Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Iraniër help soek na produksies vir Vrystaat Kunstefees
Sepehr SharifzadehFoto: Verskaf

’n Buitelander wat sy vinger op die internasionale kunstepols het en daarmee die Vrystaat Kunstefees (VK) sou kon verryk . . . Dit was in Ricardo Peach se gedagtes toe hy verlede jaar ’n seminaar in Oostenryk bygewoon het.

Op die Salzburg Global Seminar loop Peach, uitvoerende hoof van die Kunstefees, toe die ideale persoon raak: die Iraniër Sepehr Sharifzadeh. Hy en Peach is albei geesdriftige feesmakers wat ook aan internasionale blootstelling glo.

Sharifzadeh se taak is om internasionale produksies vir die VK se hoofstroom- en snelstroom-afdelings op te spoor, produksies waarmee Suid-Afrikaanse gehore hulle kan vereenselwig en wat hulle ’n blik kan gee op die soort aanbiedings wat internasionaal in aanvraag is.

Dié onafhanklike kreatiewe vervaardiger, kurator, feesmaker en navorser het sy loopbaan in die uitvoerende kunste as ’n skrywer, marionetkunstenaar, nar en mimiekkunstenaar begin.

In 2012 het hy ’n BA-graad in dramatiese literatuurkuns aan die Universiteit van Teheran verwerf en in 2015 ’n MA in die bestuur van poppeteaterfeeste.

Hy was egter nooit van plan om in ’n narkostuum en met ’n rooi neus ’n lewe te maak nie.

Sharifzadeh was reeds op 24-jarige ouderdom die medestigter van die eerste internasionale teateragentskap in Iran met die doel om kulturele uitruiling tussen Iran en die internasionale uitvoerende kunste te vergemaklik.

Hy was ook artistieke adviseur en kurator van verskeie feeste voordat die koronaviruspandemie hom kortstondig met sy hande in die hare gelaat het. Dié vasberade kunstenaar het homself egter vinnig reggeruk en voor mede-kunstenaars hul oë kon uitvee, het hy die aanlyn fees Re-connect gestig, asook die mikroteaterfees.

Sharifzadeh sê uit Teheran, hoofstad van Iran, dit is nie moeilik om produksies vir die Vrystaatfees te vind nie. “Ek het die afgelope agt jaar ’n uitgebreide netwerk van kurators, aanbieders, kunstenaars en agente gevestig. Die aanlyn aanbiedings wat ek die afgelope jaar gesien het, het my perspektief boonop aansienlik verbreed en my bewus gemaak van vertonings in plekke wat ek nooit persoonlik sou kon besoek nie.”

Volgens Sharifzadeh het die uitvoerende kunste in Iran sedert die privatisering van teaters tien jaar gelede geweldig ontwikkel.

“Die kunstetoneel hier is groot, divers, jonk en eksperimenteel. Voor die pandemie is sowat 120 vertonings elke aand in Teheran aangebied en sowat 100 kunstefeeste elke jaar in die land.

Sharifzadeh sê hy het ’n passie vir feeste: “Ek hou van die vrolikheid, ek hou daarvan om mense byeen te bring en ek is dol op die kollektiewe energie van ’n kunstefees.”

• Die Vrystaat Kunstefees vind vanjaar van 3 tot 10 Oktober plaas en sal in teaters op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat en aanlyn aangebied word. Aansoeke kan tot 19 Maart ingedien word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.