Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Die kultus van Spoegwolf

Vaar weg, kaptein Kurt. Skarumba, Juantita. Met die ghoeroe Piet Botha wat gegroet het, is daar ’n nuwe musikale leier vir die volk. Dis pastoor Danie.

Danie du Toit maak sy handtekening op ‘n jong aanhanger se tekkie. Foto: Conrad Bornman

Danie du Toit, spirituele leier van die kultus Spoegwolf, laat die volk van 16 tot 60 soos ’n pastoor van ’n charismatiese kerk uit sy hande eet.

Wat Donderdagaand in die Kopanong-Kovsiekerk gebeur het, was meer as ’n rock konsert. Spoegwolf se konsert getiteld Koma (die titel van hul jongste CD) was ’n belewenis.

Du Toit is die Freddie Mercury van Afrikaanse cult-rock.

Spoegwolf se songs is Gen Z-psalms wat hy al hardlopende deur die gehoor gooi en die koor tieners se krete met arms wawyd gesper ontvang.

Die spoegwolfies – meestal meisies met geskeurde jeans en nousluitende toppies – kraai elke woord van die psalms soos Blou, Storm, Geel en Skaduwee agter hom aan.

En die konsert in die kerk word ’n diens van ongewyde chaos van epiese omvang. ’n Meisie gooi selfs vir hom haar selfoon van die balkon met ’n boodskap op wat hy lees en vir Chris von Wielligh gee om terug te gooi.

Reënwolf, soos hy bekend staan in Spoegwolf, klouter op stoele, speel die klawerbord met een voet in die lug, speel die elektriese kitaar soos Jimmy Hendrix agter sy kop, sluip soos ’n jagluiperd op die verhoog en doen die ritteltitdans op een plek terwyl hy die psalms vir die Post-Millennials dikteer en hul jillend antwoord gee.

Danie sing tussen die skare in die volgepakte Kopanong-Kovsiekerk. Foto: Conrad Bornman

Alles in suiwer, eg-oorspronklike Afrikaans.

Reënwolf laat Vuurwolf ook sing. Danie du Toit hou die mikrofoon in plek terwyl Albert van der Merwe, baskitaarspeler, ook sing. Foto: Conrad Bornman

Die lirieke is vol verwysings na kleure, godsdiens, liefde, koel oomblikke. Dis poetry vir jong, rein harte.

Gemeng met pastoor Du Toit se magnetiese sjarme en energieke manewales skep dit ’n kragtoer wat ware spoegwolwe amper in ’n koma het.

Om Spoegwolf as alternatief te beskryf, is nie heeltemaak raak nie. Dis ’n soort fusion van spirituele cult-afrirock en eighties pop-rock. Daar is beslis niks wat soos hulle klink nie.

Spoegwolf se byt maak die volk blou-begeesterd en besield. Afrikaans kan doen daarmee in die era van breinlose twak wat radiostasies speel.

Danie du Toit, voorsanger en kitaarspeler van Spoegwolf, kyk na die jillende skare. Foto: Conrad Bornman
Danie du Toit, voorvanger van Spoegwolf, kreun die songs uit in hul optrede op die Vrystaatse Kunstefees. Foto: Conrad Bornman
Danie du Toit is die Freddie Mercury van Afrikaanse cult-rock. Foto: Conrad Bornman

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.