Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Klaviere, orrels gaan betower op VS-Kunstefees
Die orrelmaats Andrea Kayser-Mitas en Isabelle van Rensburg met hul rooi orrelskoene, vandaar die naam Rooi4.

Twee is beter as een, en indien nie beter nie, dan ten minste lekkerder. Dit sal menige musici jou vertel, veral pianiste en orreliste wat die meeste aan solowerk oorgelaat is.

Musici wat dié siening ter harte geneem het en as duo’s op die Vrystaat Kunstefees optree, is die Bloemfonteinse pianiste Johan Cromhout en Brigitte Botha, bekend as die Flying Fingers, en die Pretoriase orreliste Andrea Kayser-Mitas en Isabelle van Rensburg, oftewel die Rooi4-orrelduo.

Rooi4-orrelduo

Dié twee Pretorianers het ’n program saamgestel wat selfs die mees geswore orrel-afvalliges sal lok. Hulle begin met ’n uittreksel uit die Swanemeer-ballet van Tsjaikofski, ’n seldsame keuse, maar wat sin maak as jy dink aan die ooptrek van die verskillende registers sodat dit soos ’n simfonieorkes klink. Edwin Mitas het die musiek verwerk, asook Palladio van Karl Jenkins.

Nog ’n interessantheid is die “Walse vir vier voete” wat Johann Strauss II vir orrelduet gekomponeer het. Ook dit is geen gereelde konsertwerk nie.

Twee solokomposisies is Toccata for Madiba van Surendran Reddy wat Kayser-Mitas sal uitvoer en

Carrilon de Westminster van Louis Vierne waarvoor Van Rensburg voor die orrel sal plaasneem.

John Rutter, bekend vir sy koorwerke, het Variations on an Easter Theme as ’n orrelduet geskryf waarmee Rooi4 hul uitvoering afsluit.

Albei orreliste het lang en indrukwekkende CV’s wat begin met BMus-grade aan die Universiteit van Pretoria (UP) en eindig met doktorsgrade onder prof. Wim Viljoen. In die jare tussenin het hulle beurse en pryse ingeryg asof dit uit die mode gaan.

Van Rensburg het ook die geleentheid gehad om in 2018 aan die Internasionale Orrelfees in Nederland en verskeie meesterklasse deel te neem.

Net ná die Vrystaat Kunstefees vertrek sy na Amerika vir die Internasionale Bachfees in Oregon wat aangebied word deur Paul Jacobs, orrelhoof aan die Julliard-musiekskool in New York.

Kayser-Mitas begelei verskeie kore, onder andere die Jakaranda-kinderkoor, die UP-jeugkoor en die Akustika-sangers, asook instrumentale en sangsoliste.

Sondae sal jy haar voor die orrel in Rooihuiskraal se Apostoliese kerk kry waar sy ook musiekonderrig bevorder.

Hierbenewens is sy ’n ywerige slypskool-aanbieder vir musiekonderwysers en gee klas aan die UP.* 4 Julie om 13:00, 5 Julie om 10:00 in die Kunstetrust-Odeion. R120 by Computicket.

Flying Fingers

Cromhout en Botha tree al verskeie jare as klaviermaats op, partykeer vier hande op een klavier, partykeer op twee klaviere. In vanjaar se kunstefeeskonsert bied hulle albei formate aan.

Botha sê hul keuse van werke is “opruiend en elegant, vrolik en rustig. Lekker luistermusiek”. Die program bestaan uit vier klassieke werke wat vir hulle groot genot verskaf en hopelik ook vir die gehoor, sê Botha.

Die program begin met Liszt se opruiende Hongaarse rapsodie nr. 2. Schubert se Rondo in A majeur vir klavierduet verteenwoordig elegansie, Mozart se Sonate in C majeur is vrolik en rustig, en Arensky se Suite nr. 1 op. 15 vir twee klaviere ’n openbaring vir diegene wat nie met die Russiese komponis se musiek vertroud is nie. Botha beskryf dit as “lieflike elegante musiek”.

Cromhout is ’n departementshoof aan die St. Michael’s-skool in Bloemfontein en Botha is nog tot einde vanjaar ’n Duits-onderwyser aan die Hoër Meisieskool Oranje.

Albei het musiek studeer en speel reeds die afgelope 24 jaar saam. * 1 Julie om 16:30, 3 Julie om 13:00 in die Kunstetrust-Odeion. R130 by Computicket.

Meer oor:  Musiek  |  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.