Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Goldberg-trio speel op Vrystaat Kunstefees
Morkel Combrink, Wessel Beukes en Christopher Evans, die Goldberg Chamber Players se stryktrio.

Die Goldberg Chamber Players van Gauteng, wat een van min suiwer klassiekemusiekkonserte op die Vrystaat Kunstefees aanbied, bestaan uit drie strykers wat onder meer vir die Johannesburgse Filharmoniese Orkes speel.

Christopher Evans (viool), Morkel Combrink (altviool) en Wessel Beukes (tjello) tree gereeld as stryktrio op en dikwels ook met soliste soos die violis Zanta Hofmeyr, die pianiste Malcolm Nay en Tinus Botha en klarinetspeler Morné van Heerden.

Beukes sê hul repertorium sluit werke in van Bach tot Richard Pantcheff, maar vir die Vrystaatfees het hulle ’n standaardprogam voorberei. Op hul program is Luigi Boccherini se trio’s 5 en 6 uit op. 47, Haydn se trio’s nr. 108 en 112 en Beethoven se Stryktrio op. 9 nr. 1.

Evans is ’n gebore Pretorianer wat saam met die gesin na Cardiff verhuis het toe hy 15 jaar oud was. Teen daardie tyd het hy reeds as violis ontwikkel en hom by die Rhondda-simfonieorkes aangesluit waarvan hy verskeie jare ’n lid was.

Hy het tersiêr aan die Bath Spa-Universiteit in Engeland studeer en ’n meestersgraad verwerf voordat hy onlangs na Pretoria teruggekeer het.

Combrink is ’n oud-Bloemfonteiner wat eers op 11 jaar by Richard Reid met vioollesse begin het. Vyf jaar later het hy altviool begin speel wat eindelik sy hoofinstrument geword het. Ná skool het hy grondwetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer, musiekles by die altviolis John Wille geneem en saans het hy vir die Pacofs-simfonieorkes en opera-orkes gespeel.

Sedert Combrink in Pretoria woon, speel hy vir verskeie orkeste en in kamerkonserte.

Beukes het sy tjellospel onder die Suid-Afrikaners Betty Pack en Marion Lewin begin voordat hy na die VSA is waar hy ’n meestersgraad aan die Universiteit van Cincinnati behaal het.

Hy het by die Tokyo- en LaSalle-strykkwartette kers opgesteek oor kamermusiek waarna hy as leiertjellis van die destydse Kaapstadse Simfonieorkes aangestel is. Sedert hy hom in Gauteng gevestig het, het hy die tjelliste in die Gauteng- Filharmoniese Orkes en die Suid-Afrikaanse Kamerorkes gelei.

Soos die meeste musici wat vir die Johannesburgse Filharmoniese Orkes speel, maak hy ook van vrye tyd gebruik om in kamerkonserte te speel. * 2 Julie om 15:00, 3 Julie om 10:00 in die Kunstetrust-Odeion. Die kaartjies kos R120 by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.