Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
‘Die hart verklap’ is ’n ode aan akteurwees

Die hart verklap

kykNET-Scaena

****

Die hart verklap is ’n gedramatiseerde weergawe van Edgar Allan Poe se 1843-kortverhaal The Tell-Tale Heart, waarin ’n duidelik waansinnige man ’n kliniese beskrywing gee van hoe hy die bejaarde wat sy huisgenoot was, vermoor het. Die moordenaar versmoor sy slagoffer met sy eie matras, sny die lyk op en begrawe dit onder die vloerplanke. Die geklop van sy eie hart laat hom glo die slagoffer se hart klop nog onder die vloerplanke en dat die polisie dit noodwendig sal hoor, waarop hy sy misdaad beken.

Chris Vorster vertolk die hoofrol in Die hart verklap.

Dit is een van Poe se kortste kortverhale; die res van die 55 minute wat die vertoning duur, bestaan uit die akteur se kommentaar op die teks en teksaanwysings en boodskappe wat hy op sy (virtuele) regisseur se selfoon laat. Laasgenoemde is siek en kan nie die repetisie bywoon nie.

Die eintlike regisseur aan die stuur van hierdie innoverende spel-binne-spel-produksie is Dion van Niekerk. Enersyds word waansin fisiek in die vertrekte liggaam van die moordenaar uitgebeeld; andersyds, en selfs meer onderhoudend, bied die produksie deurlopende kommentaar op die praktiese sy van die repetisieproses. Soos die verhaal ontwikkel, gaan die akteur verskeie kere in en uit karakter, en sy metamorfose van akteur tot waansinnige moordenaar vang die magiese essensie van die teater vas: om op verbysterend realistiese wyse iemand anders te inkarneer. Hoewel onteenseglik komies, is die akteur se poging om sonder sy regisseur te repeteer ook vertederend en baie bekend vir enigeen wat al ’n produksie op watter vlak ook al aangedurf het. Veral die akteur se belangrikste teatervoorwerp, ’n lantern, sorg vir snaakse oomblikke omdat dit altyd elders as in sy hand is.

Die spronge tussen 1843 en 2019 en tussen fiksie en realiteit is natuurlik net moontlik met ’n akteur wat sy liggaam en stem ten volle beheer. Chris Vorster gee hier ’n meesterklas in interpretasie: soms sak die karakter so laag op sy knieë dat die akteur verklaar dat hy nou te oud word vir hierdie soort ding. Sy rug gaan in spasma, maar soos ’n wafferse biokinetikus weet hy watter oefening om te doen; wanneer ’n sekere beweging sy enkels laat pyn, moet ’n alternatief gevind word. Die fisieke aspek van akteurwees en die noodsaaklike instandhouding van die liggaam word meesterlik en met baie komiese oomblikke geïllustreer.

Die aanleer van woorde en die vrees vir geheueprobleme (Is die woord “uitstaan”, “verduur”, “vat”? Is dit “klam”, “kalm”?) kom ook onder die loep; die akteur probeer voortdurend verskillende stemregisters en maniere van lag wat die teks die beste sal dien. Sy namaak van klanke by afwesigheid van sy hele ondersteunende span, en dus ook sy klankman, is nog ’n aspek van akteurwees wat deel word van die produksie. Die byvoegings tot Poe se teks is veral moontlik omdat die goeie Afrikaanse vertaling hom daartoe leen.

’n Baie doeltreffende derde spelvlak word aan die einde gesuggereer: Is dit ’n repetisie van ’n kortverhaal oor waansin en moord waarin die akteur in beheer is, of is die fiktiewe moordenaar ook ’n potensiële slagoffer van die persoon in die coulisse? Die innovasie van hierdie produksie lê in die vermenigvuldiging van spel-in-spel-in spel; dit is veral ’n fassinerende en hoogs vermaaklike ode aan akteurwees.

* Nog vertonings van Die hart verklap vind op 5 Julie om 10:00 en 6 Julie om 13:00 in die kykNET-Scaena plaas.

Meer oor:  Feeste  |  Teater  |  Chris Vorster  |  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.