Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Sjaka, die nar met die hart van ’n digter

Die teaterskepper Sjaka S. Septembir is terug op die toneel met ’n nuwe aksieavontuur, Nag van die slang-uil, wat deel vorm van Snelstroom – ’n virtuele proeflopie van die Vrystaat Kunstefees.

Septembir vertel dat dié speurstorie, waarin ’n held sterk staan en in kletsrym praat, ironies genoeg uit teëspoed gebore is.

Sjaka S. Septembir as speurder Gert in ‘Nag van die slang-uil’.

Net nadat Septembir en sy eerste vrou se paaie geskei het, was hy platsak in Kaapstad. Hy het ’n vriend se huis opgepas en in dié huis is die storie gebore.

“Die huis waarin Gert ‘Staal’ Geldenhuys bly, is die huis wat ek opgepas het. Ek het sommer in die sitkamer gerepeteer. Ek wou in die donker tyd waarin ek my bevind het juis aan iets ligs en prettigs werk.”

Septembir se vorige aksiekomedie, Bal-oog en Brommel, wat ook as ’n strokiesprentboek verskyn het, het verlede jaar twee Fiësta- en drie Fleur du Cap-benoemings losgeslaan.

Toe kom die uitnodiging om weer op die Toyota US Woordfees te speel, en ander feeste het hulle ook gevra vir ’n opvolg. Toe beseer Richard September (Baloog) sy skouer. “Ek het toe weer na my teks van speurder Gert ‘Staal’ Geldenhuys gaan kyk. Ek het elke oggend vroeg opgestaan sodat ek twee ure kon repeteer en skryf en so kry Staal se Boere-noir-storie uiteindelik toe lewe.”

Sjaka S. Septembir

Teatergangers wat inskakel op Snelstroom, die virtuele platform, kan hulself regmaak vir fisieke teater in die styl van Andrew Buckland, Floyed de Vaal en Rob van Vuuren. Septembir vertolk verskeie karakters.

“Dit is ’n unieke styl wat hulle begin het. Dit sorg dat die gehoor ’n filmiese ervaring het, dit wakker mense se verbeeldings aan, want die gehoor skets self die wêreld.” Septembir is saam met Gertjie Besselsen (van die innoverende musiekgroep Mr Cat & The Jackal-faam) op die verhoog.

“Hy maak die musiek en ons speel ‘van mekaar af’. Daar is dele waar ek mooi moet luister na wat hy musikaal doen en inval, en dan is daar dele waar hy reageer op my toneelspel.”

Vir Snelstroom is die stuk verfilm en dit was nogals ’n uitdaging, omdat die twee in verskillende dele van die land woon.

“Gertjie was in die Kaap en ek is in Bloemfontein, so die proses om ’n verhoogstuk op kamera vas te vang, was ’n storie. Staal is ’n speurder wat ook kletsrym, so daai dele was veral ’n storie, maar Gertjie het steeds plekke waar ek aangejaag het met sy geniale aanvoeling en musiek gered.”

Nag van die slang-uil is ’n mengsel van Septembir se gunsteling-genres: strooifiksie (pulp), speurverhale en strokiesprentverhale, en dan was die radioheld Staal Burger van destyds ’n reuse-invloed.

Hy het Bal-Oog en Brommel geskep vir die tienermark. Daar is baie min vir dié teikengroep op die planke, meen hy. “Hulle is ’n opwindende gehoor. Hulle kan ernstig oor sake dink, maar terselfdertyd het hulle nog daai energieke, spelerige energie van ’n kind. Ek was verbaas oor hoeveel ouer mense ook versot was op Bal-Oog en Brommel se avonture. Ek glo dieselfde geld vir Staal.”

Hy hoop om Nag van die slang-uil ook in ’n strokiesprentboek te omskep, want hy glo kinders word deur rolprente en strokies bereik. “Die Nasionale Kunstefees is baie suksesvol met hul skolefees en lok tieners. Wie weet, dalk kan dit ook ’n prent word. Ons is wel genader om dit in ’n reeks vir die internet te omskep.”

