Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Konserte vir babas op Vryfees
Michélle Bornman met haar ses maande oue Benjamin en die aktrise Schoemé Grobler in ’n vertoning van Babah. Foto’s: Conrad Bornman

’n Teateropvoering vir babas klink onwerklik, want wat kan kleintjies van vier tot 12 maande daarvan verstaan?

“Ons onderskat die jongstes onder ons,” sê Schoemé Grobler van PuppeTrix, die tweede geselskap in Suid-Afrika wat babateater aanbied.

Grobler meen sy is bevoorreg dat haar debuut met Babah op verlede jaar se Vrystaat Kunstefees goed ontvang is, want hoewel babateater in Europa reeds ’n volwaardige styl is, was sy onseker of dit in Suid-Afrika aftrek sou kry. Die speelvak wat sy daarná in Johannesburg gehad het, was net so suksesvol.

Volgens Grobler is die doel met dié teater om baba’s en peuters se verbeelding te prikkel, hulle kognitief te stimuleer en hul ontwikkeling te ondersteun.

Die vertonings is baie intiem, sê sy. “Ons bied dit in ’n gazebo aan waar die versorgers en babas saam op kussings sit, op dieselfde hoogte en binne raakafstand van die akteurs.

“Ons volg ’n soort narratief, maar vir die babas is dit werklik net ’n sintuiglike ervaring. Ons pas die musiek en beweging volgens die ontwikkelingsfases van die babas aan.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe ’n klomp babas 30 minute lank kan stil sit en die ervaring inneem en geniet. Soms is daar uitroepe van opgewondenheid, soms dwaal hul aandag na ander babas. Maar ouers kom sê gereeld ná ’n vertoning hulle het nie geweet hul kind is in staat om so stil te sit nie.”

Grobler se belangstelling in babateater is geprikkel toe sy in 2016 die wêreldkongres van die Internasionale Vereniging van Teater vir Kinders en Jong Mense in Kaapstad bygewoon het. “Dit het my emosioneel geraak en ek het besef dít moet verder geneem word.”

Grobler het verlede jaar ’n teaterfees vir jong kinders in Bologna, Italië, bygewoon en is nou op pad Singapoer toe om Babah op ’n teaterfees daar aan te bied.

Die internasionale kinderteatermaatskappy ACT3 het haar uitgenooi en gevra om saam met hulle aan Archipelago te repeteer, ’n produksie vir een- tot vierjariges wat in Julie na die Vrystaat Kunstefees gebring word.

Grobler het Archipelago vertaal wat ’n metaforiese uitbeelding van ’n kind se lewe as ’n eiland is.

Sy bied vanjaar Babah-Go-Round vir babas van vier tot 12 maande oud op vanjaar se Vrystaatfees aan.

Die fees word van 1 tot 7 Julie in Bloemfontein gehou.

Meer oor:  Teater  |  Babas  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.