Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Om in Bloemfontein te woon en werk, is al te lekker

Bloemfontein is vir Chris Vorster en Dion van Niekerk, nou kollegas by die Universiteit van die Vrystaat se dramadepartement, ’n toevlug ver weg van die mallemeule van sepies, die filmbedryf en groot stede.

Die akteur Chris Vorster en regisseur Dion van Niekerk, kollegas by die Universiteit van die Vrystaat se dramadepartement, gesels oor die lewe in Bloemfontein. Foto: Conrad Bornman

Dié teaterduo het onlangs Die hart verklap, ’n spel-binne-spel-stuk wat geskoei is op The Tell-Tale Heart, Edgar Allan Poe se kortverhaal, geskep. Dit wys tans by die Vrystaat Kunstefees.

Vorster, dosent in rolprentgeskiedenis, sê dit is presies die stad se verwyderde ligging wat hom en sy gesin hierheen gelok het.

Hy moes onlangs drie maande lank in die Kaap wees vir werk, en het elke oomblik verpes.

“Ek het dit só gehaat – die energie, die karre, die lug, die mense, die verkeer.”

Ook Van Niekerk het nie kans gesien vir die Kaap óf Gauteng nie. “Bloem is vir my perfek, dit is so tussen ’n stad en ’n dorp.”

“Dis eintlik ’n baie klein dorpie met groot malls,” skerts Vorster.

Die hart verklap gaan oor ’n akteur wat besig is om vir ’n stuk te repeteer, en dan moet hy hoor sy regisseur gaan nie opdaag om hom te help nie. Vir akteurs is ’n regisseur ’n vangmat en dit is ook wat Van Niekerk met dié stuk vir hom was, sê Vorster.

“Omdat ons albei gewoond is aan teaterskep gooi ons idees rond en dan vat een dit ’n bietjie verder en so aan, so dis ’n baie organiese proses.”

Hy was bekommerd oor of sy 50-jarige ledemate saam sal werk.

“Hoe ouer jy raak, hoe meer worry jy oor woorde en klein, simpel goed. Dié keer het ek geworry oor my lyf, of dit gaan kan hou.”

Beide is voorstanders van om jou eie werk te skep en dít is ook wat hulle aan studente wil oordra. By die dramadepartement kry hulle deesdae ’n ander soort student as in die verlede, sê Vorster.

“Die hele demografie het natuurlik verander, so dis hoekom ouens soos Dion gekom het wat baie meer fokus op die maak van skeppende teater.”

Daar is altyd iemand wat iets te make het met dié stad, sê Vorster.

“Maak nie saak wie of waar jy is nie, iemand gaan altyd ’n verbintenis met Bloemfontein hê.”

  • Die Hart Verklap wys vandag om 10:00 en weer môre om 13:00 in die kykNET-Scaena en kos R100 per persoon.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.