Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Fees van sintuie op Kovsie-kampus

’n Sintuiglike ontploffing. Dít is waarmee feesgangers gekonfronteer word sodra hulle die terrein van die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein betree.

Die atmosfeer op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Bloemfontein-kampus, die feesterrein, is gelaai met geure en klank en kleur. En die koors wat reeds Maandag begin opbou het, bly styg.

Met die sterk reuk van kuns en allerlei kosse in die lug word feesgangers aan die neus gelei tot waar hulle wil wees.

Zané en Marzé Kilian (14), ’n tweeling van Kuruman, is onder die gereelde besoekers aan die Vrystaat Kunstefees. Dit is vanjaar die derde keer dat die kos en atmosfeer hulle na die fees lok. Foto: Mlungisi Louw
Straatvermaak op die Vrystaat Kunstefees. Die akrobate van Kaapstad, oorspronklik van Tanzanië, vermaak feesgangers met hul asembenemende toertjies. Onder is Hussein Issa, met Rutha Vedasto op sy kop. Foto: Mlungisi Louw
Sherryl Rudman, agent van Freestyle, by hul stalletjie met leerprodukte op die Vrystaat Kunstefees.Foto: Mlungisi Louw

Die magdom kosreuke en klanke vanuit alle oorde smelt saam.

Die doolhof stalletjies wat in sig self as vermaaklikheid beskou word, het Dinsdag op die feesterrein geopen. Van leerprodukte, klere en gebroude bier tot baardolie en medisinale cannabis is te koop.

Vir tant Bessie Friedrich is dit die fees se pannekoek wat haar lok. Sy woon die fees saam met haar dogter, prof.

Hesta Friedrich-Nel van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, by. Tant Bessie geniet ook die vertonings en om op die feesterrein rond te loop.

“Dis vir my so feestelik en opgewek. Jy sien lekker ou vriende raak en die eetgoedjies is baie lekker,” sê sy.

Sy sonder die plaaslike kunstenaars Brigitte Botha en Johan Cromhout se konsert Flying Fingers uit.

Die Prontuit-aanbieder Kabous Meiring op die Vrystaat Kunstefees. Sy is baie erg oor Bloemfontein en die fees.Foto: Mlungisi Louw
Klasie Viljoen van CannabisOil by hul stalletjie op die Vrystaat Kunstefees. Volgens hom werk hul medisinale cannabis-olie vir onder meer slapeloosheid, bloeddruk, cholesterol, kankertoestande en rugpyn. Foto: Mlungisi Louw

Die kleinspan met hul geverfde gesigte hou hulle onder meer op die springkastele besig.

Jomari du Toit van Bultfontein, haar kinders, Ella (2) en Leroux (4), en Jané van Zyl (3), ’n maatjie van Hoopstad, was op pad om Hans Haas Help! te gaan kyk.

Dié ma sien onder meer uit na Karen Zoid se vertoning en Die Sjokoladeshow met Lizz Meiring en Jak de Priester.

“Dis lekker en besig. Hier is regtig baie belangstelling. Dis lekker om te sien dat die fees so lewendig is,” sê Du Toit.

Die student Sanele Khanyele sê die Saterdag van die fees is altyd vir hom die hoogtepunt. En die biertent!

Op die feesterrein bied drie Tanzaniese akrobate van Kaapstad, Maliki Hamadi, Rutha Vedasto en Hussein Issa, indrukwekkende straatvermaak aan.

Die Prontuit-aanbieder Kabous Meiring is ook onder die feesgangers. “Ek is baie lief vir Bloemfontein en die fees, omdat ek dink dit is een van die rare plekke waar baie mense uit Afrika bymekaarkom met wat Ricardo Peach (feesdirekteur) nou gedoen het.”

Daar is bittermin dinge wat so eg Suid-Afrikaans is soos Bloemfontein, sê sy.

“En ek dink die fees het vanjaar ’n internasionale geur, wat baie spesiaal is.”

Sy verwys onder meer na die internasionale skrywers wat die fees bywoon.

Meer oor:  Vrystaat Kunstefees  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.