Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Ilne Fourie se solokomedie bied doepa teen die virus

“Nooit in my lewe wil ek weer so baie rekwisiete gebruik nie,” sê die aktrise Ilne Fourie. Maar “lockdown” dryf mense tot vreemde dade, soos ook vertel word in Fourie se nuwe solovertoning, Die-skunnige-skinnery-van-Smitstraat-se-skinderaars-darem.

Lafras Verster (stelinkleding) en die aktrise Ilne Fourie, wat hier gereed is vir een van die sketse in ‘Die-skunnige-skinnery-van-Smitstraat-se-skinderaars-darem’. Foto’s: Verskaf

Dié komediesketse, asook Fourie se woordkunsproduksie Boesmanland, is deel van Snelstroom, die Vrystaat Kunstefees se aanlyn aanbiedings wat nog tot 13 November duur.

Fourie vertel op die Karoodorp waar sy grootgeword het, was daar alewig moeilikheid onder die inwoners van Smitstraat. In die toneelstuk is dit ook dié straat in die dorpie Alsverloren waar die mense mekaar die harnas injaag. Die oorsaak is die inperkingsmaatreëls weens die Covid-19-pandemie.

Een van die inwoners is ’n haarkapper wat werk, al is dit verbode, en wat natuurlik heerlike stof vir skinderstories bied.

’n Operasangeres wie se goue jare verby is, besluit om weer te sing en maak elke dag opnames wat vir die bure net een te veel is. So ’n geblêr kan hulle nie langer uitstaan nie.

Daar is ook ’n paartjie wat inhaal op verlore liefdestyd terwyl hulle Rudi en Corlea se CD op “repeat” speel.

Nog ’n inwoner van Smitstraat is ’n ma wat obsessief vrugteflesse versamel en voor die deur van ’n drankwinkel kamp opslaan om ook van dié bottels in die hande te kry.

Ilne Fourie in die toneel waarin ’n pa ’n tonnel grawe, kragdrade knip en kos opgaar omdat hy dink dit is die einde van die wêreld.

Een van die bure raak die kluts so kwyt dat hy ’n tonnel grawe, in die proses ’n gat in ’n ondergrondse waterpyp slaan en per ongeluk elektriese drade knip. Chaos breek uit.

Dan is daar die seun met die bakore wat ’n vlieënier wil word en lyk of hy enige oomblik van hul huis se dak gaan spring.

Fourie sê die stories word in vyf sketse in die sitkamers van Smitstraat se mense uitgebeeld. Al die vertrekke lyk verskillend en vir elkeen moet die meubels, portrette, gordyne, ornamente, blomme, alles vervang word. Dit is dié baie rekwisiete waarmee sy haarself nooit weer wil opsaal nie.

Sy kon darem op die kundige Lafras Verster staatmaak wat die stelinkleding behartig het en as dit nodig is, ook inspring om die klank en selfs die redigering van die aanlyn stukke te doen.

Teatergangers wat Ilne Fourie se solovertonings ken, het nie aanmoediging nodig om kaartjies te koop nie. Hulle weet wat ’n ontvlugting haar komiese werk bied.

Diegene vir wie die naam onbekend is, kan gerus kennis maak met dié knap aktrise, skrywer en regisseur. Die-skunnige-skinnery-van-Smitstraat-se-skinderaars-darem is die ideale bekendstelling.

Uit jou maag lag, is gewaarborg.

Woordkuns

Vir Boesmanland, wat ook deel is van Snelstroom, het Fourie teruggereik na die verteltegniek van die Khoi- en San-volke wat stories geweef het om die karakters wat hulle in die skadu’s van hul nagtelike vure sien.

Vir dié verplasing het Verster ’n skaduboks gemaak en “tientalle piepklein figuurtjies uitgesny wat die karakters in die stories en gedigte in die vertellings verteenwoordig,” sê Fourie.

Dit is magies om te sien hoe ’n meerkat uit sy gat kruip, hoe Klara Majola in dié gedig van DJ Opperman te voorskyn tree.

’n Toneeltjie uit die woordkunsproduksie ‘Boesmanland’.

“Die rondloper” en “Die dans van die reën” van N.P. van Wyk Louw, “Mabalêl” van Eugène Marais, “Makoemazaan, die waterman” van AG Visser, “Karoonag” van Coenie de Villiers en selfs Griekwa-psalms is van die werke waaruit Fourie se Boesmanland bestaan.

Sy kan nie uitgepraat raak oor die stemming wat die skadufiguurtjies skep nie, asook die klank van reën, paddas, krieke en sonbesies wat sy opgeneem het om tot die geheel by te dra nie.

“Hou veral dop wat gebeur wanneer ek die bekende woorde ‘eers oor die bergtop loer sy skelm’ in die gedig ‘Die dans van die reën’ voorlees,” sê Fourie.

Kinderproduksie

Die angs by jong kinders oor die vreemde omstandighede en nare “kiem wat almal se lewens versuur”, grootouers se verlange na hul kleinkinders en andersom het Fourie so ontroer dat sy ’n kinderstuk oor die onderwerp geskryf het.

Loeloe en die kriewelrige koronkong kiem sal egter ’n lewende ervaring wees. “Ons gaan dit in Desember opvoer in kleuterskole, kinderhuise, op partytjies en enige plek in Bloemfontein of die res van die Vrystaat en Noord-Kaap waar mense ons kan ontvang.”

Die boodskap wat Fourie in die stuk verkondig, is dat kinders nie die virus hoef te vrees as hulle die voorskrifte volg nie.

“So, ons gaan daardie kiem vang. Ons gaan haal maskers in die Wilde Weste en dra dit soos cowboys. Ons drink lemoensap en vitamiene wat die koronkongkiem in die bloed doodskiet en as ons na ouma en oupa verlang, gee ons die drukkiepoppie ’n stywe druk.

Barend Kriel (Jorsie) en Schoeme Grobler (Loeloe) tree saam met Fourie as Ouma Dot in die kinderstuk op.

  • Kaartjies vir al die produksies is op Webtickets beskikbaar.
  • Besoek ook die webwerf vrystaatkunstefees.co.za en klik op Snelstroom vir ’n volledige oorsig oor die sowat 300 produksies wat vanjaar op die fees aangebied word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.