Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Klanke van ’n ander wêreld
Michaela Gleave het die Terrella-konsep ontwikkel. Foto’s: Verskaf

Aan die buitewyke van konvensionele teater ontwikkel deesdae kunsaanbiedings wat ver verwyder is van musiek-, toneel- en dansopvoerings waaruit die kunste volgens ons begrip bestaan.

Dié aanbiedings is aanvanklik vreemd en moeilik om in woorde te beskryf, maar as jy bereid is om daarna te kyk en luister, sal ’n nuwe wêreld vir jou oopgaan.

Verskeie sodanige interdissiplinêre installasies is gereeld op die Vrystaat Kunstefees te sien en op vanjaar se aanlyn fees trek veral Terrella aandag.

Vir dié projek is ’n app ontwikkel waarop jy na die aarde se magnetiese veld kan luister.

So lyk die Terrella-app op ’n slimfoon.

Dit werk so: Michaela Gleave, ’n Australiese konsepkunstenaar, het regstreekse data van geomagnetiese sterrewagte oor die wêreld heen bekom wat die komponis Amanda Cole in musiek omskakel.

Die luisteraar kry toegang deur ’n selfgenererende app wat op die aarde se frekwensies inskakel, die fluktuasies van die magnetiese veld herlei soos dit op daardie oomblik klink en dit dan deur musiek weergee.

Terrella genereer ’n elektries gelaaide klankskap wat die grootsheid van ons natuurlike wêreld openbaar. Die vloei van elektrone en die krag van sonwinde vang die eb en vloei van magnetiese aktiwiteite op, klanke wat die mens nie kan hoor nie, maar deur tegnologiese ontwikkeling hoorbaar is,” verduidelik Gleave.

Die hulp van wetenskaplikes en tegnologie-ghoeroes is ingeroep vir die installasie wat die eerste in sy soort ter wêreld is.

Gleave sê Terrella is nie ’n opvoedkundige of feitelike projek nie; die doel is om verwondering vir die grootse natuurverskynsel te ontlok.

Hier is van die plekke waarop geklik kan word om na magnetiese aktiwiteite in die interdissiplinêre installasie te luister.

Warren Armstrong het die app ontwikkel en die projek word gefinansier deur die Australiese raad vir die kunste.

Om Terrella te luister, tik by Google in http://geomagneticmusic.net, klik op die taal wat jy verkies vir ’n beskrywing van die projek. ’n Kaart verskyn waar jy kan klik op enige van die aangeduide plekke waar jy na die magnetiese aktiwiteite kan luister soos dit in daardie oomblikke klink.

‘Tussen Vriende’

Pleks van handjies gevou te sit in die Covid-19-inperkingstyd het die amateur-akteurs Abigail Lerato en Leoni Visagie besluit om ’n fliek te maak.

Hulle het ’n draaiboek geskryf en Audrey Visagie betrek om die projek te finansier.

Die uiteinde van die spontane projek, wat deels onder leiding van die ervare Charles Human staan, is dat dit ingesluit is by Vlieks, een van die afdelings op die Vrystaat Kunstefees se vrystroom-aanbieding.

Die verhaal gaan oor Leigh-Anne wat terugkeer na haar vriendekring in Heidedal en haar eie onderneming begin.

Alles is egter nie soos dit op die oppervlak lyk nie. Wanneer van die vriende se geheime op die lappe kom, vind sy ’n manier om meer geld te maak – deur afpersing.

Talle akteurs is hierin te sien, onder andere Jaydon Visagie, Saschine Cornelissen, Adelia Fortein, Euvaigha Stallenberg, Harrisson Prins en Gershwynn Philemon.

Dit is ’n verhaal vol intriges en spanning in Engels en Afrikaans.

’n Kaartjie kos R50 by Webtickets. Vind Webtickets onder meer op die Vrystaat Kunstefees se webwerf by vrystaatkunstefees.co.za. Kliek op vrystroom, gaan na die soekglasie, tik Tussen vriende in en onderaan die inligting is ’n skakel vir die koop van ’n kaartjie.

Kyk gerus ook na die ander titels onder Vlieks.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.