Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
‘Pres. Cyril het straks nog ’n ysterhand’

Terwyl die politieke ontleders Pieter du Toit en Max du Preez op die fees in gesprek met Ruda landman was oor die stand van sake ná die verkiesing, is die stryd daar teen pres. Cyril Ramaphosa verskerp.

Ruda Landman gesels Vrydag met die ontleders Pieter du Toit, van News24, en Max du Preez, van die nuut-herleefde Vrye Weekblad, in die ATKV-boekeoase. Foto: Conrad Bornman

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, het gister beslis Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het hom aan verskeie oortredinge skuldig gemaak, onder meer vir die totstandbringing van die sogenaamde “rogue”-eenheid in die SAID.

Die ATKV-boekeoase was tot oorlopens toe vol met feesgangers wat wou weet hoe die vooruitsigte vir die volgende vyf jaar ná die verkiesing lyk terwyl die ligte letterlik afgeskakel word.

Du Toit, van News24 , en Du Preez, van Vrye Weekblad, het gefokus op faksiegevegte, die beweegrede agter die groeiende swart middelklas se passie vir die EFF, en die hoop in “suiwer leiers” wat ’n reuse-taak voor hulle het.

Mondli Makhanya, redakteur van City Press, sou ook deel van die paneel uitmaak, maar kon dit op die nippertjie nie meer bywoon nie.

Hier is ’n ding wat ons nie maklik verstaan nie. Dit gaan oor simboliek en trots.
Max du Preez

Beide Du Preez en Du Toit het groot hoop vir Shamila Batohi van die nasionale vervolgingsgesag en meen dis net ’n kwessie van tyd voordat omstrede leiers soos Ace Magashule aan die kaak gestel word.

“Boeke soos Gangster State is net ’n boek in Exclusive Books totdat die Valke met hulle verslag kom,” het Du Preez gesê.

Omdat Batohi ’n herhaling van die Estina-verhoor wil vermy nie, wag sy vir die Valke vir ’n suksesvolle hofsaak.

Die simboliek agter grondonteiening het ook onder die loep gekom.

Max het gesê baie EFF-ondersteuners is stedelinge en studente, maar is vuur en vlam oor onteiening sonder vergoeding.

“Hier is ’n ding wat ons nie maklik verstaan nie. Dit gaan oor simboliek en trots.”

Dit gaan volgens hom meer oor ’n strafmaatreël om grond by wit mense af te vat.

“Dit is ’n gevaarlike stelling, maar baie mense wat aktief vir grondherverdeling stemming maak, sê dit moet gesien word dat dit afgevat word van wit mense.”

Du Toit sê dié woede is aangevuur deur die verlore dekade met Jacob Zuma waarin daar op talle terreine nie vooruitgang gemaak is nie.

“Daai agterstand is uitgebuit deur die EFF.”

Die EFF beweeg volgens Du Preez ál nader aan die Magashule-faksie in sy taktiek.

“Hy begin nou skielik ’n Tom Moyane verdedig, en nou skielik die obenbare beskermer, want hulle het gedeelde belange.”

Die vraag is: Het die jare in die sakewêreld hom verander of is daar nog ’n ysterhand in hierdie fluweelhandskoen? Ek vermoed so.
Max du Preez

Die Magashule-faksie wil in beheer bly van die patronaatskap van bevoordeling.

“Want dit is wat Zuma destyds gedoen het. Nou is die Ramaphosa-hervormingsgroep nominaal, maar hy kan nie sy sleutelmense nomineer nie,” sê Du Toit.

Du Toit meen Ramaphosa is te huiwerig om hom te beroep op die magte wat die Grondwet hom gee.

“Maar sy mag is die heeltyd onderhewig aan die party se besluite, so hy het nie die beweegruimte wat ons dink hy het nie, maar hy het tóg meer as wat hy dink hy het.”

Ramaphosa het sedert Februarie verlede jaar al die staatsondernemings skoon gemaak, en dit is baie belangrik, het Du Preez gesê.

“Hy het al die skelms skoongemaak en Shamila Batohi en Hermione Cronjé by die nasionale vervolgingsgesag ingesit van wie ons vuurwerke kan verwag enige dag nou.”

Ons frustrasie as burgers, het Du Preez gesê, is dat ons ’n president met ruggraat soek.

“Dis nie sy styl nie. Ek het hom in 1983 leer ken. Hy was ’n jong leier van die Nasionale Unie van Mynwerkers. Hy is ’n meedoënlose mens. Hy is ’n geweldige strateeg. Die vraag is: Het die jare in die sakewêreld hom verander of is daar nog ’n ysterhand in hierdie fluweelhandskoen? Ek vermoed so.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.