Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
‘Dumbing down doen dit nie vir my nie’

Die wittebrood ná apartheid was baie lekker, maar nie realisties nie. “Soos in ’n gewone huwelik moet jy dag ná dag die harde werk doen en in een rigting werk om dit te laat gebeur. Ek en jy wat die bevoorregtes was, is dit verskuldig om dit te laat gebeur,” sê Ruda Landman.

Ruda Landman tree as gesprekleier by verskeie debatte en gesprekke op vanjaar se kunstefees op. Sy is passsievol oor die land, eerstejaars en legkaartbou. Foto: Conrad Bornman

Ofskoon sy met “aftrede” is, sit Ruda, voormalige mede-aanbieder van Carte Blanche, nie stil nie. Haar joernalistieke tande bly skerp deur ’n reeks onderhoude wat sy vir die Change Exchange-webtuiste doen. “Dit gaan oor veranderingsmomente in mense se lewens.” Sy het verlede jaar ’n bundel, Tell me your story, met soortgelyke stories publiseer.

As sy nie as gesprekleier by die Vrystaat Kunstefees optree nie, luister sy óf potgooie, bou 2 000-stuk legkaarte, lees misdaadfiksie of bied ondersteuning aan eerstejaarstudente by wyse van ’n “book lit” genaamd “Grad”. “Dit gaan oor soft skills. Dit gaan oor die neem van verantwoordelikheid, soos met die bestuur van tyd en geld en goed soos studiemetodes en streshantering. Ons het vanjaar 160 000 kopieë na al 25 residensiële kampusse in die land versprei.” Sy sê 60% uit die 150 000 eerstejaarstudente van verlede jaar was eerstegenerasiestudente. “Hulle kan nie huis toe bel vir raad of geld nie. Ons moet hulle ondersteun ter wille van die land.”

Ruda sê haar patriotisme teenoor die land noop haar om “iets te doen”. Sy sê daar is geen manier hoe die land vandag swakker af is nie. “Ek het in die 50’s in die platteland grootgeword en geen opgeleide swart mens geken nie. Ons studentetal het tot 1,1 miljoen gegroei. Dit is nie agteruitgang nie.” Sy voeg by dat die goed wat elke dag in die koerant is, nie gister gebeur het nie. “Daar is mense en strukture in plek wat besig is om iets daaraan te doen. So ons is beter af. Ons moet na die movie kyk, nie net ’n foto nie.”

Sy het ’n intense belangstelling in mense. “Ek lees agter mense aan en ek hou dagboek van wat ek lees.” Haar geliefkoosde skrywers sluit Penny Kate en Deon Meyer in. “Ek hou nie van Tana French se boeke nie, want dit is die swakste van ’n mens wat na vore kom. Ek verkies om die goeie raak te sien.” Sy sê wanneer sy lees, soek sy na die goue draad in ’n storie en dit is ook dié ingesteldheid wat legkaartbou vir haar lekker maak. “Ek sal na die stukkie kyk en dan na die prentjie en vra, waar pas jy nou in?“ Sy raam nie haar legkaarte nie, maar skenk dit aan ’n tweedehandse winkel ten bate van bejaardes. Terwyl sy legkaart bou, luister sy na potgooie van die BBC, Malcolm Gladwell en Freakonomics.

“Ek is bekommerd oor swak joernalistiek. Gee vir my die agtergrond,” sê sy. Volgens haar was Die Burger reg met die slagspreuk “Lees Die Burger en praat saam”. Dit is nie meer waar nie, voel sy. Ofskoon Ruda belese is, het sy nie ’n antwoord vir die oorvereenvoudigde inhoud (“dumbing down”) wat aan lesers gebied word nie.

“Dit is vir my baie lekker om as gespreksleier op te tree, want dit dwing my om goed te lees wat ek nie noodwendig sou nie omdat elke gesprek na boeke verwys. Dis fassinerend. Donderdag het ek ’n gesprek met ’n transgender persoon gedoen.Dit is iets waaroor ek nie voorheen sou oplees nie. Jy sien ’n hele ander element van die lewe.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.