Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Taal van die Vlakte praat hard in dié stuk

Kristalvlakte

Fugard-teater

***

Die bendelede wat inwoners van die Vlakte verskrik, word vertolk deur Gantane Kusch, Riaan Visman (as die Generaal) en Daniel Richards in Kristalvlakte. Visman het die prys gekry vir beste akteur op die Suidoosterfees vanjaar.

Alles kan gekoop word. Op die Vlakte val ’n mens se lewe in die heel laagste prysklas.

Kristalvlakte kom sit die werklikheid van bendegeweld net hier anderkant die bult reg voor jou neer. Die verhoog is mos een plek waar daar van toeka af groot waarhede en ernstige protes stem dik gemaak het.

Koerantopskrifte begin voor jou oë dans. Maar daar is meer as net daardie kinders wat weer in die spervuur beland. Daar is vroue wat nie aldag weet of hulle die huis ongedeerd gaan haal nie, jong mans wat met beloftes van geld en mag gelok word na ’n lewe van geweld en net meer geweld.

In hierdie stuk word daar na een gesin gekyk. Priscilla (Ilse Klink) maak haar bestaan uit smokkelhandel. Koop van diewe, verkoop weer aan hulle. Haar drie kinders is gou die slagoffers van die manier waarop sy haar siel meer nog as handelsware verkwansel.

Amy Jephta se teks praat die taal van die straat en die Vlakte

Klink vertolk haar op ’n manier dat jy aan die een kant simpatie met haar het. By tye wil jy haar haat, ander kere weer bewonder vir haar wil om te oorleef en vir daardie mond wat vir geen predikant of bendeleier stilbly nie.

Amy Jephta se teks praat die taal van die straat en die Vlakte. Die situasies wat uitgebeeld word gee die werklikheid weer, maar daar was iets magies wat die harde houe soms versag.

Die pas van die stuk is freneties. Dinge gebeur, daar is nie ’n oomblik om asem te skep nie.

Hier moet die akteurs in gedagte hou dat die wilde spoed waarmee hulle praat, kan beteken dat die gehoor nie altyd kan hoor wat hulle sê nie. Voeg daarby dat baie uitdrukkings vir seker die helfte van die gehoor vreemd is. Dus moet hier moeite gedoen word met projeksie. En dan dalk net ’n tikkie rem aandraai.

Die akteurs is op hul stukke in hul onderskeie rolle. Die predikant (Roysten Stoffels) amuseer met sy eie klein “preekstoel” wat hy met hom saamdra. Sy woorde bly leeg in hierdie wêreld waar God en gebod maar min te sê het.

Wanneer sy uit radeloosheid twee erdeskottels teen mekaar slaan, kan jy haar siel hoor gil

Die stom Trien (Tarryn Wyngaard) bekoor en ontstel. Wanneer sy uit radeloosheid twee erdeskottels teen mekaar slaan, kan jy haar siel hoor gil.

Tot voor hierdie stuk het Brendon Daniels al rolle vertolk wat jou laat glo het jy sal ’n ompad loop as jy hom saans in die straat kry. Hier kom hy egter sy Moses teë met Riaan Visman se Generaal. Dié verpersoonlik boosheid met ’n kyk, ’n swaai van die hand, ’n kopknik met ’n kop so kaal soos ’n volstruiseier. Nie ’n mooi karakter nie. Nie iemand met wie jy sommer paaie wil kruis nie.

Met reeds ’n groot rolverdeling is dit seker die beste opsie, maar die verkillende karakters wat dieselfde akteurs vertolk het, het by tye gepla.

Die verskillende vlakke sorg vir beweegruimte vir die baie dinge wat gebeur. ’n Klankbaan dra altyd by tot die atmosfeer van ’n stuk, maar die liedjies tussendeur was nie werklik nodig nie.

Regisseur Marí Borstlap het nie ’n maklike taak gehad nie, maar daar het reg geskied aan die Suidoosterfees se vlagskipproduksie.

In die Fugard-teater tot 7 Mei. Bespreek by Computicket

Meer oor:  Kaapse Vlakte  |  Bendegeweld  |  Flieks  |  Suidoosterfees  |  Toneelspel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.