Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Suidoosterfees wys wie sal pas in die ideale Suid-Afrika

Wonder jy of jy ’n waardige inwoner van Suid-Afrika is?

Gaan na die Suidoosterfees en word wys.

Daar is allerlei produksies wat jou laat lekkerkry omdat jy hier woon en daar is ander wat ’n spieël voor jou hou sodat jy kan kyk of jy regtig in pas is met die land en sy mense.

’n Groep studente is een van dié wat die spieël en sommer nog ’n kollig daarop ook na gehore opgehou het. Ses gesinne ding mee om ’n plek in Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika juis omdat in die huidige nuwe Suid-Afrika te min transformasie sigbaar is.

Die ideale ryk gesin in die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika. Van links is Conradie van Heerden, Hendrik Nieuwoudt, Kristin Pienaar en Lara de Bruijn.

Die kompetisie is straf. Daar is stoer en daar is aweregs, daar is ryk wit en arm bruin, daar is spiritueles. Kortom, daar is binne die kwessie van een uur omtrent ál wat mens is in die hande van bloedjong akteurs – ’n kort verkenningstog deur die huidige Suid-Afrika.

Mercy Kannemeyer is die regisseur. In haar hande kon die akteurs reg laat geskied aan die teks. Die teks is ontwikkel deur die geselskap studente van die dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch.

In die rolverdeling is Lara de Bruijn, Reuben Murphy, Devonecia Swartz, Conradie van Heerden, Carla Smith, Kristin Pienaar en Hendrik Nieuwoudt.

Hulle laat jou lag en beïndruk met komiese tydsberekening. En volgens gehoorlede wat die stuk al voorheen gesien het, is veranderinge aangebring om huidige gebeure te betrek.

Van die mense wat hulle aan jou wys, wíl jy nie eintlik ken nie . . . Dalk is hulle jou bure, jou kollegas of dalk nog jyself. Trap maar versigtig as jonges die vergrootglas bo jou lewe hou.

Nog ’n perfekte voorbeeld van wat verdraagsaamheid behoort te wees, word gevind in die eenpersoonstuk Rokkie, waarin Charlton George die rol vertolk van Ricardo wat op pad is om Raquel te word.

Raquel (Charlton George) stap fier en ver van platgeslaan na haar nuwe lewe. Foto’s: Jaco Marais

In vele plekke deesdae word die hartseer van Raquel en haar susters bespreek. Min mense weet hoe erg transgender individue werklik op die rand van die samelewing moet veg om ’n blote plekkie in die son.

Afgesien van George se spel wat Rokkie so lieflik maak, is die onderwerp druk onder ’n ieder en elk rondom koffietafels by die fees bespreek.

Wat musiek betref, kan nie gestry word nie dat almal verenig is wanneer treffers uit vroeër jare en vandag op die verhoog uitgevoer word.

Die onmoontlike taak wat die samestellers van 15 van die bestes gehad het, was om liedjies te kies wat deur die dekades in almal se huise gehoor is.

Die ironie dat Gé Korsten se “Liefling” net so luid toegejuig is as die liedere van enige van die ander kunstenaars – onder meer Brenda Fassie, Clout, Miriam Makeba en Vicky Sampson – kon ’n mens maar net laat glimlag.

Gary Naidoo sorg vir vlymskerp humor in 15 van die bestes.

Dan is daar fyn gespot met vanne, saamgestelde name en wat verskillende mense van Suid-Afrika geniet. Maar op die ou end het ’n mens in jou hart geweet almal se drome, hartseer en vreugdes ontmoet iewers daar waar musiek die hartsnare tokkel.

Die Suidoosterfees loop op Dinsdag 1 Mei ten einde.

Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrikakan nog Dinsdagoggend om 10:00 in die Kunstekaap- arena gesien word.

Meer oor:  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.