Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Suidoosterfees
Van ‘Rokkie’ gaan jy nog baie hoor

Daar is ’n spreekwoord wat lui: Loop eers ’n paar myl in iemand anders se skoene voordat jy hom oordeel.

In ’n land met so ’n omvattende Grondwet is dit nogal eienaardig dat ons nie meer verdraagsaam is nie. Sodra jy regtig daaroor dink, besef jy die Grondwet mag jou en jou regte beskerm, maar dit verduidelik ongelukkig nie jou gedrag aan jou bure of jou familie nie.

Dit is teen hierdie agtergrond dat Rokkie afspeel.

Rokkie is die verhaal van ’n man se stryd met sy geslag: die een waar die dokters die etiket “seun” aan hom toegewys het toe hy gebore is.

Die vraag is: Wat maak jy as weet dis verkeerd? As jy van kleins af voel jy is anders, en asof dit net ’n kosmiese grap is.

Ricardo, oftewel Raquel, voel so.

Charlton GeorgeFoto: Hanru Marais

Die verhaal speel af op die dag dat Ricardo amptelik Raquel gaan word, terwyl hy sy tassie pak met die benodigdhede om saam te neem hospitaal toe vir die geslagsveranderingsoperasie.

Nou hoe vertel ’n mens so ’n verhaal met die nodige sensitiwiteit en medelye?

Regisseur Lee-Ann van Rooi en akteur Charlton George kry dit reg.

Die kykNET-teater se verhoog is ’n groot spasie om te vul vir net een mens, en hoewel die stuk soms sy intimiteit moet prysgee, en dit soms voel asof die karakter net ’n bietjie te ver weg van jou is, word die spasie gevul met die intieme verhaaltjies, die wisselwerking van parodie, patos en teatervernuf.

En dit is oorgenoeg rede om hierdie boeiende teaterstuk te gaan kyk.

George is nog nie volkome in harmonie met sy karakter nie. Jy kan sien hy moet nog hier en daar sy voete vind, maar sy nuanses en sy karakterisering is meesterlik soos hy moeiteloos emosies weef van hartseer en deernis tot onheilige brutaliteit.

Die stuk is rou en kaalgestroop. Dit is presies hoe hierdie soort storie vertel moet word. En, ondanks donker wolkies en silwerrandjies, is dit uitdagende teater.

Ja, dit is Rokkie se eerste uitstappie. Dus verwag ’n mens oomblikke waar daar beter keuses kan wees, en dat Ricardo/Raquel net titseltjies meer kon kry om mee te werk.

Maar dit sal mettertyd gebeur soos die verhouding tussen die teks, speler en regisseur soos enige goeie deeg meer en meer bewerk word.

Ek glo stellig dat ons nog baie van Rokkie gaan hoor en dat dit net die begin is van ’n pot wat hopelik nog lank gaan prut.

* Rokkie word nog Maandag om 15:00 as deel van die Suidoosterfees opgevoer.

Meer oor:  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.