Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Nuwe voorsitter van Vrystaat Kunstefees is gekonfyt
De Villiers Brink

De Villiers Brink, wat Annalize Dedekind as voorsitter van die Vrystaat Kunstefees se bestuurskomitee opvolg, het ’n lang verbintenis met die kunste.

Dié argitek en eiendomsontwikkelaar het reeds in 1984 saam met Derek Ochse, destydse UV-musiekdosent en konsertmeester van die Vrystaatse Simfonieorkes, die Ou Presidensie-konserte begin.

In 1987 is Brink as ’n direkteur van die Streekraad vir die Uitvoerende Kunste in die Oranje-Vrystaat (Sukovs) aangestel, ’n pos wat hy tot 1996 beklee het, die laaste jaar as voorsitter. Sedert 1994 is hy ’n trustee van die Kunstetrust, waarvan die eerste 14 jaar as voorsitter was.

Brink, wat die afgelope sewe jaar ’n lid van die Vrystaat Kunstefees se bestuurskomitee was, sê hy het tans geen groot planne vir die fees nie.

“Ek wil nie die wiel herontwerp nie. Die fees het ’n natuurlike groeipatroon wat elke jaar verbeter. Ná elke fees word dit deurtrap en ontleed sodat foute nie herhaal word nie, maar eerder daarop verbeter word.”

’n Aspek waaroor Brink sterk voel, is borgskappe, oftewel, “die waarde wat borge in ruil vir hul geld kry”.

Hy sê befondsing vir die kunste word in die huidige ekonomie al hoe moeiliker, daarom word ’n teenprestasie vir die borge al hoe belangriker.

Brink se eerste jaar as voorsitter val saam met die 20ste verjaardag van die kunstefees wat volgens hom “ ’n groot mylpaal is wat 20 jaar gelede nie na ’n realiteit gelyk het nie”.

Hy het tog die gordyn effens gelig oor die vooruitsigte vir volgende jaar: “Daar is groot belangstelling uit die buiteland vir die fees in 2020, maar dit sal beslis nie inbreuk maak op die nasionale produksies nie.”

Dedekind was op haar beurt van 2010 ’n bestuurskomiteelid en van 2012 die voorsitter.

Sy sê met die koms van die huidige feesdirekteur, Ricardo Peach, in 2014 uit Australië is die Vrystaat Kunstefees tot ’n internasionale fees uitgebou wat nou in werklikheid drie feeste in een is – die hooffees, die Vrynge en die literatuurfees.

Sy sê sy was “bevoorreg om deel te wees van die ontwikkeling tot ’n multikulturele en veeltalige fees wat ’n verskil nie net in die Vrystaat maak nie, maar ook buite die landsgrense”.

Meer oor:  Vrystaat  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.