regie.

Hunter Kennedy. Foto: Liam Lynch
Early B. Foto: Israel Holtzhauzen

* Kaapstad is ook die leitmotief in Kaapsentriek, waarin ervare musiekmanne soos Fred den Hartog en Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties en die sanger Rufio Vegas Kaapse stories met musiek gaan lewe gee.

Hulle sal die verhoog met opkomende talent deel wat deur die Afrikaanse rapper Early B geslyp is.

* Dié rapper gaan saam met die rappers Vito en CREAM die Kaapse operahuis op horings neem en die produksie Rymklets-republiek: Room & drome daar aanbied.

Nama-klets, hip-hop soul en boom-bap gaan tydens die vertoning uitgestal word om verskillende style van Afrikaanse rap en hip-hop te vier.

* Jazzmusiek gaan ook tydens die fees in die kollig wees, veral wanneer Kaapstad op 30 April die gasvrou vir die Internasionale Jazzdag gaan wees.

Jazzaanhangers kan uitsien na The Unity Band se konsert op dié dag. Die groep het vroeër vanjaar hul debuutalbum, Fabric, bekend gestel en sal weer Suid-Afrikaanse jazz met ’n hip-hop-, salsa- en funk-kinkel opdis.

Shirley Bassey: Diamonds Are Forever gaan vir ’n nog rustiger aanslag sorg. Die sanger Anna Davel en die pianis Jaconell Mouton gaan van Bassey se bekendste liedjies uitvoer, onder meer “Big Spender” en “I Am What I Am”.

* Die komponis en pianis Kyle Shepherd gaan saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes die klankbaan van die nuwe rolprentweergawe van Fiela se kind uitvoer, wat hy geskryf het. Dié konsert op die fees se openingsdag word net een keer aangebied en moenie misgeloop word nie.

Kyle Shepherd. Foto: Timmy Henny

* Sangstudente aan die Universiteit Stellenbosch gaan nuwe lewe gee aan een van Mozart se laaste operas, Così fan tutte.

Hul produksie, Così fan tutte alla breve, gaan egter van die oorspronklike wegbreek en in ’n dameskroeg op die Weskus afspeel, waar die siniese kroegman, Don Alfonso, vier geliefdes in die kroeg opdraand gaan gee.

Die verwerking is deur Johannes van Staden-Slabbert van die operageselskap AGL Opera gedoen, wat ook by 2020 se fees die Italianer Gaetano Donizetti se opera The Elixir of Love in Engels en Afrikaans sal aanbied.

Dié komiese opera vertel die verhaal van Nemorino, ’n arm man, wat verlief is op die welgestelde Adina. Wanneer sy hom verwerp, jaag hy vir haar ’n liefdesdoepa in sodat die liefde kan blom, maar die poppe dans wanneer dit blyk dat ook dít nie wil werk nie.

Niël Rademan en Lynelle Kenned.

* Benewens opera vier koorsang hoogty: Die bariton en musiekman Niël Rademan is die koördineerder van die ATKV/Rapport-Harmonie-koorkompetisie vir nie-professionele kore in die Wes-Kaap, en hy is ook die samesteller van die ATKV-koorgala, waarin die wenkore saam met die Hugo Lambrechts-simfonieorkes, die pianis Megan-Geoffrey Prins en die mezzosopraan Minette du Toit-Pearce optree.

Rademan is ook in A Night at the Musicals te sien, waarin hy met die sopraan Lynelle Kenned en die pianis Lucas Heinen treffers uit musiekspele gaan uitvoer.

* Musiekteater blom ook op die program: Leatitia Solomons se teaterstuk Die begrafnis, wat vroeër vanjaar vir die Silwerskermfees in ’n kortrolprent omskep is, gaan weer op die planke wees.

Daarby gaan studente van Northlink-kollege die musiekspel Once on This Island aanbied, en daar sal in The Variety Show that Skrik vir Niks ook ’n musikale makietie voorgelê word. – Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

  • Besoek www.suidoosterfees.co.za vir ’n volledige program.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.