Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Produksies op die hooffees én spel op die Vrynge beïndruk

Die toneelstukke Huishou, Katvoet, Die voordele van eierwit, Kamphoer en My seuns is Donderdag deur ’n paar teaterkenners as die uitstaanproduksies bestempel.

Sandra Prinsloo lewer ’n kragtoer in die drama Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell. Foto: Mlungisi Louw

Ook die standaard van die akteurspel op die Vrynge het lof ingeoes.

Johan van Lill, sameroeper van die kykNET Fiësta-toekennings, sê hy kan uit die aard van sy posisie nie stukke uitsonder nie, maar sê die gehalte oor die algemeen was goed.

“Die omvang en verskeidenheid van die produksies het opgeval. So ook die waagmoed met van die temas.

“Ek was beïndruk met dit wat ek op die Vrynge gesien het. Die jonger stemme se aanbiedinge was meer afgerond. Jy kon die talent waardeer. Daar was goeie groei op die Vrynge,” sê Van Lill.

Volgens prof. Nico Luwes, ervare regisseur en skrywer, het Katvoet se ensamblespel hom opgeval. “Dit is baie lewensgetrou en jy kan sien dis hande wat weet wat hulle doen.”

Luwes sê hy was verras met Die voordele van eierwit.

“Mense ken die aktrises (Marion Holm en Margit Meyer-Rödenbeck) vir hulle hoë energievlakke en luidheid op die oor in hulle eenvroustukke. Maar hier was dit tot op die been gestroop. Baie mense kan met dié familiedrama identifiseer.”

AJ Opperman, kunsjoernalis van Netwerk24 in Johannesburg, sê Huishou, My seuns, Kamphoer en Die voordele van eierwit is van hoë gehalte.

“Ek is beslis tevrede met wat hier aangebied word, want ’n kunstefees moet verskeidenheid hê. Dis lekker dat feesgangers ook die letterkunde kan ervaar. Dis goed dat gerekende buitelandse dramaturge, baie al ontslape, op die fees in Afrikaans gehoor kan word. Name soos Edgar Allen Poe (Die hart verklap), Arthur Miller (My seuns), Tennessee Williams (Katvoet) en Eugène Ionesco (Die koning sterf).”

Christelle le Roux, ’n gerekende teaterkenner wat etlike produksies op al die kunstefeeste sien, sê sy was oudergewoonte ingenome met die aanbiedinge op die Reza de Wet-tienertoneelfees.

“Op die hooffees is Huishou net van so ’n ongelooflike hoë standaard. Dis hoe teater moet wees. Hulle is nie bang om goed kaalvuis aan te vat en op ’n eerlike manier uit te beeld nie.

“Katvoet verdien ook melding.

“Die standaard van die spel op die Vrynge, nie noodwendig die produksies self nie, was indrukwekkend,” sê sy.

Meer oor:  Vrystaat Kunstefees  |  Kamphoer  |  Bloemfontein  |  Vrynge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.