Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
‘Help!’ sê platsak dramaturg
Jeremeo Le Cordeur Foto: Verskaf

’n Kaapse teaterskepper het hom tot skarebefondsing gewend om drie produksies na die Vrystaat Kunstefees te neem. Sover het hy nog net R235 ingesamel. Christiaan Boonzaier het met kunslui gepraat oor die ware kostes om teater na feeste te neem.

’n Jong vervaardiger en dramaturg sit hande in die hare omdat hy drie produksies na die randfees van die Vrystaat Kunstefees, Vrynge, moet neem maar byna nie ’n sent het om daarvoor te betaal nie.

Die Kaapse teaterskepper Jeremeo Le Cordeur (30), wat ondanks hierdie finansiële hoofbrekens steeds hoop om Jerry, an Unconventional Hero; Dude, Wa’s my Bakkie? en Mama op die fees aan te bied, het hom nou tot skarebefondsing gewend.

Hy hoop om R25 000 op Thundafund in te samel voordat die fees op 1 Julie begin. Op 12 Junie was nog net sowat R235 geskenk.

“Hier staan ons nou: geen geld, geen budget,” sê hy verleë.

Jeremeo sê dat van die drie produksies reeds in die Alexander Bar in Kaapstad, die Woordfees en die Suidoosterfees te sien was, maar dat die drieling vir hom en sy span by Vulture Productions net ’n handvol pitte ingebring het.

“Ons het op die Suidoosterfees ’n bietjie geld en selfs ’n prys gekry, maar niemand in ons spannetjie het al die salaris gekry wat hulle werklik verdien nie.”

Hoewel hy ook gehoop het om die produksies vir die Fringe in Makhanda (Grahamstad) in te skryf, kon hy nie die R3 000-inskrywingsgeld bekostig nie; daarom het hy liewer vir die Vrystaat Kunstefees ingeskryf, waar ’n inskrywing net R200 beloop. Dié fees staan hom en nog drie spanlede nou met vervoer by die fees by en sal ook ’n gedeelte van hul verblyf betaal.

“Die Vrystaat Kunstefees was so gewillig om ons te help – hulle wou ons daar hê, en ek is so dankbaar vir al hul ondersteuning,” sê hy.

Kostoelae en akteursgelde is heel laaste op sy uitgawelys.

Die res van die uitgawes sal egter uit sy eie sak moet kom: Dit sluit die res van hul verblyf, hul reiskostes van Kaapstad na Bloemfontein, die huur van die venues waar die produksies opgevoer sal word, bemarking, kostuums, grimering en verhoogdekor in.

“Ek verneem dat die feesbestuur die venue se kostes van die kaartjieverkope aftrek, so ons hoef dit darem nie dadelik voor te skiet nie. As ons minstens R10 000 kan insamel, sal ons vervoer en verblyf darem gedek wees. En ons gaan die verhoogdekor so eenvoudig as moontlik hou.”

Kostoelae en akteursgelde is heel laaste op sy uitgawelys.

“Ek hoop ons sal kan eet; as ons meer geld kan insamel, kan ons daaraan dink. En gelukkig is al drie produksies eenman- of eenvrouvertonings, so ons het nie ’n groot rolverdelings wat betaal moet word nie.

“Ons sal darem ook 70% van die kaartjieverkope kry, maar omdat ons venue-kostes daarvan afgetrek word, weet ons deep down dat ons nie veel – wel, enigiets – gaan maak nie.”

As hy nie vinnig genoeg geld kan insamel nie, is ’n Plan B reeds in werking en ’n Plan C op ys.

“Plan B is om by skole op te tree, soos ons reeds doen, en die geld wat ons daar maak in ons Vrystaat-fonds te sit. Plan C kom maar op beg, steal and borrow neer. Ons sal by familie en vriende aanklop, en dan sal elke spanlid maar vir hul eie uitgawes verantwoordelik wees.

“Maar dis maar die lewe van creatives: Ons span saam en doen dit vir die ervaring. Dis eintlik ons grootste beloning.”

‘Kunstenaars, feeste trek swaar’

Volgens die vervaardiger Johan van der Merwe is Jeremeo se penarie redelik algemeen, veral onder jong dramaturge wat nog naam in die bedryf probeer maak – maar dit is allermins maklik vir selfs gesoute vervaardigers om die boeke te laat klop.

“Die uitgawes om ’n produksie op die planke te kry is iets verskrikliks,” sê Johan, wat nes Jeremeo ook verantwoordelik is vir drie produksies op die Vrystaat Kunstefees: Koekeloer!, Die Sjokoladeshow en die fees se vlagskipproduksie, Kamphoer– die verhaal van Susan Nell. Johan en sy vennoot by Theatrerocket, Rudi Sadler, vat ook die teaterproduksie DEURnis Makhanda toe, waar dit op die fees se hoofprogram is.

“Met ’n opdragproduksie bekom ’n mens befondsing, maar afhangend van die grote van die produksie, is selfs dit nie altyd genoeg nie,” verduidelik hy.

Die uitgawes om ’n produksie op die planke te kry is iets verskrikliks

“As ’n vervaardiger is jou akteurs, verblyf en vervoer gewoonlik van jou grootste onkostes – en dis ’n ongelooflike risiko as jy nie op befondsing kan staatmaak of ’n borg het nie. Dis byna onmoontlik om dit op jou eie te doen, so as ons nie finansiële hulp gekry het nie, sou ons dit nooit kon doen.”

Hy sê die ondersteuning wat feeste in Suid-Afrika bied, wissel van fees tot fees.

