Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Doen nou al vir Vrystaat Kunstefees aansoek
Die plakkaat vir ‘Die besoek’, Bartho Smit se vertaling van die klassieke Duitse werk ‘Der Besuch der alten Dame‘, wat verlede jaar in ’n teater en aanlyn op die Vrystaat Kunstefees aangebied is. Foto: Vrystaat Kunstefees

Kunstenaars kan nou reeds aansoek doen vir die Vrystaat Kunstefees (VK) wat in Oktober vanjaar aangebied word, maar waarvan die voorbereidings reeds in volle gang is. Terselfdertyd word aansoeke ingewag vir Vrystaat Klank en Klassik (VKK), wat in November gehou word. Dié fees is suiwer gerig op kunsmusiek en word vanjaar die tweede keer aangebied.

Ricardo Peach, die uitvoerende hoof van die VK, sê hoewel die gevolge van die koronaviruspandemie steeds groot uitdagings en onsekerhede bied, veral vir die kunste, maak die feesbestuur vir verskeie moontlikhede gereed.

’n Multiplatform is geskep sodat kunstenaars kan aansoek doen vir lewende of aanlyn vertonings, of albei. Dit geld ook Klank en Klassik waarvoor die Odeionteater op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) beskikbaar is, maar aanlyn konserte ook welkom is.

As Covid-19-maatreëls dit toelaat, sal lewende vertonings soos gebruiklik in die goed toegeruste teaters van die UV aangebied word. Dieselfde vertonings kan ook aanlyn beskikbaar gestel word, hetsy as ’n regstreekse stroming of ná opvoerings.

Die Vrystaat Kunstefees-embleem.

Die afdelings waarvoor kunstenaars kan inskryf, is die hooffees en Vrynge, wat teatervertonings huisves, en vir die Hoofstroom en Vrystroom, wat die aanlyn komponent is.

Soos in die verlede kan aansoek gedoen word vir musiek, toneel, dans, visuele kuns, openbare kuns, vir die Blêrkas, die oopverhoog, asook enige ander soort aanbieding wat gewoonlik ’n tuiste in die Vrynge vind. Klassieke musici kan ook produksies vir die VK en die VKK inskryf.

Peach noem dat kunstenaars produksies elders in die land kan opvoer, met of sonder ’n gehoor, wat dan op die VK-platform uitgesaai word. Verlede jaar het die danskunstenaar Louise Coetzee die opsie met groot sukses deurgevoer.

Die dansvertoning is in Kaapstad aangebied en die aanlyn uitsending was wêreldwyd toeganklik. Daar was selfs ’n interaktiewe komponent wat belangstellendes die geleentheid gebied het om versoeke aan die dansers te rig.

Dit is ’n uitgemaakte saak dat die VK en VKK vanjaar sal plaasvind. “As teaters weens Covid-19-regulasies gesluit is, bied ons steeds ’n aanlyn fees aan,” sê Peach. Hy meen aanlyn moontlikhede het gekom om te bly.

Die aansoekvorms vir albei feeste is op die webwerf www.vrystaatkunstefees.com.

Aansoeke vir die Vrystaat Kunstefees sluit op 12 Maart en vir Vrystaat Klank en Klassik op 7 Mei.

Die presiese datums vir die VK kan nog nie verstrek word nie.

Die VKK word van 11 tot 14 November gehou.

Meer oor:  Vrystaat  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.