Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Teatermakers het ‘onwaarskynlike vriende’ nodig

“Die antwoord vir die kunste in Suid-Afrika lê in onwaarskynlike vriende.”

Saartjie Botha

Hierdie stukkie wysheid het Saartjie Botha (direkteur van die Toyota Woordfees) kwytgeraak amper heel aan die einde van die eerste gesprek in die Jakes Gerwel-gespreksreeks van die Suidoosterfees.

Die gesprek het die fees Donderdag afgeskop met die relevante vraag “Hoe soomloos is die kunste werklik?”

Basil Appollis (akteur, teatermaker en regisseur) het summier begin deur te sê: “Hoe soomloos kan die kunste wees as daar dalk nie eers materiaal is om some te maak nie?”

Die ander twee deelnemers aan die gesprek was die twee jonger teatermakers Cintaine Schutte (ook akteur) en Mercy Kannemeyer (skrywer, dramaturg en meestergraadstudent). Kabous Meiring was die gespreksleier.

Vrae wat onder meer gevra is, is of die kunste vandag werklik tot ’n diverse gehoor spreek en of dit ’n getransformeerde samelewing weer­spieël?

Daar is geraak aan die uitdagings wat teatermakers moet hanteer en hoe dit aangepak kan word.

’n Uitdaging wat beide Botha en Appollis beklemtoon het, is dat kunstenaars in die teaterbedryf dikwels verskeie hoede moet dra om ’n lewe te kan maak.

Appollis het gesê hy moes dit doen om te oorleef en hy was van verhoogbestuurder tot akteur en regisseur.

Vir Botha is dit nie noodwendig ’n slegte ding nie.

“Jy moet al bietjie geleef het om van jou ’n interessante kunstenaar te maak. Onderweg vind jy jou stem en jy moet maar ’n paar draaie loop om daar uit te kom.”

Basil Appollis

Hoe verteenwoordigend van die samelewing werk op die verhoog is, het ’n interessante gesprek uitgelok. Al die deelnemers het gesê mense wil hulself graag op die verhoog verteenwoordig kan sien.

“Daar is eindelose moontlikhede,” was Kannemeyer se mening. “Transformasie moet op die verhoog gewys word.”

Schutte het gemeen dat dit moed vra om seker te maak dat stories reg vertel word.

“Ons het ’n groot verantwoordelikheid wanneer ons iets op die planke bring.”

“Die teater is ’n brute medium,” het Botha gesê. “Dikwels kan konfrontasie die omgekeerde uitwerking op gehore hê as wat beplan is. Wat veronderstel is om vooroordeel af te breek kan ’n gehoor nog meer rassisties maak as wat hulle is.

“Tog is dit nodig dat teatermakers mense moet wakker skud en sê: ‘Hier is ek! Luister nou na my!’ ”

Al vier deelnemers het op die een of ander manier gesê dat werk gedoen moet word om ’n storie te vertel, iets tuis te bring en mense te laat nadink. Goeie teater word nie geskep deur iets vir ’n spesifieke gehoor te skryf nie.

Ons land se uiteenlopende groepe, kleure, tale en agtergronde gaan noodwendig maak dat dinge verskillend verstaan of waardeer word.

Daar is nog nie genoeg eenheid dat eerlikheid op dieselfde manier ervaar sal word nie.

“Ons moet werk maak wat oor die some van skeiding gaan,” het Botha gesê.

“Teatermaak is baie vervlietend. Daar word geskep, opgevoer en dalk word ’n stuk vier keer opgevoer. In die tyd tot jou beskikking moet jy soveel moontlik sê.”

Schutte se mening was dat “ons nie die luukse van baie tyd en geld het nie. As jy twyfel oor iets in ’n stuk, moet jy nie bang wees om hulp te vra nie. Ons moet by mekaar leer en na mekaar luister. Dit is in die belang van ons bedryf”.

*Daar is nog drie gesprekke in die Jakes Gerwel-gespreksreeks: Wie is ons en maak dit saak? (Vrydag 26 April, 10:00); Afrikaans – ’n taal vir almal? (Saterdag 27 April, 10:00); Die volle storie van Afrikaans (Maandag 29 April om 10:00). Toegang is gratis.

  *Die Suidoosterfees vind in die Kunstekaap-sentrum en stadsaal plaas tot 1 Mei.

Meer oor:  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.