Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Kom geniet ’n kunssafari op Vrystaat Kunstefees
Tired of Overthinking It (akriel en ink op doek, 2018) deur Banele Khoza.

Kunsuitstallings kry op kunstefeeste nie dieselfde media-dekking as verhoogproduksies nie. Die rede is eenvoudig. Kunsuitstallings kan enige tyd tydens ’n fees besoek word terwyl besprekings nodig is vir produksies wat op bepaalde tye aangebied word.

’n Ander belangrike faktor is die feit dat dit niks kos om ’n visuele kunsuitstalling te besigtig nie, maar tensy jy ’n kunskenner is, sal jy ook niks daarvan verstaan nie.

So, hoe gemaak as jy insig wil kry in die werke wat op die Vrystaat Kunstefees uitgestal word?

Woon die kunssafari’s by vir kennersinligting oor die uitstallings op die hooffees en sluit aan by ’n vernissage vir die Vrynge-uitstallings.

Vernissage is ’n Franse woord vir ’n voorafblik op ’n uitstalling. In die buiteland kan dit net op uitnodiging bygewoon word en is die genooides kunsliefhebbers met diep sakke wat eerste keuse vir die aanskaf van kunswerke kry.

Vernissage is ’n Franse woord vir ’n voorafblik op ’n uitstalling.

In die Vrystaat doen ons dit anders – enigeen wat belang stel kan by die vernissage aansluit.

Al die aanbiedings is gratis en óf die kurators óf die kunstenaars sal oor die werke gesels.

Daar is twee safari’s na die hooffees-uitstallings.

Op 1 Julie om 18:30 vertrek die eerste safari van die Scaena-portaal na Betwixt & Between, Dwell in Possibility en Footprints.

Beelde van rook op glas transformeer in heldefigure – onkonvensionele kuns deur Julian Mentz.

Die Free State Art Collective met kunstenaars soos Danielle Pretorius, Andre Rose, Janine Allen en Petra Schutte bied Betwixt & Between (Scaena-portaal) aan. Dit bestaan hoofsaaklik uit skilderye wat die mens se “tussentoestand” uitbeeld. Karen Brusch is die kurator.

Nasionale kunstenaars soos Michael Taylor, Lien Botha, Andile Dyalvane, Mbongeni Buthelezi, Iaan Weldeck,

Bongi Bengu en vele ander neem deel aan Dwell in Possibility (Eeufeesgalery). Die werke toon die verskil wat die individu deur kuns kan maak wanneer rampe die wêreld tref. Johann du Plessis is die kurator.

Footprints (Johannes Stegmann-galery) dek sowat 25 jaar van Andrew Tshabangu se wit-swart-fotografie. Hy herinterpreteer post-koloniale Suid-Afrika deur rituele soos

pelgrimstogte, die was van klere, brood bak, brandhout aandra en wag op vervoer. Thembinkosi Goniwe is die kurator.

Op 2 Julie om 18:00 begin die tweede safari in die hoofgebou op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) vir Blood Relatives, Seeking Love en #i.

Die befaamde fotograaf Cedric Nunn sê oor Blood Relatives (Oliewenhuis-kunsmuseum): “Ek het ’n diepgewortelde behoefte om my identiteit as ’n Suid-Afrikaner van gemengde herkoms te ondersoek. Ek het ongemaklik gevoel met ‘Cape Coloured’ wat die staat aan my toegeken het en moes tot ’n nuwe begrip kom van my oorsprong en plek in my land.”

Rosie Strydom after the death of her late husband, Inhlwati1993, fotografie deur Cedric Nunn.

Seeking Love (Oliewenhuis-anneks) is ’n helderkleurige visuele interpretasie van Banele Khoza se beheptheid met die liefde.

#i (Oliewenhuis, Reservoir), die projek wat die fotograaf Jodi Bieber met 45 jong mense van Johannesburg aangepak het, behels portretkuns, fotografie, visuele navorsing, onderhoude, teks, digitale collage en ontwerp. Die projek het ’n plakkaatveldtog tot gevolg gehad wat besoekers die meevaller bied om een litografiese druk uit 45 stapels huis toe te neem.

Vrynge-uitstallings

Op 30 Junie om 17:30 kan belangstellendes vir ’n vernissage van dié uitstallings op die Vrynge-plaas byeenkom.

Een van die eietydse aanbiedings is Een fees, baie stories. Dit toon beelde van rook op glas wat verander na gelang van die lig wat daarop gewerp word en verwronge figure in heldefigure transformeer.

Kunsblokke deur Vrystaatse kunstenaars word in die Scaena-portaal uitgestal.

New Breed Art Blocks (Scanea-portaal) is ’n massa-uitstalling van 150 geblokte kunswerke deur Vrystaatse kunstenaars. Dit sluit werke in van wenners van die Phatshoane Henney New Breed-kompetisie. Meer blokke sal tydens die fees geskep word.

neXus, ’n installasie deur vier kunstenaars van Suid-Afrika en vier van Brighton in Engeland, is die eerste in ’n uitruilprogram. Die uitstalling word in Augustus vir die Brighton Pride-seisoen na Brittanje verskuif.

Platfontein Print Project behels ’n portefeulje van drukkuns deur jong kunstenaars van Platfontein in die Noord-Kaap en is werklik ’n besoek werd.

Raku, die Japannese vuringsmetode in keramiekkuns, word deur Dina Grobler in die kunsdepartement van die UV aangebied.

The Keepsakery is onkonvensionele kuns van ’n handgetekende virtuele realiteit-omgewing waarin die besoeker virtuele 3D-skanderings van mense se huishoudelike skatte kan “aanraak”, “vashou” en opnames van hul stories hoor.

War Without Glamour, ’n uitstalling oor Emily Hobhouse, behels dokumente wat nuut geskenk is aan die Bodleian-biblioteek in Oxford, asook briewe, skilderye en artefakte uit internasionale versamelings.

Buiten Raku en New Breed is al die uitstallings op die Vrynge-plaas.

Meer oor:  Kuns  |  Vrystaat Kunstefees  |  Vrynge  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.