Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Buitengewone ‘Krotoa’ sal jou insluk op Vrystaat Kunstefees
Bianca Flanders en Kees Scholten in Krotoa: Eva van de Kaap.

Dit mag dalk kophou kos om die toneelstuk Krotoa: Eva van de Kaap op die Vrystaat Kunstefees te volg, maar as jy weet dit is ’n verhaal binne ’n verhaal en dat die tonele tussen die hede en die verlede wissel, sal jy ingesluk raak deur dié buitengewone aanbieding oor die nou reeds bekende Krotoa.

Sy is die Nama-meisie wat in Jan van Riebeeck se huishouding gewerk het, as tolk tussen haar mense en die Nederlanders opgetree het en die eerste Nama wat amptelik met ’n Europeër getroud is.

Jan van Riebeeck, gespeel deur die Nederlandse akteur Kees Scholten, is die VOC-koopman wat in 1652 ’n verversingstasie aan die Kaap gestig het.

Bianca Flanders, die Suid-Afrikaanse aktrise wat Krotoa vertolk, sê dié toneelstuk is die eerste uit ’n vrou se perspektief.

Sylvia Vollenhoven (Mandela the Living Legend, The Keeper of the Kumm), die dramaturg, het nie net deeglik navorsing oor Krotoa gedoen nie, sy het ook haar verbeelding ingespan deur die twee hoofspelers in ’n verhouding met mekaar op ’n rolprentstel te plaas.

Die een verhaal gaan oor Krotoa se lewe en haar interaksie met Van Riebeeck. Dit speel in die 1700’s aan die Kaap af en vir dié tonele verklee Flanders en Scholten in periodekostuums.

Die parallelle verhaal gaan oor die akteurs Sam (vertolk deur Flanders) en Thijs (Scholten) wat op ’n rolprentstel is vir die verfilming van Krotoa. Dit speel af in die hede en handel oor hewige konfrontasies waarin die twee fiktiewe akteurs betrokke raak terwyl hulle probeer om gestalte te gee aan hul karakters (Krotoa en Jan van Riebeeck).

Die toneelspel wissel verskeie kere tussen die hede (op die rolprentstel) en die verlede (Van Riebeeck se huishouding) waarvoor Flanders en Scholten ook van kleredrag moet verwissel – eietydse klere vir die tonele op die rolprentstel en periodekostuums vir die tonele in die 1700’s aan die Kaap.

Een van die raakpunte in die twee verhale is emosioneel geskonde mense. Ondanks Krotoa se verhewe status het die botsende kulture van die Namas en Nederlanders haar vernietig. In die moderne tonele is Sam en Thijs ook nie ongeskonde nie, terwyl Krotoa se verhaal boonop aan hul nerwe vreet. Dié spanning stuur dan op ’n dramatiese einde af.

Die geskiedkundige Krotoa se gawe om tale vinnig aan te leer was juis een van Flanders se groot uitdagings. Haar moedertaal is Engels en selfs om ’n Afrikaanse teks te leer, verg ekstra moeite. Laat staan nog Nederlands en Khoekhoe wat in die stuk gepraat word.

“Ons is natuurlik net te dankbaar vir die leiding wat ons in Khoekhoe gekry het – nou verstaan ons darem wat ons sê.”

Engelse boskrifte help die gehoor om die storie maklik te volg.

Flanders, ’n ouddramastudent van die Universiteit van Kaapstad (UK) met ’n menigte toneelstukke en musiekspele op haar kerfstok, sê sy was ekstaties toe sy die rol voor talle hoopvolle kandidate opgeraap het. Dit was sover haar grootste en uitdagendste rol.

Ander spelers op die verhoog is die musikante Frazer Barry van Suid-Afrika en die Nederlandse Jef Hofmeister wat die musiek gekomponeer het, dit uitvoer en ook ondersteunende rolle vertolk.

Flanders is ’n vryskutaktrise wat haar dagboek fyn moes beplan in die jare toe sy ook skoolgehou het. Sy het egter die skoolhou laat vaar en gee nog net per geleentheid klas aan ’n naskoolse instansie.

Tussen Krotoa-repetisies voor die kunstefees deur moet sy bontstaan om beskikbaar te wees vir die verfilming van The Riviera, ’n minireeks vir die SAUK oor die lewe van die aktrise Quanita Adams, wat ook die teks geskryf het.

Krotoa: Eva van de Kaap is in samewerking met die Volksoperahuis in Amsterdam vervaardig wat Flanders haar eerste besoek aan Nederland besorg het. Die geselskap het verlede jaar twee maande lank deur Nederland getoer en in Februarie vanjaar is Krotoa voor uitverkoopte sale in die Kunstekaap opgevoer.

Die enigste fees waar dié besonderse stuk vanjaar te sien sal wees, is by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein. Basil Appollis (The Keeper of the Kumm, Brother Love) is die regisseur.

Krotoa: Eva van de Kaap se opvoering op die Vrystaat Kunstefees is moontlik gemaak deur die Nederlandse ambassade in Pretoria en die Nederlandse Kultuur en Uitvoerende Kunstefonds.

* 1 en 2 Julie om 19:00, 3 Julie om 19:30, 4 Julie om 11:30 en 15:00. Die kaartjies kos R130 by Computicket.

Meer oor:  Krotoa  |  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.