Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Sluipkyk aptytwekker vir VS Kunstefees

Snelstroomsluipkyk – wat ’n prikkelende woord, ’n lokmiddel wat jou dwing om uit te vind wat daaragter skuil, want skeppers wat so ’n opskrif kan bedink, het waarskynlik veel meer te bied.

Inderdaad. Snelstroomsluipkyk is die opskrif vir die Vrystaat Kunstefees se aanlyn toetslopie met ’n verskil vir sy volledige feesaanbieding in Oktober vanjaar.

Volgens die feesdirekteur Ricardo Peach is die opnames nie die gewone wat tans op allerlei platforms op sosiale media en webwerwe te sien is nie.

“Ons het geëksperimenteer met opnames wat die werklikheid van ’n verhoogoptrede meer getrou weerspieël en ekstras wat die kyker ’n meer persoonlike belewenis bied.”

Michael Garbett, die fees se programbestuurder, sê Sluipkyk is enersyds ’n aptytwekker vir die Vrystaat Kunstefees se aanlyn aanbiedings, en andersyds ’n manier om gebruikersvriendelike betaalpunte uit te toets. Hy voeg by dat die fees se “vennootskappe met Rooistoel, Creative Kilowatt en die sosiale media-onderneming Think, ’n belangrike rol speel in die ontwikkeling van die platforms.

Benewens die feesbestuur is Cornelia Faasen en haar span by die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), asook De Villiers Brink, die voorsitter van die Vrystaat Kunstefees, nuuskierig oor die projek wat vanaf 16 Junie tot 18 Junie aanlyn besoek en daarna gestroom kan word.

Brink sê die Vrystaat Kunstefees­ is met die inisiatief besig om hom vinnig aan te pas by die nuwe sakemodelle waartoe die korona-pandemie kunsteorganisasies dwing. “So sit terug, skakel in en geniet dit.”

Snelstroomsluipkyk skop af met die kindertoneelstuk Toeks & Tielman wat maatjies nooi om saam te sing en dans. Die skepper, regisseur en aktrise wat Toeks vertolk, is Lize-Maré Markgraaff. Tielman word gespeel deur Neels Vorster. Ná die opvoering sal die spelers vrae beantwoord.

Dit kos R30, “open” op 16 Junie om 10:00 en is daarna steeds beskikbaar.

Ilne Fourie is in die komedie Grendel-giggel te sien.

Gif/Poison/Ityhefu is ’n aangrypende verhaal met Tinarie Van Wyk Loots en Atandwa Kani (akteurseun van die bekende John Kani) as die ouers wat jare ná hul kind se dood by sy graf ontmoet. Die pa het intussen aanbeweeg, die ma nie. Willem Anker het die bekroonde Nederlandse skrywer Lot Vekemans se teks in Afrikaans vertaal. Die stuk kan gestroom word.

Nuusmakers deur Charles Smith is ’n samevatting van dié joernalis se beste artikels, stories, rubrieke en foto’s oor drie dekades. As joernalis by Volksblad in Bloemfontein het hy oor 30 jaar veral mensestories vertel. Daar is stories oor ’n kaalvoet boeretannie wat op 75 stoksielalleen geboer het, oor slangkerke in Amerika, en die twee seuns, wit en swart, van Hennenman wat die helde was met die treinramp in 2019. Hy gesels met Dirk Kok van Volksblad.

Dit duur 60 minute, kos R30 en kan op 17 Junie om 11:00 die eerste keer gestroom word. ’n Vraag-en-antwoordsessie volg ná die uitsending.

In Where the Poets are bied vier plaaslike digters hul werk aan. Shiamo­ Malatji, Oratile Molale, Ntaoleng Patience Labane en Mpho Thulo skep ’n eklektiese mengsel van verse.

Dit duur 40 minute, kos R30 en is van 18 Junie om 15:00 aanlyn beskikbaar.

Grendel-giggel Volume 1 is ’n samestelling van Ilne Fourie se gunsteling-sketse wat meestal die humoristiese sy van gebeure belig. Sy is self die aktrise in die solokomedie en vertel van ’n mislukte noodhulpkursus, tannies met trollies in die Pick n Pay, hoe om die perfekte lockdown-lyfie te kry en wat gebeur het die dag toe Iris opgestyg het.

Dit duur sowat 30 minute, kos R40 en het sy première op 17 Junie om 18:00 met ’n vraag-en-antwoordsessie daarna.

Stroming sal daarna geredelik beskikbaar wees.

  • Die produksies is beskikbaar op die webwerf www.vrystaatkunstefees. Klik op Snelstroom sneak peak vir toegang tot die uitsendings.
Meer oor:  Aanlyn  |  Vrystaatse Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.