Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Digter blaas poësievlam op kunstefees aan

Die vrou wat met haar gedig gehelp het om Sarah Baartman “terug huis toe te bring”, het jong digters by die Vrystaat Kunstefees oor die helende krag van dié kunsvorm toegespreek.

Diana Ferrus, wie se derde boek, Die vrede kom later, einde vandeesmaand op die rakke verskyn, het van haar gedigte, “Dronkverdriet” en “I’ve Come to Take You Home”, voorgelees.

Digters van die Universiteit van die Vrystaat se PoClub het ’n uitvoering van hul eie digkuns gegee in ’n boekgesprek met die digter Diana Ferrus. Voor links staan Oratile Molale, met Jemima Meyer agter hom. Regs van haar is Thiamo Malatji, Thuthukani Ndlovu, assistent-koördineerder van die Literatuurfees, Ferrus en Motshidisi Rasego.

Ferrus het laasgenoemde gedig in 1998 ter nagedagtenis aan Baartman geskryf toe sy in Nederland studeer het en huis toe verlang het. Sy het onder die sterrehemel besef hoe eensaam Baartman moes wees toe sy in 1820 onder valse voorwendsels na Engeland en later na Frankryk geneem is. Die trane was onkeerbaar en die gedig móés geskryf word, het sy Maandagaand in die ATKV-boekoase vertel.

Dit was die heel eerste gedig wat in Franse wetgewing gepubliseer is toe dit as ’n pleitskrif gebruik is om Baartman se oorskot uiteindelik in haar tuisland terug te kry.

Thuthukani Ndlovu, assistentkoördineerder van die Literatuurfees, het die gesprek gelei en haar ook gepols oor raad aan ontluikende digters.

“Jy moet die besluit neem om te skryf. Vertel dit vir mense. Bly by die besluit en begin skryf, al is jy te skaam om dit vir ander te wys,” sê Ferrus.

“Lees ander gedigte! Gaan luister as ander digters voorlees. Win kennis oor digkuns in en die verskillende sienings daaroor.”

Sy sê tersiêre opleiding is nie die alfa en omega nie.

“As jy in jouself glo en vasberade is om te skryf, sál jy skryf. Jy het nie ’n universiteitsgraad nodig om ’n skrywer te wees nie. Jy moet weet wie jy is en in voeling wees met jou emosies. Jy moet die ongemak voel om baie persoonlik te skryf en dit later voor ’n gehoor voordra. Jy sal sien hoe vry jy raak.”

Digters van die Universiteit van die Vrystaat se poësiegemeenskap PoClub het haar ook op ’n opvoering van hul eie getrakteer.

Ook Tinashe Tafirenyika van Zimbabwe het die gehoor, Ferrus inkluis, in vervoering gehad met “Sarah Baartman”, ’n gesproke-woordopvoering wat deur Ferrus se huldeblyk geïnspireer is.

* Die vrede kom later verskyn op 27 Julie en is Ferrus se tweede Afrikaanse boek ná Ons komvandaan. Dit gaan oor Ferrus se pa wat ’n soldaat in die Tweede Wêreldoorlog was.

Meer oor:  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.