Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Suidoosterfees nooi gehore ‘klaskamer’ toe

Terug skool toe klink vir baie mense na ’n herhalende nagmerrie. Nie die akademiese deel nie, maar die sosiale en sielkundige uitdagings wat met skooldae gepaard gaan. ’n Goeie manier om herinneringe te besweer, is juis om na die klaskamer terug te keer en te sien hoe kuns uit alles geskep kan word.

Die Hoërskool Jan van Riebeeck se toneelgroep. Foto: Verskaf

Op Jeugdag (16 Junie) neem die Suidoosterfees mense terug skool toe met die plekspesifieke produksie Die klaskamer. Die skool is Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Die gegewe is uitdagings waarmee jongmense vandag te doen kry in ses verskillende opvoerings van elk net agt minute lank.

Gehore roteer in groepe tussen die verskillende klaskamers om al die stukke te sien. Van die kwessies wat getakel word is die stryd teen boelies, selfaanvaarding, die trauma van seksuele mishandeling, die impak van kwaadwillige beswaddering, die stryd met gewig en die impak van sosiale media.

Akteurs, skrywers en regisseurs wat betrokke is, sluit in Cintaine Schutte, Wessel Pretorius, Rafiek Mammon, Eldon van der Merwe, René Cloete, Kanya Viljoen, Carlo Daniels en Veronique Jephtas.

Afgesien van die professionele akteurs wat optree, is die tienertoneelgroep van Hoërskool Jan van Riebeeck ook te sien. Kanya Viljoen is verantwoordelik vir die teks en regie.

Veronique Jephtas Foto: Verskaf

Volgens haar is min mense bewus van die druk wat tieners op skool beleef.

“Toe ek met die leerlinge begin werk het, het ek geen idee gehad van hoe intens die kwessies is waarmee hulle te doen kry nie. Die beste manier om daarmee te werk, is om dinge oop te krap en daaroor te praat.

“Om ’n stuk vir die verhoog te skep, gee vir hulle ’n veilige ruimte en laat hulle vir ’n paar uur lank vergeet van punte en prestasie. Hulle kan net openlik wees oor probleme en wanneer hulle dit deel, is daar ’n uitlaatklep vir frustrasies.”

Sy vind jongmense het ’n behoefte om te praat en hulle is opgewonde om kanse te benut.

“Hulle het soveel kennis en soveel menings, maar is dikwels eensaam omdat tegnologie hulle isoleer. Dis wonderlik om te beleef wat gebeur wanneer daar ’n klankbord vir hulle is om bloot net te praat.”

Cintaine Schutte en Wessel Pretorius. Foto: Verskaf

Die idee vir Die klaskamer kom van Rafiek Mammon, konsultant en kreatiewe regisseur van die Suidoosterfees.

“Ek is so bly ek is nie meer op skool nie. Dis nie maklik om ’n tiener te wees nie. Ek vind tieners weet van dinge wat in die wêreld aangaan. Hulle is ingelig, maar nie voorgelig nie. Sosiale media laat hulle dikwels dink hulle weet baie. Almal is kenners, maar insig ontbreek. Die gebrek aan lewenservaring laat hulle struikel. Dis hoekom dit belangrik is dat kwessies oopgespeel moet word. Die verhoog is die ideale plek daarvoor.”

  • Kaartjies vir Die klaskamer is beskikbaar by Computicket teen R120 vir volwassenes en R80 vir leerlinge, studente en groepe. Die vertonings is nie geskik vir kinders onder 14 jaar nie. Vertonings vir beperkte gehore vind op 16 en 19 Junie om 11:00 en 15:00 plaas. Covid-19-maatreëls sal streng toegepas word.
Meer oor:  Veronique Jephtas  |  Cintaine Schutte  |  Suidoosterfees  |  Feeste  |  Jeugdag  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.