Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Vele juwele van nuwe stemme op Vrynge
Die bekroonde Jefferson J. Dirks-Korkee se nuwe stuk, Help vir Henna oor die highway, debuteer op die Vrynge.

Op die Vrynge-program soek jy verniet na “groot” akteursname soos Sandra Prinsloo, Albert Pretorius, Frank Opperman, Marius Weyers, Cintaine Schutte of Brümilda van Rensburg. Hulle kry jy op die hooffees, dikwels in meer as een produksie, en dit is dié kaartjies wat eerste verkoop.

Op die Vrynge, oftewel die Vrystaat Kunstefees se rimpelfees, sal jy produksies vind wat jou net so aangryp, laat lag of tot trane dryf al is in die rolverdeling nie ’n enkele naam wat eens ’n klokkie lui nie.

Michael Garbett, die Vrynge-koördineerder, sê dié deel van die fees is ’n platform vir spraakvryheid, ’n heenkome vir jong mense en onbekendes wat iets te sê het, maar nêrens aanvaar word nie omdat hulle nie onder die grotes tel nie.

Soos reeds bewys is, het van dié werke al pryse voor hooffeesproduksies opgeraap.

Moeilike temas word vanjaar in toneelopvoerings belig soos selfdood, geestesongesteldheid en diskriminasie. Identiteit, konflik, geslag en politiek word ook verken en sal “gehore verstom laat”, sê Garbett. Maar daar is ook dié wat sommer net prettig is.

Neem byvoorbeeld #Actorslife. Dit is ’n komedie-drama wat die identiteit en persoonlike verhoudings van akteurs in die rolprent- en teaterbedryf ondersoek. Estelle Terblanche het die teks geskryf en is ook die akteur wat @christinetheactor uitbeeld, en daarmee saam die kompleksiteit van vrouwees in ’n wêreld wat vroue dikwels kommersialiseer, verafgod of ignoreer.

Chaos tot kuns is Sunel Gilliland se solovertoning oor ’n vrou wat haar volgende verjaardag vrees, want geen van haar planne vir die vorige jaar het uitgewerk nie. Sy besef dan al die flops dra eintlik by tot ’n wonderlike kunswerk.

Francie en haar foon is een van die verrassings wat op die Vrynge te sien is.

Loané van Sandwyk takel op ’n humoristiese wyse die selfoon-probleem. In Francie en haar foon sukkel Francie om haar fotografie-onderneming aan die gang te kry. “Niemand sharehaar posts nie en haar likesstagneer. Sy kry ’n slegte reviewwat haar lewe skielik off-line laat voel en haar suster sê sy is getroud met haar foon. Dalk is daar iets te leer uit Francie se poging om haar probleem op sy kop te keer.”

Jefferson J. Dirks-Korkee is geen nuweling nie. Hy is selfs op vanjaar se US Woordfees vir sy solostuk Rooilug met ’n woordTROfee bekroon, maar Help vir Henna oor die highway is ’n nuwe stuk wat hy self geskryf en ontwerp het, self regisseer en waarin hy die enigste akteur is. Die Vrynge is dus die ideale platform om die stuk te toets.

“Henna wil met niemand deal nie, want hoe meer sy met mense praat, hoe meer like sy diere. Sy wil net met haar gedagtes deal, dis haar beste vriend. Almal wil vir Henna help, maar sy wil nie gehelp word nie. Henna wil self oor die highway stroll.”

Vir die prys van een vertoning gee die skrywer en akteur Jeremeo Le Cordeur twee – Jerry, an Unconventional Hero en Dude, wa’s my bakkie?

Aksie en fisieke teater geïnspireer deur strokiesprenthelde vul Jerry se lewe. Nou hoe beland dié bleeksiel in ’n ondervragingskantoor? Die bakkie-storie gaan gepaard met “musiek uit die ’90’s en teen die agtergrond van die Kaapse kleurlingkultuur”. Wanneer Dean uitvind sy bakkie is gesteel, gaan hy op reis deur die avonture, liefde en hartseer wat hy saam met sy voertuie beleef het.

Rooikappie se rebellie is nie ’n sprokie nie, dit is die storie van ’n tienermeisie in die 21ste eeu wat haar weg deur die woud van die lewe probeer oopkap. Kom vind uit wie Rooikappie werklik is.

Magnete raak ’n moeilike snaar, dié van bipolêre depressie vertel deur twee mense wat hemelsbreed van mekaar verskil, maar mekaar tog so goed verstaan. Stella Nortier en Raymond Taylor is die akteurs in dié donker komedie deur Jacques Cloete.

“In ’n land vol misdaad vlug baie Suid-Afrikaners na landgoedere en in die geval van Moord, op die 8ste gat na die Kalagarie Golf Estate.” Die aktrise Augusta Zietsman verbeeld die lewe van drie vrouens wat met ’n moord gekonfronteer word, min wetende dat die moordenaar ’n klipgooi van hulle af woon.

Die Bloemfonteinse akteurs Marijda Kamper, Nic Beukes, Isabel Mostert, Thys Heydenrych en ander takel Marcelle Pieterse se sielkundige drama Die portret oor die Le Roux-gesin. Hoekom is Katryn le Roux terug op die dorp? Hoekom is Jannie gestremd? Nog krisisse duik op om die storie en die gehoor tot breekpunt te dryf.

Valentynsdag (nie die movie nie), Op die hoek van die sesde straat, Rooikappie se rebellie, Vasgevang en Before You Fall Asleep is nog ’n klompie Vrynge-produksies wat óf jou hare regop sal laat staan, óf jou gemoed sal sus.

Die keuse is groot, die aanbod die moeite werd om te beproef. En toegang is enigiets van gratis tot nie meer as R100 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.