Hy is ’n nar met die hart van ’n digter, sê Septembir, al het Jim Morrison van The Doors gesê: “I am a poet with the heart of a clown.”

“Ek het ’n roman ingestuur vir die Groot Roman-wedstryd, so ek hou duimvas. Ek het nuwe teatervoorleggings na die kunstefeeste gestuur. Een van hulle is die opvolg van Nag van die slang-uil, naamlik Slot en grendel, waarin speurder Staal en inspekteur Daniels (ek het vir Carlo Daniels genader om saam met my te speel) vir prof. Menkil in Bloemfontein moet opspoor. Sien, prof. Menkil sit agter die skep van die koronavirus. Dis nog ’n pulp-Boere-noir-avontuur – dieselfde goed waarin Quentin Tarantino hom so verlustig. Dis vir my ’n lekker afwisseling teenoor die meer ernstige stukke wat ek skryf.”

Al die werk wat hy doen, het aspekte van die nar in. Die nar is vir hom ’n weerlose karakter.

“Jy kan nie waarlik ’n nar wees – in die ware sin van die woord – sonder om jouself totaal en al weerloos te maak nie. Hierdie tipe nar word jy deur ’n opleidingsproses waar jy jou innerlike kind weer herontdek. Hierdie nar leef altyd in die hede en dra sy gevoelens op sy mou. Net soos Charlie Chaplin of Buster Keaton. Dit gaan nie oor ’n narpakkie en ballonne nie – soos Stephen King die nar benader nie! Eendag sal ek ’n suiwer narvertoning wil doen.”

Die inperking het baie tyd vir skryf en skep beskikbaar gemaak en hom ook gedwing om na Bloemfontein in die Vrystaat te trek. “Ek kon byvoorbeeld my roman klaar redigeer en is so opgewonde daaroor! Ek sit met nog drie ongeredigeerde romans, so ek geniet die afskakel van al die besige gejaag om oorlewing. Ek geniet dit dat mens gedwing is om te kyk na wat vir jou belangrik is. My wonderlike vrou, Isabelle Grobler – ’n kunstenaar, se ouers het ’n plaas hier. Ek het nooit gedink ek sou Vrystaat toe trek nie, maar dit het vir my die geleentheid gebied om te kan deelneem aan die Snelstroom-projek.”

As kunstenaar voel hy dat baie kunstenaars leef die heeltyd asof hulle met so ’n pandemie soos die koronavirus moet saamleef.

“Ons lewens is altyd onseker, ons weet nooit of die volgende droom – waarop ons ons hele hart en siel wed – gaan platval of gaan werk nie. Ons as kunstenaars pak al hierdie onsekerhede dag ná dag aan. Ek glo dat ons vir baie mense in die besigheidswêreld kan leer van grit, van deursettingsvermoë en, bowenal, hoe om met onsekerheid saam te leef.”

Vorentoe wil hy geraas maak, soos sy vriend Caltex Omega altyd opgemerk het: “Wie nie raas nie vind nie plaas nie.”

“Die lewe en die dood loop hand aan hand, en die virus bring die kosbaarheid van ons tydjie op die aarde weer duidelik by ons op. So ek wil soveel “geraas maak” en “plaasvind” voordat ons gaan tent opslaan in Koos Doep se sprokies-hiernamaals. Geraas maak in die sin van nog teater skep, dalk ’n film maak, nog boeke voltooi, nog comics uitbring – ek brand om ’n digbundel te publiseer! Ek wil met my geraas ’n stukkie son in mense se harte laat skyn.”

• Dit produksie is tot 31 Julie beskikbaar. Gaan na https://www.satod.co.za/snelstroomsluipkyk

Meer oor:  Vrystaat Kunstefees  |  Sjaka S. Septembir  |  Teater  |  Nar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.