Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Haatspraak ‘dra wel by tot plaasmoorde’

Politici se haatspraak teen boere dra beslis by tot plaasaanvalle en -moorde, het Sihle Ngobese, ’n ontleder van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), die naweek in Bloemfontein gesê.

Ngobese het op ’n gespreksessie oor plaasmoorde by die Vrystaat Kunstefees gesê boere en Suid-Afrikaners moet ook van die groter aanslag teen hulle bewus wees. Dit gaan nie net oor misdaad nie, maar ’n geveg oor “jou lewe, jou vryheid en jou eiendom”.

Sihle Ngobese (regs), ontleder van die Instituut vir Rasseverhoudinge, het op ‘n gespreksessie oor plaasmoorde by die Vrystaat Kunstefees gesê politici se haatspraak teen boere dra beslis by tot ’n toksiese omgewing waarin plaasmoorde plaasvind. By hom is dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou, wat ook aan die sessie deelgeneem het. Foto: Charles Smith

“Een ding waarop hulle uit is om te kry is jou eiendomsreg. Suid-Afrikaners is nou onder beleg deur die politici. Dit dra ook by tot die geweld teen boere.

“As jy iemand demoniseer wat iets besit – hulle ‘is ’n probleem en is boos’ – word dit maklik om ’n misdaad te pleeg soos om ’n kind in ’n bad kookwater te gooi en om hom lewendig in sy voertuig aan die brand te steek.”

Hy het ook gesê as mense in landelike gebiede hul eie bevelvoerders van polisiekantore kan aanwys, sal dit baie help om misdaad te bekamp. Selfs ANC-ondersteuners stem hiermee saam.

Ngobese het gesê die rede vir plaasaanvalle is ’n mengsel van politiek wat ’n situasie van “ons en hulle” skep, met die “ons” as die breë gemeenskap en die “hulle” die “bose boere”, en die demografie. Die boere is gemiddeld 58 en ouer en misdadigers sien hulle en hul plase as maklike teikens waar moontlik geld en wapens is.

“Die mengsel hiervan skep ’n toksiese omgewing.”

Ngobese het gesê die IRV praat met alle Suid-Afrikaners en het onlangs ’n verslag met die titel “Hoop” uitgegee. Die meeste Suid-Afrikaners gee nie soveel om vir ras nie.

Die meeste is Godvresend, vredeliewend en gesinsgeöriënteerd.

Almal word geteiken: kommersiële boere, nuwelingboere en plaaswerkers.

As hy dit sê, sluit hy nie die uitwerking van haatspraak uit nie, soos dit deur die EFF-leier Julius Malema gepleeg word. Dit word gewoonlik slu gedoen, deurdat daar nie na wit mense verwys word wat doodgemaak moet word nie, maar na “witheid”. Haat en haatspraak word gereeld op radio bevorder.

“Boere word (deur politici) voorgehou as die hoofoorsaak van alle probleme in die land. Ons hoor politici praat van boere in negatiewe terme.”

Ngobese het ook gesê ’n mens moet die sosialistiese karakter van die ANC en die EFF verstaan om te weet hoekom hulle nie wit boere ondersteun nie. Hulle glo alle grond moet deur die staat besit word, wat dit aan die mense (“lees: politici”) gee. Hulle wil ook nie hê jy mag die grond besit nie, maar mag dit net vir 99 jaar huur.

“Die wit boere is ’n bedreiging vir hierdie ideologie. Hier is iemand wat die grond besit, die grond bewerk en kos hier produseer. Diegene wat die grond besit, is meer produktief.”

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou, het gesê plaasaanvalle is beslis aan die daal in die Vrystaat.

In 2016-’17 was daar 78 plaasaanvalle waarin ses mense vermoor is. Een was ’n boer en vyf was werkers.

In die 2017-’18- finansiële jaar was daar sewe moorde in die 68 plaasaanvalle in die Vrystaat. Onder die vermoordes was twee kommersiële boere, drie nuwelingboere en een werker.

In 2018-’19 was daar weer sewe moorde. Twee slagoffers was kommersiële boere, drie was nuwelingboere, een ’n werker en een was iemand wat op ’n plaas gewoon het.

Vanjaar was daar 48 aanvalle teen 60 die vorige jaar. Altesaam 20 boere, van wie vier nuwelingboere was, en 28 werkers is geteiken, het sy gesê.

“Almal word geteiken: kommersiële boere, nuwelingboere en plaaswerkers.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.