Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Ikoniese ‘Eet kreef!’ 30 jaar later weer opgedis
Die gewilde snit “Hillbrow“ van die album Eet kreef! kry in 2019 nuwe gestalte met, van links, Frank Freeman, Sheldon Yoko, Schalk van der Merwe en Laudo Liebenberg wat hul weergawe uitvoer. Foto: Skermgreep: YouTube

Dis dertig jaar sedert Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band (GBB) se album Eet kreef! in 1989 uitgereik is. Nou gaan dié ikoniese album in Julie op die Vrystaat Kunstefees herleef. Chutney de Ridder stel ondersoek in.

Daar is min Afrikaanse musiekaanhangers wat nie ’n Eet kreef-storie het nie.

Waar het jy jouself bevind toe die album uitgereik is; nog op die skoolbanke, ’n jong student dalk, miskien het jy pas begin werk.

Ongeag is Eet kreef! waarskynlik een van die eerste Afrikaanse albums wat ’n blywende indruk op mense gemaak het wat dit destyds vir die eerste keer gehoor het.

Drie dekades later en dié eerste indrukke geld steeds. Die album is tydloos. Die inhoud, selfs in ’n post-apartheid Suid-Afrika, is steeds relevant. Dalk selfs méér as wat ’n mens gemaklik mee is om te erken.

Dit was natuurlik nie die eerste album waarop Afrikaanse protesmusiek gehoor is nie. David Kramer se Bakgat (1980) en Baboondogs (1986), James Phillips se Wie is Bernoldus Niemand? (1985), Mac McKenzie en The Genuines (1987) en André LeToit se Ver van die ou Kalahari (1987) was voorlopers.

Maar Eet kreef! was die regte album op die regte tyd vir die regte (lees: regdenkende) Afrikaanstaliges. Dit het ’n sogenaamde alternatiewe musiekbewussyn of -beweging tot stand gebring. Dit was ook uiteindelik die naelstring waarmee die Voëlvry-fetus gevoed is.

Nou word dit herleef danksy ’n idee wat die jong gebore Bloemfonteinse rocker Frank Freeman gekry het na ’n terloopse gesprek met Arno Carstens (Springbok Nude Girls).

“Ek is die afgelope jaar of twee op ’n mission om ’n bydrae tot Afrikaanse musiek te maak,” verduidelik die talentvolle musikant, wat nog nie gebore was toe Eet kreef! destyds uitgereik is nie.

“Ek het Kerkorrel se musiek vroeër leer ken, maar dit onlangs herontdek. Dit is so vars en modern in vergelyking met ander Afrikaanse musiek van daai tyd. Dis waar die idee ontstaan het om sy musieknuwe lewe te gee. Ek was op pad om ’n show saam met Arno Carstens te speel toe ek dit terloops vir hom noem. Toe sê hy hoekom doen jy nie die hele Eet kreef!-album nie.”

Freeman het vir Etienne van Rooyen (klawerbord en verwerkings), sy ou vriend en medemusikant van Bloem, gekontak. Hy was dadelik aan boord. Schalk van der Merwe (baskitaarspeler vir Karen Zoid) en Sheldon Yoko (tromspeler van Die Heuwels Fantasties) het die viertal voltooi.

Eet kreef! strek vroeg in Julie oor twee vertonings op die Vrystaat Kunstefees.

“Oor wie die hoofsanger moet wees, was daar by my nooit enige twyfel nie. Laudo Liebenberg (aKing) was die logiese keuse. Sy stem is eenvoudig perfek vir die projek.” En toe was daar vyf.

Freeman het hierna die feeskomitee van die Vrystaat Kunstefees met die konsep genader. Eet kreef!, dertig jaar later. Vyf van die voorste jong musikante in Suid-Afrika op die verhoog. Nie ’n tribute show vir Kerkorrel nie, eerder ’n hedendaagse herlewing van ’n album gelaai met musiek en lirieke wat vandag net so diep tref soos drie dekades gelede. Die voorstel is dadelik aanvaar.

Liebenberg, vyf jaar oud toe Eet kreef! uitgereik is, erken daar is ’n hele paar uitdagings met ’n vertoning soos dié.

“Dit was ’n momentous album. Een met gravitas. Maar ons moes ook eerlik wees met onsself in aanloop tot die show. Dit sou ’n groot fout wees om dit as ’n tipe tribute te benader.

“So die doelwit is om iets uniek te bied, ons eie vertolking van Eet kreef!, as’t ware, deur ’n paar ander instrumente in te span, hier en daar te skaaf aan die aanbieding, maar om steeds die essence van elke snit vas te vang en om dit justice te doen.”

Oor die geleentheid om die voorsanger vir 2019 se Eet kreef! te wees, is die man met die goue stem beskeie. “Dis onmoontlike skoene om te probeer volstaan, maar dis ’n eer om te probeer.”

Die “probeer” werk goed. Hul weergawe van “Hillbrow”, by verre die bekendste en gewildste snit op die album, is sedert dit as promosievideo vir die feesproduksie op die musiekkanaal van YouTube gelaai is, wyd gedeel en het sonder uitsondering positiewe reaksie ontlok.

“Ek het dit nie sien kom nie,” erken Liebenberg. “En dit van uiteenlopende mense, jonk en oud, Afrikaans en Engels. Dis wys jou net weer die album raak mense van verskillende generasies. Baie mense het ná jare steeds ’n intieme verbintenis met Eet kreef!”

So, wat beteken die album nou, 30 jaar later, vir die jong generasie van musikante?

“Dis vir my belangrik om mense te herinner dat daar ’n geskiedenis was en dat daar ’n toekoms is vir alternatiewe Afrikaanse musiek en kultuur,” sê Freeman.

“Dis wat ons wil uitbeeld met die produksie. Ons handhaaf ’n goeie balans tussen respek vir die kenmerkende elemente van Kerkorrel en die GBB se songs, en ’n nuwe benadering tot die musiek.”

Volgens hom is die Vrystaat Kunstefees ook net die begin. “Ons wil dit beslis verder neem as net twee shows. Ek glo Eet kreef! sal na dertig jaar steeds landwyd aanklank vind.”

  • Eet kreef! speel op 1 Julie by die Kopanong Kovsiekerk en op 2 Julie by die Aasvoëlklub in Bloemfontein. Toegang is R120.
  • Meer inligting by @eetkreef op Instagram en EetKreef op Facebook.

Kyk hier na die nuwe video van “Hillbrow” op YouTube:

Meer oor:  Johannes Kerkorrel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.