Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Verwey ná 6 jaar terug op verhoog by kunstefees

Die aktrise Isadora Verwey keer ná ses jaar terug na die verhoog in die absurde drama Die koning sterf oor die mens se obsessie met mag, liefde en die dood.

Dit word drie keer opgevoer by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein wat van 1 tot 7 Julie duur.

Isadora Verwey

Sy was lank nie op die verhoog nie, “maar die wonderlike genade is dat jy net aangaan waar jy opgehou het”, sê Verwey oor haar terugkeer en haar rol as koning Berenger (Gerben Kamper) se eerste vrou, Marguerite, wat hom op sy pad na die dood bystaan.

Nico Luwes is die regisseur van die stuk deur die Franse dramaturg Eugène Ionesco. Bartho Smit het die Engelse teks Exit the King in Afrikaans vertaal.

Dit is ’n komplekse teks,” sê Verwey. “Ek gebruik die woord versigtig. Dit dwing ’n mens om ’n bietjie fyner te kyk, buite die normale gang van dinge.

“Met die teater van die absurde verken Ionesco die obsessies van die mens met groot deernis, verwondering en humor. Die effek van mag op die individu, leierskap en absolute beheer; die gekheid van politieke magsug.”

Verwey meen mense kan dalk skrik vir die woord “absurd”, maar dié soort teater bied die geleentheid om die werklikheid wyer te ondersoek.

Die drama toon die mens se desperate begeerte om te bly leef, aan politieke mag te klou en met nuttelose pogings die wette van die natuur te probeer manipuleer.

“Die absurde gee jou groter vryheid om jou temas met ingeboude humor te ondersoek,” sê Verwey.

Die konings sterf word tydens die Vrystaat Kunstefees opgevoer.

“Dis ongelooflik lekker om hieraan te werk. Ek geniet ensemble, om binne ’n groepverband te werk. Ek hou ook daarvan om saam met jong spelers te werk. Die jeug bring ’n nuwe siening en aanslag. Die teks dwing jou ook om ’n bietjie harder te werk.”

Verwey, dogter van die veteraanakteur Louw Verwey wat in 2008 dood is en ook in ’n vorige produksie van Die koning sterf opgetree het, se loopbaan het op die verhoog begin.

Sy het haar eerste groot verskyning op televisie in die reeks Die Manakwalanners gemaak.

“Ek het voor dit ’n baie klein verskyning elders gemaak.”

Later het sy in reekse soos Erfsondes en Getroud met rugby asook die sepie Villa Rosa gespeel.

“Televisie is ’n totaal ander uitdaging. Dit het ’n eie dissipline en genot. Die kamera is ’n fyn waarnemer. Dit was lekker om dit ook ’n bietjie te kon ontdek, want die meeste van my werk was op die verhoog.”

Verwey het oor die laaste meer as 30 jaar drie keer in Peter Shaffer se toneelstuk Equus opgetree.

“Daar is ’n bepaalde vervlietendheid aan ’n vertoning.”

“Ek was eers die magistraat en later die ma van die versteurde seun, wat myns insiens ’n baie interessante vroulike karakter in die stuk is.”

Equus was ook haar laaste toneelwerk voordat sy aan Die koning sterf begin werk het.

“Dit is toevallig dat ses jaar verbygegaan het sedert ek laas gespeel het, maar ek het heeltyd die idee gehad om eendag weer Kaap toe te trek. Ek is in die Kaap gebore en getoë.”

Sy het die Kaap in 1988 verlaat en by die streeksraad Sukovs in die Vrystaat begin werk.

“Ek wou sien hoe lyk dit anderkant die Oranjerivier, en later ook die Vaalrivier. Johannesburg was ’n ongelooflike en verrykende tydperk in my lewe.”

Verhoogwerk bly vir haar lekker.

“Daar is ’n bepaalde vervlietendheid aan ’n vertoning.”

* Buiten Verwey en Kamper is die ander spelers Peter Taljaard, Hilletje Moller Bashew, Adriaan de Ridder en Jana Coetzer.

* Vertonings in die Wynand Mountonteater is op 1 Julie om 19:30, op 4 Julie om 20:00 en op 5 Julie 11:00. Kaartjies kos R140. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Feeste  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.