Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
‘Die Portret’ nou aanlyn te sien

Lus vir ’n boeiende toneelstuk in ’n regte teater? Soek dan Die Portret op die Vrystaat Kunstefees se aanlyn projek Snelstroom.

Christi-Ann Lombard as ma Patsy en Marijda Kamper as die versteurde dogter Katryn in ‘Die Portret’. Foto: Verskaf

Dié stuk het in 2019 die prys as die beste Vrystaatse produksie op die vrynge gewen en kry op grond daarvan plek op die volgende fees.

Was dit nie vir die akteur CW Laten wat die opvoering verlede jaar in die Scaena-Repteater in Bloemfontein vir die dramadepartement van die Universiteit van die Vrystaat se argief opgeneem het nie, sou Die Portret nie vanjaar sy prys op die aanlyn fees kon benut nie.

Dit is ’n sielkundige drama oor die Le Roux-gesin en twee van die drie kinders wat ’n afwyking het. Jannie is weens ’n breinbesering gestrem, maar niemand, nie eens sy ma, weet hoe hy die besering opgedoen het nie.

Dat Katryn ’n geestelike afwyking het, word duidelik wanneer sy terugkeer na hul dorp en daar altyd ’n probleem opduik waar sy was.

Dit blyk dan sy het ’n gesplete persoonlikheid waarvan die een ’n reeksmoordenaar is.

Die vraag is wat die probleme veroorsaak het nadat Jannie en Katryn aanvanklik normale kinders was.

Michelle Horn, die regisseur, sê “die storie ontlont terwyl die een krisis ná die ander opduik en dit is dan dat jy op die punt van jou stoel sal sit.”

Die akteurs is Marijda Kamper (Katryn), Nic Beukes (Jannie, die gestremde broer), Alec Debbo (Magnus, die ander broer), Christi-Ann Lombard (ma Patsy), Isabel Mostert (Rosa, Magnus se vrou), Thys Heydenrych (sielkundige) en Nico Taljaard (’n boer en die Le Rouxs se buurman).

Die storie ontlont terwyl die een krisis ná die ander opduik en dit is dan dat jy op die punt van jou stoel sal sit.
Michelle Horn

Horn sê dit is eintlik ondenkbaar dat die stuk deur ’n dramastudent in haar honneursjaar geskryf is. “Ek was saam met Marcelle Pieterse in die klas en het destyds ’n rol in die stuk as studenteproduksie gespeel. Die goeie storielyn, die intensiteit en dat dit geen onrealistiese verhaal is nie het my toe reeds opgeval.”

Horn, wat drama studeer het, meen sy is meer natuurlik aangelê vir regie as toneelspel. “As ek ’n dramateks of ’n boek lees, sien ek dadelik die prentjie en hoe dit op ’n verhoog sal afspeel. Dit is een van die redes waarom sy Die Portret vir verlede jaar se kunstefees ingeskryf het. Sy het geweet hoe dit moet lyk.

“Ek hou van toneelspeel, maar vind dit stresvol. Ek kies dus akteursrolle baie versigtig sodat dit nie te veel druk op my plaas nie, terwyl ek ’n regie-aanbod sommer maklik aanvaar.”

  • ’n Kaartjie kos R100 by Webtickets.

Ook op Snelstroom

Nog ’n produksie wat in die tweede week van Snelstroom met ’n oop gemoed besoek kan word, is Imaginery Futures deur Marcus Neustetter.

Dié kunstenaar het Sig/Sight in 2018 op die Vrystaat Kunstefees aangebied en in 2019 The Vertical Journey, bekroonde werke wat die verbeelding aangryp.

Volgens hom het “die performatiewe rolprent wat oorspronklik in die planetarium op Naval Hill vertoon is, verwondering opgeroep”.

’n Reeks aanlyn gebeurtenisse en uitstallings word nou virtueel aan die publiek beskikbaar gestel, wat “die reise in verskeie lae deur ruimte en tyd sal verdeel. Die speelse reeks optredes bevind hulself midde-in die spanning tussen wetenskap en kuns, die stedelike en landelike, die mitiese en beliggaamde, asook die verlede en die toekoms.”

Besoek www.imaginaryfutures.org om meegevoer te word deur Neustetter se verstommende eksperimentele werk.

‘Wyk en die meisies’, dokumentêre musiekteater oor NP van Wyk Louw met Erica Wessels, Frieda van den Heever en Tinarie Van Wyk Loots. Foto: Vrystaat Kunstefees
’n Toneel uit die dansproduksie ‘I put a Spell on You’. Foto: Verskaf

  • Wyk en die Meisies met Tinarie Van Wyk Loots, Erica Wessels en Frieda van den Heever is dokumentêre musiekteater wat beslis die kyk werd is. Dié stuk word beskryf as “die verhaal van die reus (NP van Wyk Louw) met goeie musiek en ’n uittreksel opgevoer uit sy geniale teaterstuk Germanicus.” Albert Maritz is die regisseur.
  • Onder die dansproduksies wat nuut op Snelstroom gelaai is, is I put a Spell on You uit Iran, Dolik’s Clothes en Made in . . .
  • Kinderproduksies: Tielman se kampkaskenades, Ruth en The Princess and the Pirate.
  • Daar is heelwat meer goeie teater om van te kies. Besoek www.vrystaatkunstefees.co.za, gaan na snelstroom en maak ’n lys van die nuutste gelaaide produksies oop. As jy verder rol, verskyn opsommings van al die genoemde opvoerings.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.