Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Friis vereer erfenis in boek
Lana Botha by die boek “Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat” van Jens Friis. Dis by die Vrystaat Kunstefees te koop by die stalletjie van Exclusive Books in die Eeufeessaal waar van die meeste boekbesprekings plaasvind. Foto: Marietjie Gericke

“Ons het die reg om trots te wees op ons eie goed. Daarom is die boek ook geskryf in die taal waarin ek droom: Afrikaans.”

Só het Jens Friis in ’n boekbespreking op die Vrystaatse Kunstefees geantwoord op ’n vraag van die gespreksleier, Marnie van Wyk, oor die keuse van die materiaal van sy boek “Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat”.

“Wat sou jy in die boek wat van die winkelrakke vlieg wou sien wat nie daarin vervat is nie?”, het Van Wyk gevra.

“Een boek kan nie elke aspek van die geskiedenis van ’n dorp saamvat nie. Sekere dele van die samelewing se “bewysstukke” (soos opgetekende stories en koerantuitknipsels) het ongelukkig lankal vergaan. Jy kan bloot gebruik wat beskikbaar is en gesaghebbend skryf oor wat jy ken en passievol is.”

Die boek is dikker gemaak as wat oorspronklik beplan is en beslaan nou 260 bladsye.

Vanweë aanvraag word ’n Engelse vertaling oorweeg om voorsiening te maak vir veral buitelandse toeriste wat die dorp besoek.

’n Opvolgboek is ook ’n sterk moontlikheid omdat ’n magdom inligting en foto’s moes oorstaan.

“Ek het nou een keer die paadjie gestap om self te publiseer - so ’n volgende keer ken jy reeds die pad.”

Dit is ’n groot lekkerte as iemand ’n boek koop - dis tog iets wat jyself gemaak het. Maar nóg lekkerder is dit as ’n boer wat laas 'Kringe in ’n bos' moes lees in matriek vir jou ’n paar dae later laat weet hy het jou boek so geniet dat hy dit van A tot Z gelees het!
Jens Friis

Friis sê ten spyte van ’n druktyd wat vanaf die begin op die horison gewink het, het die boek gelukkig maklik gekom weens ’n onblusbare passie vir sy geboortewêreld waarvan hy ’n deurgronde kennis en ’n feitlik onuitputbare bron van foto’s het.

“Dit is ’n groot lekkerte as iemand ’n boek koop - dis tog iets wat jyself gemaak het. Maar nóg lekkerder is dit as ’n boer wat laas “Kringe in ’n bos” moes lees in matriek vir jou ’n paar dae later laat weet hy het jou boek so geniet dat hy dit van A tot Z gelees het!”

Hy glo ’n rede waarom die boek gewild is, is omdat dit gevul is met feite, kaarte en foto’s - waarvan bittermin weet of al gesien is.

So was daar ná die Anglo-Boereoorlog byvoorbeeld nie ’n pad tussen Philippolis en Trompsburg nie.

“Nee, Emily Hobhouse sou via Springfontein (ook die naaste stasie) na Trompsburg en Edenburg ry om op Onze Rust by die Steyns te gaan kuier.”

Verder is die boek ook “baie visueel. Die mens wil nie meer net lees nie. Daarom het ek ryklik gebruik gemaak van kleurvolle foto’s op goeie papier - iets wat grootliks ontbreek in die meeste ander boeke oor Philippolis”.

Dié boekbespreking het Dinsdag die meeste besoekers gelok in die Eeufeessaal op die Kovsie-kampus. Die snerpende koue het belangstellendes vroegaand nie weggehou nie.

  • ”Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat” is self gepubliseer. Dis by die Vrystaat Kunstefees te koop by die stalletjie van Exclusive Books in die Eeufeessaal. Andersins is dit te kry by Protea Boekhuis of direk van die skrywer teen R350 (plus R100 vir koerier). Skryf aan Jens by jejofr@hotmail.com of loer op facebook.com/grootkaroo.
  • Moenie die Augustus-uitgawe van die tydskrif Weg!, ’n Media24-publikasie nes Volksblad, misloop nie. Hierin verskyn ’n onderhoud met Friis oor sy boek.
Meer oor:  Jens Friis  |  Boeke  |  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.