Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Sangeres onttrek aan feesstuk oor ‘suggestiewe bemarking’

Die Bloemfonteinse sangeres Cézanne Yzelle kon nie haarself “op twee teenstrydige verhoë” plaas nie.

Sy kan nie Sondae op die verhoog aanbidding in die kerk lei en ook in ’n produksie sing waarin sy nie gemaklik is nie, vertel sy.

Cézanne Yzelle Foto: Argief

Daarom het Yzelle onttrek aan die kabaret Burrrlesque wat as deel van die Vrynge (die Vrystaat Kunstefees se rimpelfees) aangebied is.

Dit is die rede waarom Yzelle se naam by die produksie op die feesprogram verskyn, maar sy nie op die verhoog te sien was nie. Die program word maande voor die tyd gedruk.

“Dit was ek wat ’n morele standpunt moes inneem, omdat ek nie ’n tweegesig kan wees nie.”

Yzelle sing in die orkes van die Afrikaanse Baptiste-kerk in Bloemfontein.

Sy het uit die staanspoor geweet die produksie is in burlesk-styl, maar het haar grense ook van meet af aan gestel en gesê sy is nie gemaklik met enigiets suggestief nie, sê Yzelle.

Die produksie se bemarkingsmateriaal het haar in ’n “ongemaklike lig” geplaas.

Sy verwys na materiaal wat in die Vrystaat Kunstefees se programboek verskyn het en wat volgens haar suggestief is. Sy was egter nie self op dié materiaal nie.

Sy moes haar naam beskerm, sê sy.

Soos Burrrlesque in die Vrystaat Kunstefees se program vertoon is. Cézanne Yzelle was ontevrede met die grafiese voorstelling van die produksie.

“Die publiek se persepsie van die produksie was negatief teenoor my. En ek kon nie my naam daarmee vereenselwig nie.”

Sy het onttrek nog voordat sy die teks gesien het en hulle daaraan begin oefen het.

Yzelle sê dit was wankommunikasie en ’n misverstand in bemarking. Sy sê sy is nie oor die bemarkingstrategie ingelig nie, maar meen dit was dalk weens hoëdruk-omstandighede.

Sy en Xander Steyn, die regisseur, het al baie saamgewerk.

Sy is vol lof vir Steyn en almal wat by die produksie betrokke was.

Volgens die produksie se beskrywing in die programboek is dit “gevul met sexy dansers en uitstekende sangers”. “Kom sit terug en geniet ’n sensasionele, sintuig-gedrewe, sexy, soet en sappige klub-ervaring.”

Yzelle benadruk dat sy self die besluit geneem het om haar te onttrek.

“Die kerk het my genader en uit liefde met my gepraat. Ek is gevra om my deelname asseblief te heroorweeg, want ek kan nie albei doen nie (dit en deelname aan die kerk se orkes).

“Dit was eintlik net die push gewees om te onttrek,” sê Yzelle. Sy het dit nie as druk van die kerk op haar ervaar nie.

“Dit was ’n gesprek tussen my en Debbie Brink, die musiekkoördineerder (van die kerk), wat daartoe gelei het dat ek nie myself op twee verhoë kon plaas wat teenstrydig met mekaar is nie.”

Die kabaret Burrrlesque op die Vrystaat Kunstefees. Dr. Ricardo Peach, feesdirekteur, sê dié vertonings het ’n goeie opkoms gehad. Foto: Vrystaat Kunstefees

Helgard van Schalkwyk, voorsitter van die Afrikaanse Baptiste-kerk in Bloemfontein, sê volgens hul inligting was dit ’n persoonlike besluit deur Yzelle.

Dr. Ricardo Peach, feesdirekteur, sê dit was wonderlik om Burrrlesque as deelvan die feesprogram te hê en dat dit tot die fees se diversiteit bygedra het.

“Ons ondersteun die volle diversiteit van die kunsvorme, ook dié wat meer volwasse van aard is,” sê Peach.

Volgens Peach is dié produksie baie goed op die fees ondersteun.

Hy sê burlesk is ’n baie ou en bekende literêre, dramatiese en musikale tradisie.

Die produksies stuur self hul bemarkingsmateriaal vir die fees in.

“Uit die fees se oogpunt is daar niks met hul bemarking verkeerd nie.”

Hy sê die fees het verseker die produksie het ’n gepaste ouderdomsbeperking. Volgens die feesprogram was die ouderdomsbeperking 16 met ouerleiding weens naaktheid.

Xander Steyn wou by navraag geen kommentaar lewer nie.

Die Burrrlesque-vertoning op die Vrystaat Kunstefees. Foto: Vrystaat Kunstefees

Meer oor:  Bloemfontein  |  Vrystaat Kunstefees  |  Vrynge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.