Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Met jou gedigte raak jy vry

Die vrou wat deur middel van haar gedig gehelp het om Sarah Baartman terug huis toe te bring, het jong digters by die Vrystaat Kunstefees toegespreek oor die helende kragte van dié kunsvorm.

Digters van die Universiteit van die Vrystaat se Poclub het ’n uitvoering gegee van hul eie digkuns tydens ’n boekgesprek met die digter Diana Ferrus. Heel voor staan Oratile Molale, agter hom is Jemima Meyer, regs van haar staan Thiamo Malatji en links Guide Sengwe. Voor met die drom sit Motshidisi Rasego. Agter sit Thuthukani Ndlovu, assistent-koördineerder van die Literatuurfees, en Ferrus.Foto: Cheréne Pienaar

Diana Ferrus, wie se derde boek, Die vrede kom later, einde vandeesmaand op die rakke verskyn, het haar gedigte, “Dronkverdriet” en die einste “I’ve come to take you home” voorgelees.

Ferrus het dié gedig in 1998 ter nagedagtenis aan Baartman geskryf toe sy in Nederland studeer en huis toe verlang het. Die trane was onkeerbaar en die gedig móés geskryf word, het sy Maandagaand in die ATKV-boekeoase vertel.

Sy het destyds onder die sterrehemel besef hoe eensaam Baartman moes wees toe sy in 1820 onder valse voorwendsels na Engeland en later Frankryk geneem is.

Dit was die heel eerste gedig wat in die Franse wetgewing gepubliseer is toe dit as ’n petisie gebruik is om Baartman se oorskot uiteindelik in haar tuisland terug te kry.

Thuthukani Ndlovu, assistent-koördineerder van die Literatuurfees, het die gesprek gelei en haar ook gepols oor raad vir ontluikende digters.

“Jy moet die besluit maak om te skryf. Vertel dit vir mense. Bly by die besluit en begin skryf, al is jy te skaam om dit vir ander te wys. Lees ander gedigte! Gaan luister as ander digters voorlees. Win kennis in oor die digkuns en die verskillende sienings daaroor.”

Sy het gesê tersiêre opleiding is nie die Alfa en Omega nie.

“As jy in jouself glo en vasberade is om te skryf, sal jy skryf. Jy het nie ’n universiteitsgraad nodig om ’n skrywer te wees nie.

“Jy moet weet wie jy is en in voeling wees met jou emosies. Jy moet die ongemak voel om baie persoonlik te skryf en dit later voor ’n gehoor op te boer.

“Jy sal sien hoe vry jy raak.”

Digters van die Universiteit van die Vrystaat se Poclub het haar ook bederf met ’n opvoering van hul eie.

Ook Tinashe Tafirenyika van Zimbabwe het die gehoor, Ferrus inkluis, in vervoering gehad met “Sarah Baartman”, ’n opvoering van die gesproke woord wat geïnspireer is deur Ferrus se huldeblyk.

  • Die vrede kom later verskyn 27 Julie en is Ferrus se tweede Afrikaanse boek ná Ons komvandaan. Dit gaan oor Ferrus se pa wat ’n soldaat was in die Tweede Wêreldoorlog.
Meer oor:  Vrystaat Kunstefees  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.