Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Uiteenlopende en gratis aanbiedings op Vrynge
Andrea Rodolfo Venzor en Sébastien Lange wat die Los Muertos-aanbieding op die Vrystaat Kunstefees sal lei.

Die Vrynge is ’n skatkis van wonders wat nie kan wag om ontsluit te word nie. Op dié rimpelfees van die Vrystaat Kunstefees is juwele van hartseer en harmonie op die toneel- en musiekverhoë, rieldans tot ballet op die dansverhoog, kortfilms op die Vlieksskerm en werksessies waarvoor jy nie eens ’n lampie, of jou beursie, hoef te vryf om dit te geniet nie. Van die aanbiedings sal jou nie ’n sent kos nie en tog sal jy skatryk daar uitstap.

* Een van die talle gratis geleenthede is Los Muertos, ’n Mexikaanse konsep wat voorheen met groot sukses in Mexikostad aangebied is, en waaraan enige feesganger in Bloemfontein kan deelneem.

In Los Muertos (die dooies) vertel elke deelnemer sy lewensverhaal, hoe hy sterf en hoe hy sy lewe sal verander as hy sou kon terugkeer.

’n Professionele regisseur, die Fransman Sébastien Lange, en ’n dramaturg is in beheer van die projek wat eksperimenteel ontwikkel word om op volgende jaar se fees opgevoer te word. Al is jy nie ’n opgeleide akteur nie, kan jy volgende jaar jou buiging in ’n vertoning maak.

Telon de Arena, ’n kunsdekor-maatskappy in Mexiko, bied die vertonings met ’n maatskaplike doel aan.

5 Julie, 14:00 tot 18:00, Vryngeplaas.

* ’n Briljante konsep is die Lo-Def Filmfabriek wat mense die kans gee om ’n eie filmtoneel te skep en dit nog dieselfde dag te sien. Francois Knoetze, bekend vir sy uit-die-boks-denke, sê hy sal sy toegeruste trokkie op Hoffman-plein en by die Heideskool parkeer, waar hy ’n tydelike ateljee gaan opslaan. In die trokkie is kostuums en rekwisiete wat gebruik kan word vir die film, en ’n rekenaarwerkstasie vir die prosessering.

Karakters in Los Muertos,wat in Mexikostad opgevoer is.

Die konsep, optrede en verfilming deur die deelnemers, asook die redigering en vertoning gebeur alles in ’n enkele dag. Ná die dag se proses sal die vertonings plaasvind op dieselfde plek waar dit verfilm is.

1 en 2 Julie om 09:00, vertoning om 16:00 op Hoffman-plein; 3 en 4 Julie dieselfde tye by Heideskool. Op 13 en 14 Julie sal die films ook in die UV se filmateljee vertoon word.

* Punctum’s Transit Lounge, ’n kunsorganisasie op ’n klein dorpie in Australië, doen dinge op ’n ongewone manier en gaan plaaslike feesgangers die geleentheid gee om ook daaraan deel te hê.

Punctum se artistieke direkteur, Jude Anderson, en bestuurder, Adrian Corbett, gaan ’n tydelike woonkamer inrig waar belangstellendes oor hul kunsprojekte en -planne kan gesels. Belangstellendes word genooi om hul kennis en vernuf vir toekomstige projekte te deel terwyl die aanbieders dieselfde sal doen.

Tussen die uitruil van gedagtes oor transdissiplinêre praktyke sal verversings verskaf word.

3 Julie om 10:00; 4 Julie om 12:00, Vryngeplaas.

* Akteurs en ander feesgangers wat verhoogsgevegte met onder meer swaarde, lanse, skermdegens, spiese en wat nog wil leer, asook periode-bewegingstyle en ander tegnieke, kan ’n meesterklas deur ’n professor van die VSA bywoon. Tiza Garland is van die Universiteit van Florida en ’n internasionale kenner van fisieke teater.

3 Julie om 08:00, Vryngeplaas.

DADAA, ’n Australiese organisasie wat die bewustheid van kuns en gesondheid/gestremdheid bevorder en reeds honderde mense se lewens positief verander het, sal ’n intensiewe werksessie op die Vrystaat Kunstefees aanbied. David Doyle, die dryfgees en uitvoerende hoof van DADAA, sal self die sessie fasiliteer en deelnemers vertel wat dit beteken om ’n gesondheidswerker te wees en waarom dit ook vir Suid-Afrika belangrik is.

1 Julie; plek en tyd moet nog bevestig word.

Daar is nog gratis aanbiedings. Besoek die webwerf, vrystaatkunstefees.co.za, of skaf die programboek aan en vind dit onder lewende en interdissiplinêre kuns, visuele kunste, Vrynge en Piad. Die literatuurfees se aanbiedings kos net R25 en sluit hier en daar selfs ’n glasie wyn in.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.