Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Nou raak dit mos ’n baie lekker wêreldfees

Bloemfontein is besig om ’n mark te word waar mense, plaaslik en van die buiteland, Afrika se werke in die kunste kom beskou, sê dr. Ricardo Peach, direkteur van die Vrystaat Kunstefees.

Dr. Ricardo Peach, direkteur van die Vrystaat Kunstefees, saam met ’n paar ywerige feesgangers. Foto: Conrad Bornman

“Ons raak ’n bymekaarkomplek waar idees tussen plaaslike en oorsese kunstenaars en ander mense wat in die bedryf werk, uitgeruil word met die oog op moontlike samewerking in die nabye en verre toekoms. Ons is altyd oop vir nuwe werke,” sê Peach.

“Waar ons verlede jaar sowat 30 internasionale kunstenaars hier gehad het, het dit gegroei tot nagenoeg 100 verjaar. En in 2015 was hier net drie. Enkele skrywers wat voorheen hier was, het op hulle eie omkoste teruggekeer omdat hulle die fees so geniet.

“Een van hulle, Mira Feticu van Holland, het selfs ’n werksessie gratis kom aanbied. Dan was twee van die grootste dramaturge van Italië en Holland, onderskeidelik Marco Calvani en Lot Vekemans, ook op ons fees.”

Volgens Peach was die feesdirekteure van die KKNK, Woordfees, Aardklop en Innibos sowel as ’n fees in Mexiko en Frankryk almal hier as deel van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief. Hulle is aan die internasionale kunstenaars bekend gestel en het oor moontlike toekomstige samewerking op hulle feeste gepraat.

Peach sê hy glo nie die Vrystaat Kunstefees brei te wyd uit nie.

“Net omdat mense nie alles te siene kry nie, beteken nie ander mense het nie wel daarby uitgekom nie. Ons maak maar staat op FOMO (fear of missing out).”

Die gehalte van die Vrynge het vanjaar groot lof ontvang wat vir Peach groot genoegdoening gee.

“Baie van die sukses is danksy Michael Garbett, die koördineerder. Kunstenaars vertrou hom om ’n platform te skep wat hulle welkom laat voel en wat sensitief vir hul behoeftes is.

Net omdat mense nie alles te siene kry nie, beteken nie ander mense het nie wel daarby uitgekom nie.

“Die aantal Vrynge-aanbiedinge het van 70 tot 85 gegroei. Daar was selfs drie internasionale produksies (twee van Nigerië en een van Brittanje).

“Die Woordfees het ook vanjaar met ’n fringe begin en Aardklop beplan dieselfde, so dis lekker dat ons so ’n sirkel by die Afrikaanse feeste kon begin het.”

Een van die vernaamste doelwitte met vanjaar se fees was volgens Peach om ’n omgewing te skep waar verskillene kunsvorme nog nie voorheen ervaar is nie.

“Ons wou graag die kunservaring verbreed. Ons het vir seker daarin geslaag. Mense geniet die ervaringskuns (experiential art) wat verskillende perspektiewe op die lewe bied.”

Meer oor:  Vrystaat Kunstefees  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.