Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
‘Eet kreef!’ Nog, asseblief!

Dertig jaar nadat Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se Eet kreef! uitgereik is, het die album se musiek nuwe lewe by die Vrystaat Kunstefees gekry. Dié konsert gaan waarskynlik landwyd draai. Ilza Roggeband vertel meer.

Laudo Liebenberg op die verhoog tydens die Eet kreef!-konsert. Foto: Leopold Frechow

Sowat vier kilometer buite Bloemfontein, op die Kimberley-pad, is die legendariese Aasvoëlklub. Die pad daarheen is stowwerig. Die mure is van klip en steen, die dak van sinkplaat. Daar is winkelpoppe wat uit die dak hang en ’n magdom feetjieliggies in verskillende kleure. Jy kan jouself nie ’n Suid-Afrikaanse rocker noem as jy nog nie by die Aasvoëlklub gespeel het nie.

Net so legendaries soos die Aasvoëlklub, is die album Eet kreef! Dit was die eerste ateljee-album van Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band en is in 1989 uitgereik. Dit was een van die albums wat Afrikaanse musiek in ’n ander rigting gestuur het en sal altyd as ’n hoeksteen gesien word. Vra enige aanhanger van Afrikaanse musiek wat hul toptien-albums is, en Eet kreef! sal heel moontlik op die lys wees.

Kerkorrel was die sanger en klawerbordspeler, Willem Möller was op kitaar, Gary “Piet Pers” Herselman was op baskitaar en Jannie “Hanepoot” van Tonder was op tromme en tromboon.

Die album was natuurlik deel van die groter Voëlvry-beweging wat die establishment se fondasies geruk en jong Afrikaners na kelderverdiepings by universiteite gelok het. Opwindende tye.

Dit neem ’n baie spesiale groep musikante om 30 jaar later weer die album, elke liewe liedjie, op ’n verhoog te speel. Maar dan is Laudo Liebenberg ’n baie spesiale kunstenaar. Hy het ’n magiese teenwoordigheid op die verhoog en ’n stem so diep en volrond soos karamelsous. Meeste van die musikante was nog nie eens gebore toe Eet kreef! uitgereik is nie, maar hulle het liedjies soos “Sit dit af”, “Ossewa”, “Energie” en “BMW” gesing en gespeel asof hulle dit saam met moedersmelk ingekry het. Welgedaan aan ieder en elk.

Dit neem ’n baie spesiale groep musikante om 30 jaar later weer die album, elke liewe liedjie, op ’n verhoog te speel. Maar dan is Laudo Liebenberg ’n baie spesiale kunstenaar.

Ná ’n rasende toejuiging, is “Hoe ek voel” van Kerkorrel se album Bloudruk gespeel. Omdat feeste feeste is en produksies wag, het ons opgestaan en begin kar toe stap. By die deur het ek gesien die gehoor gaan hulle nie sommer laat gaan nie. Ek het sleepvoet kar toe gestap en kon hoor dat hulle weer “Hillbrow” sing. Dit is ’n produksie wat ek met ’n lied in die hart weer van begin tot einde sou kon kyk. Druk net rewind en ek is daar.

Hier is egter ’n groter geleentheid vir ’n ander fees of teater: dit het die potensiaal om ’n volwaardige teaterproduksie te word. Van Eet kreef! en Kerkorrel, van die omslag van die plaat en die pad wat hierdie musiek oop baklei het. Dié stories moet vertel word, anders gaan dit verdwyn.

Aan Liebenberg en sy span – wees verseker dat Ralph Rabie, ook bekend as Johannes Kerkorrel, tevrede sou wees.

Meer oor:  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.