“Dit hang alles af van die ooreenkoms wat jy met die fees aangaan. Innibos is baie ondersteunend en dra gewoonlik die reis- en verblyfkostes – jy het byna geen uitgawes nie. Die Woordfees voorsien weer gratis etes en help soms met sekere reëlings rondom verblyf. By ander Afrikaanse feeste kom hierdie uitgawes baie keer uit jou eie sak. Dit maak dit vir die vervaardigers baie, baie moeilik.”

Dit is meestal ook nie winsgewend nie.

DEURnis is uniek en omdat dit nie ’n groot gehoor het nie – slegs een gehoorlid op ’n slag – is dit ’n duur produksie; selfs as dit uitverkoop, maak ons nie geld nie.

“Daar is heelparty kunstenaars wat op die einde nie ’n wins maak nie – eintlik werk die meeste teen ’n verlies – en hoe minder mense kom kyk, hoe groter is jou verlies. Dis hoekom geldinsamelings en borge so belangrik is.”

As ’n fees vir jou sê hulle het nie geld nie, is dit die waarheid. Die feeste kry almal swaar en maak nie geld nie.

Saartjie Botha, feesdirekteur van die Stellenbosse Woordfees, sê “dit breek my hart dat ’n kunstenaar na ’n fees toe gaan wetend dat hulle geld gaan verloor”. Ook feeste kry swaar, sê sy.

“As ’n fees vir jou sê hulle het nie geld nie, is dit die waarheid. Die feeste kry almal swaar en maak nie geld nie.”

Volgens Saartjie lê die hart van veral die Woordfees in die fees se toneelprogram, maar dat dit ook een van die fees se dele is wat vervaardigers se sak die hardste ruk.

“Dit is duur om teater te maak – kunstenaarsgelde, die inrigting van ruimtes, tegnici, reis. Dit is ’n duur oefening wat jy nie deur kaartjieverkope gaan verhaal nie; daarom is subsidies belangrik, maar dit is makliker vir ’n fees om befondsing te bekom as vir ’n individuele kunstenaar, veral ’n opkomende een.

“Onthou, hulle is aan die begin van hul loopbaan, hulle het nie ’n gevestigde gehoor nie, hulle is nog in ’n leerstadium, hulle het nie geld om ’n regisseur of vervaardiger aan te stel om seker te maak hul werk is op standaard of interessant nie, so dit is moeilik vir enigiemand om geld in hulle te belê.

“Dis hoekom kunstenaars maar moet doen wat hulle kan om blootstelling te kry en hulself te vestig.”

Onthou, hulle is aan die begin van hul loopbaan, hulle het nie ’n gevestigde gehoor nie, hulle is nog in ’n leerstadium, hulle het nie geld om ’n regisseur of vervaardiger aan te stel om seker te maak hul werk is op standaard of interessant nie, so dit is moeilik vir enigiemand om geld in hulle te belê.

Hoe feeste opkomendes steun

Volgens Saartjie het die Woordfees vanjaar vir die eerste keer ’n Vrynge-model gehad, waar opkomende kunstenaars hul talente kon wys.

“Ons het baie lesse geleer en wil dit verder ondersoek en ontwikkel,” sê sy.

Dr. Ricardo Peach, die Vrystaat Kunstefees se feesdirekteur, sê daar is nie op die oomblik enige inisiatiewe by dié fees wat jong en opkomende dramaturge en vervaardigers finansieel ondersteun nie.

“Ons bied eintlik net ’n platform vir hul produksies,” sê hy. “Ek sal wel baie keer vir van dié kunstenaars briewe skryf, wanneer hulle befondsing elders soek, om te bevestig dat hulle deel van die fees is en dat ons hul aansoek om befondsing ondersteun.

“Ons bied ook vir hulle werksessies aan met kenners van oor die wêreld heen – Australië, Mexiko, Frankryk, asook plaaslik – en daar moet hulle eintlik maar hul alie af netwerk.”

Die fees subsidieer ook hul randfees, Vrynge, waar hulle dit vir opkomende talent so goedkoop moontlik maak om aan die fees deel te neem.

“Ons gee ook vir hulle goedkoop verblyf en probeer sover moontlik met hulle onderhandel, om die fees ook vir hulle moontlik te maak.”

 Só moet Jeremeo maak

Johan se raad aan Jeremeo is om net moed te hou en betyds by ’n fees, NATi (die Nasionale Afrikaanse Toneel-inisiatief) of ’n private instansie om befondsing aansoek te doen.

“Die begin (van jou loopbaan) is altyd die moeilikste, want jy moet eers werk lewer wat jou talent bewys voordat iemand in jou sal belê. Later raak dit makliker.

“Doen vroeg aansoek. Jy moet borge ook aktief nader, wat ons selfs ’n jaar vooruit doen, want dit bly maar ’n battle.

“Praat ook met jou kunstenaars, want hulle is soms bereid om die finansiële risiko’s met jou te deel.

Soms moet ’n mens net reguit vra. Moenie bang wees nie – en wees spesifiek: ‘Ek soek R1 000’. Mense reageer goed as jy spesifiek is.

Volgens Saartjie moet Jeremeo ook nie bang wees om oral vir geld te vra nie.

“Hy moet met sy ouma gaan sit, vir haar verduidelik hoekom hierdie geleentheid (op die Vrystaat Kunstefees) belangrik is, en haar dan vra om almal wat sy ken vir ’n bydra te vra.

“Soms moet ’n mens net reguit vra. Moenie bang wees nie – en wees spesifiek: ‘Ek soek R1 000’. Mense reageer goed as jy spesifiek is.”

Saartjie beskryf Jeremeo se werk as ’n “juweel”. “Hy verdien om ondersteun te word,” sê sy.

Kan jy Jeremeo help?
Enigiemand wat Jeremeo en sy span wil help, kan hom hier op Thundafund ondersteun.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.